Martin Luther (1483-1546)

Wat ons in die Evangelies moet soek en verwag

Ons leef in ’n tyd van radikale pluralisme. Hiermee word bedoel dat eenduidigheid, konsensus en gemeenskaplikheid nie geduld word nie. Meerduidigheid, grenslose verskille en subjektivering van die waarheid word verheerlik as die wenslike en gebiedende. Die konsekwensie wat hierdie filosofie vir die teologie inhou, is katastrofies. Volgens hierdie denke is konsensus oor die inhoud en bedoeling van die Nuwe Testament net nie meer moontlik nie. Die eeue oue oortuiging dat ons in die Bybel met die evangelie te make kry, word verwerp. Met groot stelligheid word beweer dat ons in die Nuwe Testament te make het met verskillende evangelies (en nie net verskillende perspektiewe op die een evangelie nie). Binne hierdie geestesklimaat moet die teologiegeskiedenis sy reg op mening opeis. Die teks van Martin Luther wat hier bekendgestel word, moet hom opdring aan ’n koers wat niks goed inhou vir die saak van Jesus Christus nie.

’n Belangrike voorwoord

Luther het gedurende 1521/22 op die Wartburg (’n kasteeltjie op ’n berg by Eisenach in die ooste van Duitsland) weggekruip vir sy Roomse vervolgers. Soos bekend, het hy in hierdie tyd die Nuwe Testament in Duits vertaal. Dít was egter nie al wat hy daar gedoen het nie. Hy het ook ’n reeks postilles vir die predikante geskryf. ’n Postille is ’n voorbeeld van hoe daar op Reformatoriese wyse gepreek moet word. Ten diepste het sy postilles gehandel oor hoe die Bybel verstaan en uitgelê moet word. Anders gestel: Aan hand van die postilles het hy prakties geïllustreer waarop Reformatoriese Bybeluitleg en -interpretasie neerkom. Die kernpunte van Reformatoriese hermeneutiek het volgens hierdie postilles te make met (a) die geestelike eenheid van die evangelie ten spyte van die veelvoud van literêre getuienisse, (b) die aanvaarding dat ons in die geskiedenis van Jesus Christus met die geskiedenis van God se heilshandeling te make het, en (c) dat die belangrikste aspek van die evangelie met Jesus as gawe (sacramentum) en nie met Jesus as voorbeeld (exemplum) te make het nie.

Hierdie postilles is opgeneem en gepubliseer in ’n “kommentaar” getitel Uitleg van die apostoliese briewe en evangelies volgens die leesrooster van die kerk; vanaf Kersfees tot en met die Sondag ná Epifanie / Auszlegung der Epistelln vnd Euangelien die nach brauch der kirchen geleszen werden; vom Christtag bisz auff den Sontag nach Epiphanie. Hierdie “kommentaar”, in die vorm van versamelde postilles, is voorsien van ’n voorwoord, soortgelyk aan die voorwoord in die Duitse vertaling van die Nuwe Testament. Hierdie voorwoord is in 1522 ook as ’n selfstandige traktaat gepubliseer onder die titel ’n Kort onderrig oor wat ’n mens in die evangelies moet soek en verwag / Ein kleiner Unterricht, was man in den Evangelien suchen und erwarten soll [te vinde in WA 10, 1, 1 (VII), 8-18]. Dit is hierdie geskriffie wat hier aandag geniet, aangesien dit begronde kritiek bevat op die pluralisme-verheerliking van ons dag.

Die inhoud

Luther begin deur op twee foute in die teologie van sy dag te wys, naamlik die gedagtes dat (a) die evangelie net in die vier Evangelies te vinde is en (b) dat die Evangelies as wettiese geskrifte gelees moet word; met ander woorde, as literatuur wat handelingsaanwysings vir die morele lewe bied. Volgens Luther is daar net een evangelie wat in die Evangelies sowel as die briewe gevind word. Paulus, Petrus, Johannes en die afsonderlike Evangeliste het nie afsonderlike evangelies gehad nie. Almal getuig oor die een evangelie van Jesus Christus. Die evangelie is volgens Luther ’n duidelik formuleerbare aangeleentheid. Dit is die kronieke of geskiedenis van Christus; wat Hy gedoen, gesê en vermag het. Op sy kortste uitgedruk, is die evangelie ’n vertelling van Christus, dat Hy God se Seun is en dat Hy vir ons mens geword het, gesterf het en opgestaan het, en as Heer oor alle dinge aangestel is. Hiervan getuig alle geskrifte van die Nuwe Testament; Markus en Paulus, Lukas en Petrus.

Elkeen behoort te weet dat die evangelie ’n geskiedenis is van Christus, Seun van God en seun van Dawid, wat gesterf het en opgewek is en tot Heer verhef is … aangesien daar net een Christus is, is daar net een evangelie … selfs die profete getuig oor hierdie een Christus, en daarom vorm hulle deel van hierdie een verhaal.

Luther pleit dat teoloë moet ophou om van Christus ’n tweede Moses te maak aangesien Hy nie maar net ’n leermeester en voorbeeld is nie. Vanselfsprekend moet daar ook oor Hom as voorbeeld gepraat word, maar dít is nie primêr nie. Primêr is dat Hy as gawe en geskenk ter sprake gebring moet word. Deur dít te doen, kom dít ter sprake wat die gewete vrolik, seker en tevrede sal maak, naamlik die liefde van God. Spreke wat uitmond in ’n vrolike, goeie en troosvolle boodskap het met die evangelie te make, en dít en slegs dít, is wat ’n preek veronderstel is om te kommunikeer. Nadat Christus op hierdie wyse in die prediking ter sprake gebring is, kan en moet Hy ook as voorbeeld ter sprake kom aangesien geloof en liefde onlosmaaklik verbonde is.

Opsommend, as hartklop van die Reformatoriese teologie, sê hy dan:

Christus as gawe voed jou geloof en maak van jou ’n Christen. Christus as voorbeeld oefen jou werke, dit maak egter nie van jou ’n Christen nie, maar vloei uit jou, wat reeds ’n Christen gemaak is, voort. In soverre jy gawe en voorbeeld onderskei, onderskei jy ook geloof en werke. Die geloof as sodanig is en het niks nie, aangesien dit slegs te make het met Christus se werk en persoon. Die werke het wel iets wat met jou te make het, maar dit behoort nie aan jou nie, aangesien jou werke jou naaste toekom.

Die evangelie is dus nie iets wat wesenlik met wette en gebooie te make het nie, maar met die beloftes van God waarin Hy sy goedheid aan ons deur Christus bekend maak. Hierdie evangelie moet gehoor en geglo word, en gelowiges wat Christus as gawe aanvaar, behoort dan outomaties te weet dat hulle Christus ook as voorbeeld moet navolg. As navolgers van Christus dien hulle hul naaste, maar navolging maak nie van jou ’n Christen nie. Slegs diegene wat reeds Christene gemaak is deur die geloof, volg Jesus na. Om hierdie rede onderskei ons tussen geloof en werke sonder om dit te skei.

Die Bybel

Luther sluit hierdie voorwoord aan die Protestantse predikante af met ’n verduideliking oor die verband tussen Bybel en evangelie. Hy sê:

Die evangelie is wesenlik nie Skrif nie, maar mondelinge woord, wat die Skrif laat hoor, soos wat Christus en die apostels ook gedoen het. Daarom het Christus self ook nie geskryf nie, maar slegs gepraat; en sy leer is nie skrif nie, maar word evangelie, as die goeie boodskap, deur die prediking, wat nie met die pen nie maar met die mond voorgedra word. Wanneer dít as vertrekpunt geneem word, sal die evangelie nie in ’n wetboek verander word nie, en sal Christus nie verskraal word tot ’n tweede Moses nie.

Samevatting

Die evangelie (die één boodskap oor Christus) kom tot uiting in die prediking. Die Bybel as sodanig is dus nie die evangelie nie. Dit is wel die bron wat die predikant gebruik om die evangelie mee uit te dra. Die Protestantse predikant moet in sy prediking aan twee sake aandag gee, naamlik (a) Christus as gawe en (b) Christus as voorbeeld vir die lewenswandel. Lewenswandel maak nie van jou ’n Christen nie, maar wel jou geloof in Christus as God se gawe. As gelowige volg jy Christus ná, deur in liefde goeie werke te doen. Prediking wat nie tussen geloof en werke, Christus en Moses kan onderskei nie, is nie Reformatoriese prediking nie. Maar hy wat geloof en liefde skei, is eweneens nie besig met die volle boodskap van die Bybel nie.

 


© Kopiereg berus by Prof Natie van Wyk.

Die outeur neem volle verantwoordelikheid vir menings en standpunte uitgespreek