Fokusmoment: 20 Augustus 2017

Na die dood van Luther in 1546 het die mantel van leierskap geval op Philip Melanchton,  die man wat deur Luther gementor is sedert hy as 20-jarige in Wittenberg opgedaag het in 1519.

Luther en Melanchton het ’n diep verbintenis en vriendskap gehad, alhoewel hulle uiteenlopende persoonlikhede gehad het.  Luther het eenkeer gesê dat Melanchton spelde en naalde sou gebruik om mee aan te val, wanneer hy wat Luther is eerder ’n groot swaard sou gebruik.

Melanchton het inderdaad ’n sagter aanslag gehad en was meer as Luther bereid om kompromieë te soek. Net na Luther se dood het teologiese sake soos die verhouding tussen die Rooms-Katolieke Kerk en die Lutherane, die leer oor die regverdiging deur geloof, die uitverkiesingsleer en die aard van die Nagmaal die Kerk in beroering gehad.

Sommige oordeel dat Melanchton te vêr afgewyk het van Luther se oorspronklike bedoelings en dat dit die Kerk op ’n verkeerde koers geplaas het.  Daarom kom Melanchton se nalatenskap en die waarde daarvan vandag nog gedurig onder skoot.