Reformasie gebeure in Junie (3)

Datum uit die geskiedenis

  • 15/06/1520: Promulgasie van die verbanningsdreigbul Exsurge Domine

Persone en gebeure uit die geskiedenis

Daar is in Blitspos van 8 Desember 2016 kortliks die een en ander oor die dreigement van pous Leo X teen Martin Luther gestel. Hier volg nog ’n paar brokkies inligting oor die pouslike bul Exsurge Domine. ’n “Bul” is ’n outentieke pouslike opdrag van uiterste erns en dringendheid. Hierdie dreigbrief het op 15 Junie 1520 regsgeldig geword. Dit het vir Luther die volgende konsekwensies ingehou: Hy is tot ketter verklaar en ter dood veroordeel. Begenadiging sou slegs volg indien hy op die Ryksdag van Worms (1521) voor die keiser sy kritiek teen die Roomse Kerk sou terugtrek. Waarop vandag gekonsentreer word, is die voorgeskiedenis en nageskiedenis van die dreigbrief.

Die teoloog Johannes Eck het die eerste ontwerp van die dreigbrief in Januarie 1520 geskryf. Hierdie ontwerp is aan die teologiese fakulteite van Leuven en Keulen voorgelê vir beoordeling. Nadat die aanbevelings van die fakulteite oorweeg is, is die dreigbrief uiteindelik deur die Roomse kurie (die binnekring van pouslike raadgewers; hoofsaaklik kardinale) gefi naliseer. Nadat die pouslike
konsistorie van kardinale die dokument goedgekeur het, was dit regsgeldig. Daar was 41 aanklagtes teen Luther se teologiese uitsprake – ten spyte van die feit dat die aanklagtes nie op aanhalings uit Luther se werke gesteun het nie. Die aanklagtes het gekonsentreer op sy kritiek teen die pous, die afl ate, sy verstaan van bekering en die sakramente. Sy verwerping van die gedagte van die vaevuur en sy positiewe uitsprake oor Jan Hus is ook as kettery beskou. Sy bevraagtekening van die praktyke van die inkwisisie en die kruistogte het verder daartoe bygedra dat hy as ketter verbrand moes word, sou hy nie sy uitsprake binne 60 dae terugtrek nie. Met sy openbare verbranding van hierdie bul op 10 Desember 1520 het hy die kanonieke reg van die Roomse Kerk verwerp en hom blootgestel aan gevangeneming en teregstelling.

Keurvors Frederik die Wyse van Sakse was die tweede magtigste vors in die Romeinse Ryk. Hy was Luther se volgeling en beskermer. Hy het sy mag gebruik om te keer dat Luther uitgelewer word om as ketter verbrand te word. Hy het hom op die gravamentradisie van die Roomse Kerk beroep en geëis dat Luther op ’n ryksdag voor alle vorste en kerklike verteenwoordigers die geleentheid gegun sal word om die leerbeslissings van die pouslike kurie krities te debatteer. Die gravamenprosedure het Luther se lewe gered.