Reformasie gebeure in Januarie (2)

KvonBora Datums uit die geskiedenis

  • 28/01/1533: Luther se seun Paul gebore
  • 28/01/1547: Koning Hendrik VIII van Engeland sterf
  • 29/01/1499: Katharina Luther (née Von Bora) word in Lippendorf, Sakse gebore
  • 31/01/1561: Menno Simons (verwerper van die kinderdoop) sterf

Persone en gebeure uit die geskiedenis

Katharina von Bora, die latere vrou van Martin Luther, is in ’n klein dorpie suid van Leipzig gebore. Haar ouers was deel van die Saksiese landadel, maar nogtans brandarm. In 1504 laai haar pa (as  wewenaar) haar af by ’n Benediktyneklooster by Brehna.

KvonBora_BeeldIn 1508 word sy na ’n ander klooster by Nimbschen verskuif. Op 8 Oktober 1515 word sy dáár tot non gewy. Op Paasnag, 5 April 1523, vlug sy saam met ’n paar ander nonne uit die klooster om hulle by die Reformasie aan te sluit. Op 13 Junie 1525 raak sy verloof aan Martin Luther en op 27 Junie trou hulle tydens ’n openbare erediens. Sy skenk geboorte aan ses kinders (Hans, Elisabeth, Magdalena, Martin, Paul en Margarete) waarvan twee (Elisabeth en Magdalena) nie lank gelewe het nie.

In 1539, ná die uitbreek van die Pes, neem hulle vier weeskinders aan. Die owerhede het Luther se testament as ongeldig verwerp, en sy verloor al Luther se besittings. In 1552 moes sy en die kinders na Torgau vlug weens nog ’n uitbraak van Pes. Dáár sterf sy en word sy in die kerkgebou begrawe. Een van die belangrike Reformatoriese museums is in Torgau ter ere van Katharina opgerig.

Martin en Katharina was baie gelukkig getroud. Sy word as die moeder van die Reformasie beskou. Sy het verantwoordelikheid geneem vir Luther se reusehuishouding. Sy was een van die eerste “entrepreneurs” van die laat-Middeleeue. Om vir al die kinders, weeskinders, studente en internasionale gaste kos voor te sit, het sy verskeie boerderyprojekte begin. Naas haar werk as tuisteskepper, was sy so ver moontlik betrokke by haar man se werk. Dit was vir haar baie belangrik dat die hele huishouding aan Luther se tafelgesprekke en Bybelstudies moes deelneem.