Fokusmoment: 11 Junie 2017

In een van Maartin Luther se 95 stellinge (#62) beklemtoon hy die feit dat die kerk se grootste skat die evangelie is – die storie van God se grootheid en Sy genade.

Die pous, Leo X, was nie regtig geïnteresseerd in ’n teologiese debat nie en het die 95 stellings afgemaak as die “gebrabbel van ’n dronk Duitser” en dat Luther tot “ander insigte sal kom wanneer hy weer nugter is”.

Teoloë verwys dikwels na Luther se teologie as ’n “teologie van die kruis”.  Vir Luther lei alles na, vloei alles voort uit en is alles gesentreerd rondom die kruis van Jesus.  Hy het geglo dat jy slegs ’n ‘teoloog’ genoem kan word as jy verstaan dat alles deur die bril van die kruis van Jesus gesien moet word.

“Ons kan slegs tot God nader deur Jesus Christus en ons kan slegs tot Jesus Christus nader deur die kruis. Want dit is aan die kruis dat Jesus die straf vir ons sonde gedra het en in ons plek gesterf het.”  In ons regverdigmaking speel ons ’n passiewe rol – ons word regverdig gemaak.