Martin Luther (1483-1546) en sy geskrifte

God word vlees: Die misterie van Jesus van Nasaret

Kersfees het ten diepste met die menswording van God te make, terwyl ons in die Epifanietyd die misterie van die teenwoordigheid van Jesus van Nasaret vier. Sowel Kersfees as Epifanie is onbegryplik vir die denkende mens. Volgens die oordeel van die menslike verstand is dit vreemd dat God mens sou wou word en dat ’n persoon wat eeue gelede gelewe het, vandag in ons midde teenwoordig kan wees. Die menswording van God en die tweenatureleer is dinge wat nie met redelike argumente oortuigend vir redelike mense aangebied kan word nie. Hierdie temas val binne die sfeer van die geloof en moet nie as algemene wetenswaardighede aangebied word nie. Martin Luther het twee kort geskriffies opgestel waarin hy verduidelik het hoe daar met hierdie twee temas omgegaan moet word.

Die menswording van Christus

Die geloof dat die Woord vlees, dat God in Jesus van Nasaret mens geword het, is die fondament van die Christelike teologie. Luther het hierdie belydenis ’n heel besondere klem gegee. Waar hy ook al van die evangelie en van die verlossing gepraat het, praat hy daarvan dat God in Christus vir ons mens geword het. Alreeds in 1522 skryf hy in ’n klein boekie getiteld ’n Kort onderrig wat ’n mens in die Evangelies moet soek en kan verwag / Ein kleiner Unterricht, was man in den Evangelien suchen und erwarten soll, dat ’n mens dik boeke oor die lewe en werk van Christus kan skryf. Die baie woorde wat geskryf kan word, kan egter, kort, soos volg, saamgevat word: … kernagtig is die evangelie ’n vertelling van Christus, dat Hy God se Seun en mens is, en dat Hy vir ons gekom, gesterf en opgestaan het en Heer oor alle dinge gemaak is.

Hierdie grondmotief het hy op 11 Januarie 1539 in een van sy kwartaallikse disputasies (strydgesprekke) verder gevoer. Hierdie disputasie is opgeteken in die vorm van 42 stellings en dra die titel Die Woord het vlees geword / Verbum caro factum est. Één eksemplaar van hierdie geskriffie is gelukkig onlangs in die biblioteek van die Universiteit van Kiel ontdek. Die hele bedoeling van hierdie disputasie is om aan te toon dat die belydenis van die menswording van God ’n saak van die geloof is en dat dit buite die besprekingsterrein van die filosofie behoort te val.

Luther neem sy vertrekpunt by die algemene gedagte dat alle waarhede met die ware in ooreenstemming is. Die probleem is egter dat dit nie waar is ten opsigte van die verskillende wetenskaplike dissiplines nie. Stelling 2 lui: In die teologie is dit waar: Die Woord het vlees geword. In die filosofie is dit eenvoudig onmoontlik en absurd. Om hierdie rede val Luther die Rooms-Katolieke Skolastiek aan wat geleer het dat teologie uitmond in algemene filosofiese waarhede. Stelling 4 lui: Die Sorbonne [in Parys], die moeder van alle dwalings, was algeheel verkeerd deur te beweer dat dieselfde dinge wat in die filosofie waar is, ook in die teologie waar is. Dan verder in die 6de stelling: Met hierdie afskuwelike stelling het hulle geleer dat die artikels van die geloof onder die oordeel van die menslike rede gevange gehou moet word. Luther wil dit duidelik maak dat wat filosofies waar is, nie noodwendig teologies waar is nie en omgekeerd. Stelling 15 lui: Weliswaar versteur die teologie die reëls van die filosofie, maar die filosofie deurbreek ook die reëls van die teologie. Stellings 16 tot 26 handel oor die moeilike saak van die sillogismes (die waarheid van stellings) wat hier gelaat word.

Die 27ste stelling is weer belangrik: ’n Mens moet by die artikels van die geloof tot ’n ander dialektiek en ’n ander filosofie oorskakel; dít word die Woord van God en geloof genoem. Volgens Luther is hierdie oorskakeling nie ’n intellektuele probleem nie, aangesien begryp moet word dat die waarheid nie oral dieselfde is en lyk nie (stelling 29). Die feit dat ons belydenis beweer dat die Woord vlees geword het, en dat dít nie ’n algemene filosofiese waarheid is nie, beteken nog nie dat dit nie vir ons as gelowiges waar kan wees nie. Selfs in sekere filosofiese dissiplines word met waarhede gewerk wat nie deur die ander dissiplines aanvaar word nie. Volgens stellings 36 tot 42 het ons die volste reg om belydenisuitsprake te maak, wetende dat die filosofie dit nie as ware uitsprake sal erken nie, maar ook wel wetende dat dit vir die geloof en die teologie waar is, en dat hierdie waarheid ook met reg op waarheid aanspraak kan maak. Ek haal die laaste stelling aan: Die artikels van die geloof moet vanuit die geloof verstaan word, en nie vanuit die verstand van die filosofie nie. Dán sal ’n mens verstaan wat die woorde beteken: Die Woord het vlees geword.

Die twee nature van Christus

Op 28 Februarie 1540 het Luther die misterie van die twee nature van Christus krities gedebatteer. Hierdie disputasie is vir ons oorgelewer in die vorm van 64 stellings onder die titel Oor die Godheid en mensheid van Christus / De divinitate et humanitate Christi. Hierdie stellings is gerig teen Caspar von Schwenckfelds (1489-1561) se Christosofiese leerstellings (sy filosofiese besinning oor die Christologie) soos opgeneem in sy traktaat Oor die menswording van Christus wat in 1538 gepubliseer is. Die Uitvoerende Raad van die Smalkaldiese Bond het onder voorsitterskap van Philipp Melanchthon in Maart 1540 sy leerstellings amptelik as leerdwalings verwerp.

Luther begin sy geskrif by dít wat Christene oor Jesus Christus glo: Die algemeen-Christelike geloof is dat ons die een Heer Christus as ware God en [ware] mens bely. Uit hierdie waarheid van die dubbele substansie en die eenheid van die persoon volg die sogenaamde wedersydse deelname van die eienskappe (communicatio idiomatum). Hierdie belydenis vind dus sy uitdrukking in moeilike tegniese taal. ’n Groot aantal van die stellings wat volg, word gewy aan die probleem van taal. Luther wys daarop dat op grond van taalfilosofiese beginsels, hierdie belydenis dwaasheid en onsin is. Hy kan verstaan dat kritiese denkers nie weet wat om met hierdie uitsprake te maak nie. In die 20ste stelling kom hy dan met die sleutel tot die verstaan van hierdie misterie na vore: Dit is tog duidelik dat alle woorde by Christus ’n nuwe betekenis aanneem, wanneer algemene woorde gebruik word vir hierdie saak.

Luther sê in stelling 23 dat die woorde oor die persoon en werk van Jesus totaal nuwe woorde is – dit is ander, nuwe uitsprake oor hierdie spesifieke mens. Aangesien ons woorde moet gebruik wat algemeen-menslik verstaanbaar moet wees, beteken dit nie dat die saak waaroor dit handel ’n algemeen-menslike saak is nie. Die dinge rakende Jesus Christus is uniek en is daarom nie algemene uitsprake oor net nog ’n gewone mens nie. Luther wys in stelling 61 daarop dat dit vir die teologie nie oor die grammatika van die woorde gaan nie, maar die bedoeling van die Heilige Gees. Die bedoeling van die Gees is tog duidelik: Dit handel oor ’n vreemde, nuwe waarheid, ’n waarheid wat ons menslike verstandsvermoë oorstyg, maar nogtans, en juis daarom, ook waarheid is.

Volgens stelling 63 lê dit binne die lis en die boosheid van die duiwel om mense te laat twyfel oor die waarheid agter die geskrewe woord. Die taak van die teologie is om hierdie boosheid teen te staan – of soos hy afsluit met die 64ste stelling: Die bedoeling om te beweer dat iemand ’n ketter is, het daarmee te make dat hy die inhoud van die Bybel anders uitlê as wat die Heilige Gees verwag.

Die apologetiese waarde van Luther se teologie

Die Christelike geloof word vandag daagliks deur elke Jan Rap en sy maat belaglik gemaak. Die belydenis van Christus se menswording word graag aangeval. Luther se argumente kan help om ʼn respekvolle debat met die kritici van die Christelike geloof te voer.

 


© Kopiereg berus by Prof Natie van Wyk.

Die outeur neem volle verantwoordelikheid vir menings en standpunte uitgespreek