Reformasie gebeure in April (4)

 Datums uit die geskiedenis

  • 20/04/1529: Verteenwoordigers van die Reformasie “protesteer” teen ’n besluit van die Ryksdag van Speyer
  • 20/04/1558: Johannes Bugenhagen, die eerste voltydse predikant van die Reformasie, sterf in Wittenberg (73)
  • 21/04/1560: Philipp Melanchthon word in die Kasteelkerk in Wittenberg begrawe
  • 26/04/1518: Die Heidelbergse Disputasie
  • 01/05/1551: Die tweede sessie van die Konsilie van Trente begin
  • 04/05/1415: Die Konsilie van Konstanz laat die boeke, en later die beendere van John Wycliffe, verbrand

Persone en gebeure uit die geskiedenis

Op 20 April 1529 het die vorste van die Protestantse stede en gebiede amptelik geprotesteer teen die meerderheidsbesluit van die Ryksdag van Speyer om nie meer die evangelies-gesinde minderhede in die ryk te tolereer nie. Van hierdie dag af word daar na die volgelinge van die Kerkhervormers as “Protestante” verwys. Die agtergrond: Op die Ryksdag van Worms in 1521 is Martin Luther skuldig bevind aan kettery. Dit was verbode om sy geskrifte te besit en hom in sy teologiese oordeel te volg. Mense wat hom sou volg, kon met die dood gestraf word. Aangesien hierdie Edik nie uitvoerbaar was nie, het ’n daaropvolgende Ryksdag in Speyer in 1526, onder voorsitterskap van die Keiser se broer, Ferdinand, besluit om die volgelinge van die Reformasie eerder te duld as te vervolg. Keiser Karel V was nie met hierdie besluit tevrede nie, aangesien dít die eenheid van die Ryk benadeel het. Vir die suksesvolle verdediging van die Ryk teen die Turke, kon hy nie verdeeldheid bekostig nie. Hy het daarom opdrag gegee dat die toleransie teenoor die evangeliese minderheid opgehef moet word. Op 19 April het die verteenwoordigers van die stede en gebiede van die Ryk met ’n meerderheid besluit dat die hervormingsgesindes na die Roomse Kerk moet terugkeer. Die vorste van die evangeliese gebiede het op 20 April ’n protesskrif aan Ferdinand oorhandig. In hierdie protesskrif het hulle verklaar dat hulle nie die meerderheidsbesluit kan aanvaar nie. Die voorsitter het hulle gewoon geïgnoreer. Op 24 April word die meerderheidsbesluit
weer voorgelees, en weer eens word die protes nie aangehoor nie. Op 25 April besluit die afgevaardigdes van die 14 evangeliese stede en gebiede om met die hulp van Philipp Melanchthon ’n amptelike beswaarskrif (Instrumentum Apellationis) op te stel wat aan die Keiser gestuur sou word. Van daardie oomblik af is daar na die evangeliese Christene as Protestante verwys.

“Protestantisme” het dus histories te make met die protes teen die weiering om godsdienstige minderhede te tolereer.

 

Luther disputeer in Heidelberg. Ná 1517 het Luther slegs vir ’n verdere jaar aan die afl aatprobleem aandag gegee. In Mei 1518 stuur hy ’n verduideliking van sy 95 stellings aan Pous Leo X. Sedert April 1518 het hy egter al begin om slegs op die skolastieke teologie van die Rooms-Katolieke Kerk te konsentreer. Dit het meegebring dat sy aandag na die temas skuld, geloof en regverdiging verskuif het. Sy biegvader, Johannes von Staupitz, het hom opdrag gegee om ’n convent van die Augustynse Orde in Heidelberg by te woon en dáár aan ’n disputasie deel te neem. Hy is na Heidelberg vergesel deur sy kollega, Leonhard Beyer. Die Heidelbergse Disputasie het op 26 April 1518 in die lesingsaal van die klooster plaasgevind. In ’n reeks stellings wat hy voorgedra het, het Luther die basis gelê vir ’n totaal nuwe teologie – ’n teologie gebaseer op die Bybel; ’n teologie bevry van die fi losofi e van Aristoteles. In die Heidelbergse Disputasie het Luther afstand gedoen
van die Roomse teologie van heerlikheid (theologia gloriae) en dit vervang met ’n teologie van die kruis (theologia crucis). Luther het by hierdie geleentheid groot indruk gemaak. Die Dominikaanse priester Martin Bucer het na aanhoor van Luther se voordrag besluit om by die Reformasie aan te sluit. Heidelberg en omgewing sou spoedig daarna (veral danksy Philipp Melanchthon wat in die omgewing grootgeword het) Protestants word.

 

John Wycliffe. John Wycliffe (c 1320 – 31 Desember 1384) was professor in filosofie en teologie aan die Universiteit van Oxford. Hy word as een van die voorlopers van die Reformasie van die 16de eeu gereken. Wycliffe het ’n reuse-aandeel gehad aan die vertaling van die Latynse Bybel in Engels. Hy het die pous en die Rooms-Katolieke Kerk heftig gekritiseer. Sy kritiek was toegespits op die prag en praal van die kerklike leiersfi gure, die politieke mag wat hulle uitgeoefen het en die hele gedagte van die kloosterwese. Hy was een van die eerste persone wat tydens die Middeleeue geleer het dat slegs die Bybel betroubare leiding verskaf oor die waarheid van God. Op grond van die Bybel, het hy die gedagte van die vaevuur verwerp, die oortuiging dat priesters selibaat moet lewe, gebede tot die heilige martelare en die koop van afl ate. Hy het ook die leer oor die transsubstansiasie verwerp (die leer wat bepaal dat die brood en wyn die werklike liggaam en bloed van Christus aan Tafel word).

Wycliffe is deur die pouse en sinodes veroordeel en uit die kerk verban. Ná sy dood in 1384, was daar ’n reeks kerklike besluite wat die besit en bestudering van sy geskrifte verbied het. Op 4 Mei 1415 het die Konsilie van Konstanz besluit dat sy geskrifte en sy beendere verbrand moet word. In 1428 het Pous Martinus V opdrag gegee dat hierdie besluit uitgevoer moet word. Sy beendere is opgegrawe, verbrand en die as is in die Swiftrivier by Lutterworth gegooi. Die Anglikaanse Kerk herdenk sy lewe en dood elke jaar op 31 Desember. Sy naam en eer leef voort by die Wycliffe Hall in Oxford en die Wycliffe College in Toronto, Kanada.