Fokusmoment: 13 Augustus 2017

Die doel van Luther se 95 stellinge – alhoewel dit die basis van die reformasie geword het – was eintlik om die teologiese probleme in die Rooms-Katolieke kerk uit te wys.

Van 1517 tot 1521 het Luther die 5 Solas ontwikkel in sy teologiese denke en geskrifte:

Toe Luther vasgevang was in die donderstorm het hy hom aanvanklik op die Heilige Anna beroep.  Hy het egter besef hoe futiel dit is om enige ander Middelaar as Jesus te hê.  Dit het tot die eerste Sola gelei – gebaseer op 1 Tim 2:5 – Solus Christus.

Hy moes egter ook sy siening van God verander.  Hy het besef dat slegs God ons regverdig kan maak.  Ons verdien nie ons redding nie.  Ons word regverdig deur geloof deur genade alleen – Sola Fide en Sola Gratia.

In hierdie tyd het die kloof tussen Luther en die pous al groter geraak.  Aanvanklik het die pous Luther se geskrifte die ‘gebrabbel van ’n dronk Duitse priester’ genoem.

Soos die kloof egter groter geraak het, het die pous Luther geëkskommunikeer en hom ’n ‘bosvark’ genoem.  Luther het in reaksie daarop die pous ‘die Antichris’ genoem.

By Worms is Luther deur die kerkleiers gevra om alles wat hy geskryf het, terug te trek.  Hy het egter geantwoord:  “Ek kan dit slegs terugtrek indien die Skrif my daarvan oortuig – aangesien ek nie die pous of sy raadgewers vertrou nie.  Ek is verbind tot die Skrif wat ek aangehaal het en my gewete word slegs gevange gehou deur die Woord… Hier staan ek.  Mag God my help.”

Dit het die Sola Scriptura beginsel van die Reformasie verwoord.  Die Skrif is die enigste gesag van die Kerk.

Die laaste Sola – Soli Deo Gloria – het gevolg op Luther se verstaan van vocatio – die roeping wat op die lewe van elke gelowige rus.  Dis nie net die priester wat ’n vocatio het nie, maar elke gelowige!  Om ’n vader, moeder, boer, myner of ambagsman te wees – alles wat ons doen, moet gedoen word, tot eer van God alleen  (1 Kor. 10:31).