Reformasie gebeure in Mei (4)

Datums uit die geskiedenis

  • 25/05/1559: Die eerste Sinode van die “verstrooide kerk” in Frankryk
  • 27/05/1564: Johannes Calvyn (55) sterf in Genève, Switserland
  • 31/05/1567: Guido de Brès (45) sterf in Valenciennes, Frankryk

Persone en gebeure uit die geskiedenis

Guido de Brès (1522 – 31 Mei 1567) was ’n Waalse Protestantse teoloog. Hy was die opsteller van die Nederlandse Geloofbelydenis. Op ’n vroeë ouderdom het hy besluit om hom by die Protestantisme aan te sluit. Hy het aanvanklik vir Luther gevolg, maar het later ’n Calvyn-volgeling geword. Hy het Calvyn ’n hele aantal kere ontmoet en hy studeer ook vir ’n geruime tyd aan die Akademie van Genève waar Calvyn les gegee het. In die jare 1552-1556 was hy ’n rondreisende predikant in die suide van Nederland (Gent, Antwerpen en Doornik). Hy moes vir drie jaar in Duitsland skuil, en keer in 1559 terug na Genève en word ook in die geheim predikant van Doornik.

In 1555 het hy al ’n oorsig oor die Christelike leer onder die titel Staf van die geloof gepubliseer. Ná verdere studie skryf hy in 1561 ’n geloofbelydenis genaamd Confession de foy. Die oorspronklike bedoeling was om aan te toon dat die volgelinge van Calvyn geen revolusionêre anabaptiste was nie. Die Nederlandse vertaling vorm die basis van die Nederlandse Geloofbelydenis of Confessio Belgica. Hierdie belydenis is sterk beïnvloed deur Calvyn se Institusie en die Belydenis van die Franse Hugenote. Op 1 Desember 1561 het hy ’n afskrif van die Belydenis via Margaretha van Parma aan koning Filips II van Frankryk gestuur. Die eerste Nederlandse uitgawe is in 1562 in Emden gedruk. Die Belydenis het baie gou gesaghebbende status bereik.

De Brès moes egter uit Doornik vlug. Vanaf 1566 doen hy in die geheim diens as predikant in Valenciennes. In 1566 breek daar ook ’n beeldestorm in die stad uit wat aanleiding gee tot ’n beleg van die stad deur Spaanse troepe. De Brès word deur die Inkwisisie gevange geneem en weke lank gemartel voordat hy die doodstraf opgelê word. Hy is op 31 Mei 1567 op 45-jarige ouderdom in die openbaar gehang. Hy het sy vrou, Catherine Ramon, en ses kinders agtergelaat. Hy was bereid om te sterf vir die Protestantse geloof.