Fokusmoment: 26 Maart 2017

Lank voordat Martin Luther sy 95 stellinge opgestel het, het kerkleiers soos John Wycliffe  (1330-1384) en Jan Hus (1372-1415) die Rooms-Katolieke kerk gekritiseer, gepleit vir hervorming en daarop aangedring dat die Bybel vertaal word in inheemse tale.

Maar hierdie kerkleiers kon slegs ’n relatiewe klein groepie mense beïnvloed en met hul boodskap bereik.  Hul dokumente was natuurlik nog handgeskrewe en slegs klein hoeveelhede van hul geskrifte kon versprei word nadat dit met die hand gekopieer is.  Dit was dus vir die Roomse kerk redelik maklik om hierdie geskrifte te konfiskeer en te vernietig en om sodoende te verhoed dat hierdie idees verder versprei word.  Dit was daarom ook maklik om hierdie hervormers te verhoed om enige invloed uit te oefen op die breë publiek.

Alles het egter verander toe Johannes Gutenberg in 1448 die drukpers uitgevind het.  Skielik kon pamflette en boeke – ook Bybels! – redelik vinnig en goedkoop gekopieer en versprei word.  Dit het dit vir mense wat verspreid was oor verskillende lande en wat vêr van mekaar gewoon het, moontlik gemaak om idees uit te ruil en vir hierdie idees om soos ’n veldbrand te versprei.

Dit het nie lank geneem voordat Martin Luther se idees gespring het van Duitsland na die res van Europa nie en die Roomse kerk kon dit glad nie meer keer nie.  Nadat hy die Bybel in Duits vertaal het en dit in groot maat gedruk kon word en relatief bekostigbaar was, kon gelowiges vir die eerste keer in hul eie taal die Woord van God lees en hul eie opinies vorm.