Martin Luther en die derde artikel van die heiliging

Die predikante van ons ring het my versoek om op ʼn pastorale wyse, vanuit Luther se teologie, met hulle te praat oor die nood wat hulle as predikante ervaar. Hierdie nood word geskep deur die spanning waarbinne hulle vasgevang is tussen voortgaande pligpleginge en toekomsangs. Aan die een kant moet hulle voortgaan om hulle gemeentelike verantwoordelikhede na te kom, en aan die ander kant word hulle gekonfronteer met die aanhoudende stroom inligting oor die agteruitgang van gemeentes. Hulle vraag is eenvoudig: Moet ons in die bediening bly en voortgaan om met hoop en vreugde die Woord te bedien, of is dit tyd om ʼn ander beroep te betree? Ek is oortuig dat Luther bykans 500 jaar gelede uitsprake oor geloof en die kerk gemaak het wat vandag steeds van waarde kan wees.

Luther se uitleg van die derde artikel van die Apostolicum

In sy Klein Kategismus (1529) het Luther ʼn goeie antwoord op die volgende vraag gegee: Wat dit beteken om te glo in die Heilige Gees, die kerk, die gemeenskap van die heiliges, die vergewing van sondes, die opstanding en die ewige lewe. Amen?

Ek glo, dat ek nie op grond van eie redelike oortuigings (Vernunft) of krag aan Jesus Christus, my Here, kan glo of Hom kan nader nie (zu ihm kommen kann). Maar die Heilige Gees het my deur die evangelie geroep (berufen), met sy gawes verlig, in die regte geloof geheilig en bewaar, net soos Hy die ganse Christendom (Christenheit) op aarde roep, versamel, verlig, heilig en by Jesus Christus hou, in die een, [en] regte, geloof. Binne hierdie Christendom vergewe Hy my en alle gelowiges daagliks alle sondes ryklik, en sal op die jongste dag my en alle gestorwenes opwek, en my saam met alle gelowiges in Christus ʼn ewige lewe gee. Dit is vir seker waar!

Agtergrond oor en motiewe in die Klein Kategismus

Die Klein Kategismus is wêrelderfenisliteratuur. Miljoene katkisante het in tientalle lande die evangelie aan die hand van hierdie boekie leer ken. Aanvanklik was die bedoeling nie om ʼn katkisasieboek vir die jeug te skryf nie, maar ʼn handleiding vir predikante en gemeentelike leiers en familiehoofde.

Ná die gemeentelike visitasies in 1528 het Luther en Melanchthon besef dat ʼn kategismus ʼn dringende noodsaaklikheid was. Hulle het tydens die visitasies ontdek dat die predikante nie hulle werk behoorlik kan doen nie, aangesien hulle nie die evangelie (die samehangende boodskap van die Bybel) geken en verstaan het nie. Die oplossing was ʼn kort leerboekie waarin die tien gebooie, die Onse Vader en die Apostolicum uitgelê word.

Ten spyte van die feit dat die Kategismus oorspronklik bedoel was as ʼn leerboek vir predikante wat die Bybelse boodskap nie samehangend geken en verstaan het nie, is dit baie gou ook gebruik as materiaal vir kategese. Luther en sy volgelinge het besef dat die Reformasie slegs kan gedy wanneer die kinders en jongmense weet waaroor die “Christendom” handel. Hulle moes gewoon die basiese dinge van die Christelike godsdiens leer. Volgens Luther is mense wat nie die basiese dinge aangaande die Bybelse boodskap wil leer nie, nie bekeer nie. Daarteenoor het hy gesê: Mense wat die basiese dinge ken en verstaan, sal vra dat daar aan hulle Nagmaal bedien sal word. Ons sit met die situasie dat talle van ons katkisante nie eens die eerste Nagmaalgeleentheid bywoon nie. Na aanleiding van Luther se argument moet ons aanvaar dat ons katkisante niks ken en niks verstaan nie. Ons kategese is daarom ʼn klaaglike mislukking.

Drie jaar voordat hy die Kategismus geskryf het, het hy in die voorrede tot die Duitse Mis (1526) ʼn definisie van ʼn kategismus gegee. Volgens hom is dit onderrig, waardeur ʼn mens heidene wat Christene wil word, leer en wys wat hulle moet glo, doen, laat en moet weet om met die Christendom mee te lewe (WA 19,76,2-5). Hy weet dus dat die kategetiese stryd oor geloof en ongeloof gaan, en dat Christenskap iets totaal anders as ʼn blote, goeie burgerlike bestaan is. Dit is waarskynlik hierdie punt wat ons nie voldoende begryp nie. Solank aflegging van geloofbelydenis ʼn kultuuraangeleentheid bly en ons nie besef dat dit hier ten diepste te make het met die stryd tussen geloof en ongeloof nie, gaan ons nie eens begin om ons eie kerklike problematiek te verstaan nie.

ʼn Laaste interessante opmerking: Die oorspronklike teks was in die “niederdeutscher Sprache” geskryf. Nie die Hoogduits van daardie tyd nie, maar wel die taal van die gewone, meestal ongeletterde, Duitser en Hollander. Dit is goed om te weet dat só ʼn beroemde teks met die wortels van ons menswees te make het.

Die inhoud van hierdie artikel van die geloof

Luther sê dat die stryd van die kerk die stryd tussen geloof en ongeloof is. Om hierdie rede moet ons weet wat geloof is en hoe dit tot stand kom. Mense glo nie op grond van eie krag en insig nie. Die Heilige Gees wek geloof op grond van die verkondigde evangelie. Indien die predikant nie die evangelie ken nie, het die Heilige Gees niks om mee te werk nie! Aangesien talle predikante nie teologie wil lees nie, moet ons nie verbaas wees oor die verval van die Kerk nie. Sekerlik is daar baie eksterne faktore wat die kerklike verval aanhelp, maar ons as predikante moet aanvaar dat ons deel van die probleem is.

Die Heilige Gees roep op grond van die verkondigde evangelie ʼn kerk byeen en hou dit by Christus deur die regte geloof – aldus Luther. Die bestaan en die voortbestaan van die kerk is nie in ons hande nie. Daarvoor sorg die Heilige Gees. Die kerk sal voortbestaan wanneer dit by Christus bly – en dit sal slegs by Christus bly wanneer daar reg geglo word. Regte geloof is byvoorbeeld nie magie nie. “Bid sodat die Here vir ons reën kan gee – dit het gereën omdat ons gebid het” lees ons in die kerklike sosiale media. Dalk moet die manne van die gemeente Luther se uitleg van die Onse Vader bestudeer sodat hulle kan leer hoe ons moet bid en nie moet bid nie.

Volgens Luther gaan Christenskap ten diepste om die beloftes van die Here ten opsigte van sondevergewing en nuwe lewe. Ware geloof glo die waarheid van hierdie beloftes. Die grootste ramp wat die Kerk getref het, is nie die dalende geboortesyfer nie, maar die oortuiging dat ons in die Kerk nie met die waarheid te make het nie, dat die waarheid relatief is, dat die waarheid voorlopig is, dat ons nie werklik weet wat die waarheid is nie, ensovoorts. Ons kan eenvoudig nie meer Amen sê nie – en dít is die rede vir ons krisis. Wanneer ons nie meer wil sê Dit is vir seker waar nie, gaan geen kursus in praktiese kerkwees ons uit ons nood bevry nie. Predikante word aangemoedig om met hulle werk voort te gaan – onderhewig aan drie sake: Die Here hou sy kerk deur die verkondigde Woord en die werk van die Heilige Gees in stand. Ons moet sorg dat ons werk op die standaard is wat die Gees verwag. Ons moet glo dat ons met die waarheid te make het. As ons nie só wil glo en wil werk nie, is daar geen langtermynverwagting nie – en dán moet ons so gou moontlik ander werk gaan soek.

 


© Kopiereg berus by Prof Natie van Wyk.

Die outeur neem volle verantwoordelikheid vir menings en standpunte uitgespreek