Reformasie gebeure in Februarie (3)

 Datums uit die geskiedenis

  • 16/02/1497: Philipp Melanchthon word in Bretten naby Heidelberg gebore
  • 18/02/1546: Martin Luther sterf in Eisleben (63)
  • 19/02/1546: ’n Gedenkrede word deur Melanchthon gelewer
  • 21/02/1556: Thomas Cranmer sterf op die brandstapel in Oxford
  • 22/02/1546: Luther word in die Kasteelkerk in Wittenberg begrawe. Die prediking is deur Johannes Bugenhagen en die grafrede deur Melanchthon behartig.

Persone en gebeure uit die geskiedenis

Luther se dood. Martin Luther sterf op 63-jarige ouderdom op 18 Februarie 1546 in Eisleben. Ten spite van sy talle gesondheidsprobleme, het hy enkele weke voor sy dood nog lesings oor Genesis aangebied. Op 17 Januarie 1546 preek hy ’n laaste keer in Wittenberg, en daarná ’n verdere vier keer in Eisleben. Tot aan die einde was Luther by sy volle bewussyn. Justus Jonas en Michael Coelius het albei berigte oor sy dood geskryf. Sy laaste woorde was: Ons is bedelaars, dit is waar. Hierdie woorde beteken: In biddende omgang met die Bybel, leer ons die evangelie ken.

 

Luther se begrafnis.

Terwyl Johannes Calvyn stil en privaat gesterf het en in ’n onbekende graf begrawe is, was Luther se dood en begrafnis ’n groot openbare aangeleentheid. Luther se vriend Justus Jonas het hom op sy laaste reis vanaf Halle na Eisleben vergesel. Jonas het gereël dat ’n skilder uit Halle, Lucas Furtenagel, ’n skildery van die gestorwe Luther maak. Hy het toe ook sommer ’n wasbeeld van Luther se kop en hande gemaak. ’n Namaaksel van die wasbeeld is in die Markkerk in Halle te sien.

Luther is onder die preekstoel in die Kasteelkerk in Wittenberg begrawe. Sy gemeentepredikant, Johannes Bugenhagen, het die begrafnispreek gelewer, terwyl sy kollega, Philipp Melanchthon, die grafrede gelewer  het. Melanchthon het ’n dag ná Luther se dood ook ’n gedenkrede (soms ook ’n lyksrede genoem) in Eisleben  gelewer. Albei geleenthede is deur duisende mense bygewoon. Duitsland sou eers weer met die begrafnis  van Friedrich Schleiermacher in Berlyn só ’n groot begrafnis beleef.