Fokusmoment: 30 April 2017

’n Paar aanhalings wat aan Maartin Luther toegedig word:

  • “Ek het al baie dinge in my lewe in my hande vasgehou – en ek het dit alles weer verloor, maar wat ek ook al in God se hande geplaas het, dit het ek nie verloor nie”.
  • “Ek kan dom mense wat nie van musiek hou nie, nie verdra nie – want musiek is ’n gawe van God.  Musiek verdryf die duiwel en maak mense opgewek en vrolik.  Hulle vergeet van hulle woede, hulle losbandigheid en hulle arrogansie.  Naas die teologie – om meer van God te kan weet – gee ek aan die studie van musiek die hoogste ereplek.”
  • “God het nie jou goeie dade nodig nie – maar jou buurman het!”
  • Volgens legende was Luther vreeslik lief vir Duitse bier.  Die volgende enetjie is dalk nie die beste aanhaling om by julle volgende CAD-vergadering se opening te gebruik nie, maar dis tog bedoel om net ’n glimlag op jou gesig te sit.  Luther het na bewering blykbaar altyd gesê:  “Wie ook al baie bier drink, raak vinnig aan die slaap.  Wie ook al slaap, doen geen sonde nie.  Wie ook al nie sonde doen nie, gaan hemel toe!  Daarom, laat ons meer bier drink…”