Fokusmoment: 5 Maart 2017

Martin Luther vertel dat hy as jong seun, in ’n poging om iets ekstra te verdien, soms voor huise gaan staan en sing het.  Hy het ’n baie mooi stem gehad en die meeste mense het hom vriendelik ontvang.

Eendag het hy voor die huis van ’n boer gaan staan.  Die boer het baie kwaai gelyk en het hom so laat skrik dat hy net wou wegkom.  En toe skielik haal die boer iets agter sy rug uit – en die jong Martin in sy skrik, dink dit is ’n sweep!  Maar inplaas van ’n sweep het die boer ’n heerlike stuk gerookte wors uitgehaal.  Die boer het net kwaai gelyk!

Luther kon die prentjie nooit vergeet nie. Hy sê dan God is dikwels net soos hierdie boer. Hy kan jou teister tot jy trane in die oë kry, totdat jy skielik ontdek Hy is geheel en al vriendelikheid en Hy wil jou oorlaai met Sy aller oorvloedigste goedheid!