Fokusmoment: 7 Mei 2017

Terwyl ons die Reformasie vier, sal dit goed wees om te onthou dat die Reformasie talle lewensterreine beïnvloed het.  Dit het rimpelings veroorsaak op politieke, ekonomiese en wetenskaplike terreine.  Sommige invloede was positief – ander negatief.

 

Oneerlike motiewe

Die motiewe van regerings om die Reformasie te steun was nie altyd suiwer nie – dit was dikwels as gevolg van politieke redes, nie soseer geestelike redes nie.  Of ’n regering gekies het vir die Protestante of die Katolieke Kerk was soms gebaseer op die politieke situasie van die omgewing en die politieke gewin en nie noodwendig enige godsdienstige oortuiging nie.

Die onafhanklike Duitse state – daar was nie ’n verenigde Duitsland tot in 1871 nie – was Lutheranisme ’n manier om teen die ekonomiese oorheersing van die Romeinse Ryk te veg.

Die onheilige alliansie tussen politiek en geloof het tot ’n paar onverwagse ooreenkomste gelei:  Katolieke Frankryk het die Protestante in Nederland ondersteun en het selfs aan die kant van die Islamitiese Ottomaanse Ryk geveg téén Katolieke Spanje gedurende die Italiaanse Oorlog (1542-1546).

Protestantse Nederland, bekommerd oor mededinging op hulle winsgewende handelsroetes het die Engelse regering verhoed om die Protestante in Frankryk te hulp te snel wat beleër was deur Koning Louis XVIII by La Rochelle  (1627-1628).

En omdat hy die groeiende mag van Frankryk gevrees het, het die pous in 1690, die protestantse Koning Willem III ondersteun toe sy troon in Engeland deur die Franse bedreig is.

 

Die Reformasie en die Verligting

Voor die Reformasie het die Rooms-Katolieke Kerk gemaak asof hy al die antwoorde het.  Mense moes bloot blindelings aanvaar wat die kerk hulle voorgesê het om te glo.  Dit was, volgens die kerk van Rome,  belangriker om te glo as om ‘bewyse’ te hê.

Enige wetenskaplike ontdekkings wat die kerk uitgedaag het, soos bv. die ontdekkings van Galileo Galilei (1564–1642) – dat die aarde nie die middelpunt van die heelal is, soos wat die kerk geleer het nie – is met geweld onderdruk.

Die Reformasie het egter teruggekeer na die kritiese bestudering van die Bybel en enige en alle vooropgestelde idees is bevraagteken.

Hierdie kritiese ingesteldheid het die weg gebaan vir die Verligting, ’n 18de-eeuse beweging, regoor Europa, wat die klem geplaas het op die Rede om vraagstukke op te los.  Die Reformasie het mense aangemoedig om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie en om alles te ondersoek.

Dit het die weg gebaan vir ’n groeiende godsdienstige en politiese toleransie.  Die besef dat niemand alle kennis in pag het nie, het meer ‘open-minded’ gemeenskappe tot gevolg gehad, oop vir nuwe idees.

Dit het egter nie – soos wat baie ondersteuners van die Verligting gehoop het – gelei tot die einde van alle godsdienste nie.