Week van Gebed 2017 – Vrygemaak deur God wat hoop gee

Onderwerpe
1. Dag 1: Christus het ons vry gemaak en gee ons hoop (Galasiërs 5:1-13) – Helené Fouché
2. Dag 2: Ons hoop in die hemel laat ons bid vir mekaar (Kolossense 1:3-14) – Akash Sirpal
3. Dag 3: Bevry om Jesus te aanbid wat altyd by ons is (Matteus 28:16-20; Jesaja 43:1-5) – Derik Myburgh
4. Dag 4: Bevry om uit God se beloftes te leef (Psalm 50:1-6, 14-15) – Henco van der Westhuizen
5. Dag 5: As bevrydes dien ons mekaar met die evangelie (2 Konings 5:1-14 [’n Minderjarige slagoffer van ’n oorlog, bedien goeie nuus aan die aggressor) – Myrtle Joubert
6. Dag 6: As bevryde mense dien ons God aan wie alles behoort (Psalm 24; Kolossense 1:15-20) – Ntozakhe Cezula

Vooraf
“Daarom, van die dag af dat ons dit van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang” (Kolossense 1:9-10a). Paulus bid vir die gelowiges in Kolosse vanuit die gevangenis in Rome. Hy het getuienisse oor hulle geloof in Christus Jesus gehoor, asook van hulle liefde vir al die gelowiges. Daaroor dank Paulus die Here. Hy het óók gehoor van mense wat ’n valse evangelie verkondig en die gelowiges verwar met allerlei godsdienstige reëls om die werk van Christus aan te vul. Paulus beklemtoon die voorrang van die Seun en bid vir dié gemeente wat deur Epafras gestig is. Paulus het self nog nie die gemeente besoek nie. Die gebed moedig die gelowiges aan om geloofsgetrou te bly in ’n verwarrende leefwêreld.

In Paulus se Kolossensebrief kom verskillende elemente van die gelowige gebed aan die orde. Die eerste is die feit dat Paulus tot God bid. Die hele brief getuig van ’n deurleefde gebedslewe. ’n Tweede element is dié van dank. Paulus dank die Here vir die gemeente én vir God se betrokkenheid in hulle lewens en bediening. ’n Derde element van Paulus se gebed is dié van voorbidding. Hy bid dat God aan hulle wysheid sal gee om tot sy eer te lewe en in hulle diens aan God te volhard. Hoofstuk 4 bring ’n vierde element ter sprake. Paulus spoor die gelowiges aan om in die gebed te volhard, met waaksaamheid en dankbaarheid. Hy vra vyfdens dat die gemeente ook vir hom sal bid. Hulle moet bid vir oop deure vir die verkondiging van die evangelie én dat hy die evangelie duidelik sal verkondig. Laastens sluit Paulus sy brief af met die gebed om genade vir die gemeente.

Hier is belangrike gebedsperspektiewe uit ’n enkele brief van Paulus aan ’n gemeente van Jesus Christus. Kom ons hou dít in gedagte as ons saam voor ons Here buig gedurende die 2017 Week van Gebed en daarna. Ons leefwêreld is nie minder uitdagend as dié van die Kolossense-gemeente nie. Ons het mekaar se gebede nodig en behoort mekaar die hele jaar aan te moedig tot gebed voor God.

Vir die voorbidding oor die ses dae van die 2017-gebedsweek sluit ons aan by die Reformasie 500-vieringe in 2017. Wêreldwyd herdenk Protestantse gelowiges die 16de eeuse Reformasie. Ons sluit aan by die tema van die NG Kerkfamilie se Refomasie 500-vieringe, naamlik: Vrygemaak. ’n Hooffokus van die Reformasie was die herontdekking dat ons uit genade deur Christus vrygemaak is. Ons is vrygemaak van die sonde en skuld, vry van verlammende moralisme, vry van die verknegting aan onderdrukkende sisteme. En ons is ook vrygemaak vir ’n lewe waarin ons met vreugde en verantwoordelikheid vir God, ons naaste en die res van die skepping dien. “Julle, geliefdes, julle is tot vryheid geroep”, skryf Paulus vir die gemeente in Galasiërs 5:13a. Dit geld ook vir ons. Nou kan ons met vrymoedigheid in gebed tot God nader om die jaar 2017 aan die Here op te dra.

Mag die Here ons gesamentlike gebede en smekinge uit genade en liefde verhoor.

Ons dank aan Helené Fouché (NGK), Akash Sirpal (RCA), Henco van der Westhuizen (NGK), Derick Myburgh (VGK), Myrtle Joubert (VGK) en Ntozakhe Simon Cezula (VGK), lede van die deelnemende kerke van die Verenigde Diensgroep vir Diens en Getuienis van die NG-Kerkfamilie wat die riglyne geskryf het. Mag die Here die week van gebed 2017 ryklik seën.

Eddie Orsmond, Donald Gantana (Namens die Taakgroep van die Verenigde Diensgroep vir Diens en Getuienis van die NG-Kerkfamilie)

Uitgangspunte van die Skrywers
Die volgende uitgangspunte lê agter die opstel van die riglyne vir die 2017 Week van Gebed:
• Die doel van die Week van Gebed is om saam te bid. Ons bring die werksaamhede van die gemeente en die kerk in ons eenheid met die wêreldkerk, vir die jaar wat voorlê, in gebed voor God se aangesig.
• Ons kies doelbewus om in die riglyne die klem op gebed te plaas. Die oordenkings is kort geskryf om daarmee meer ruimte te maak vir ons saam bid. Die riglyne wil wel help om die gedagtes rondom spesifieke temas los te maak.
• Gebed is nie maar net een geestelike aktiwiteit tussen vele ander nie. Gebed is in die eerste plek ʼn ingesteldheid en houding wat ons hele manier van lewe inkleur en bepaal. In ons binnekamer maak ons seker dat ons op God gefokus is, sodat ons op God gefokus kan lewe óók in ons buitekamer. Só word ons hele lewe gebed.
• Die Week van Gebed is ʼn intensiewe binnekamer vir die gemeente met die oog daarop om die jaar se aktiwiteite aan te pak met ʼn doelbewuste fokus en oorgawe aan God en in eenheid met broers en susters van ander denominasies. Die gebedsbyeenkomste wil ons help om met God se dinge besig te wees op só ʼn wyse dat God self in die sentrum staan. Oopstelling en beskikbaarstelling vir God kry daarom die klem.
• Ons bied die riglyne aan in die vorm van oordenkings met enkele voorstelle vir gebedsonderwerpe. Die skrywers het elkeen ʼn eie aanpak tot die riglyne. Daarmee wil ons verskeidenheid invoer vir gebruik by die ses geleenthede.
• Ons dink ook doelbewus daaraan dat die gemeente en kerk as die “liggaam van Christus” deur ons werksaamhede Jesus se menswees gedurende 2017 voortsit in hierdie wêreld.
• Ons gebed is dat die Here ons gemeentes en breër kerklike werksaamhede in 2017 sal gebruik om die koninkryk van die hemel ook op die aarde te laat kom.


 

Dag 1: Christus het ons vry gemaak en gee ons hoop
Galasiërs 5:1-13
Helené Fouché

1. Ons is vrygespreek.

Galasiërs 5 weeg as’t ware twee moontlike werklikhede teenoor mekaar op. Aan die een kant ’n werklikheid van slawerny. Daarom word iemand besny en moet homself (en sy gesin) op grond daarvan vir altyd aan die wet van Moses onderwerp. Die ander werklikheid word beskryf met die woord “vry.” Die wet van Moses bring onderwerping en slawerny, terwyl Christus werklike vryspraak bring.

Ons lei uit die brief af dat daar dwaalleraars was wat die mense allerlei dinge wys gemaak het. Die gemeente is in die proses daarvan oortuig dat hulle allerlei dinge moet doen en onderhou, om hulle verlossing te kan verdien.

Die gemeente is onseker oor watter werklikheid die waarheid van God se verlossing bevat: Is dit in die uitvoering van die wet en dus die besnydenis, of nie? Hulle hoop is dat Paulus hierdie keuse tussen die twee werklikhede vir hulle maklik kan maak. Paulus kan hulle hopelik kom leer waar die waarheid lê. Die apostel verras die gemeente egter deur vir hulle te sê die waarde lê nie daarin om besny te wees óf om nie besny te wees nie. Dit maak eintlik hoegenaamd nie saak nie. Die wet, die besnydenis en ander rituele en gebruike, hou nie meer verlossingswaarde in nie. In Christus is hulle (en ons) daarvan vrygespreek. Dit kan ons nie regverdig stel voor God nie. Net so lê die verlossing ook nie in die besnydenis nie.

Die ware verlossing lê in Christus. Niks wat ons doen kan die waarde of betekenis vervang van wat Christus reeds in gehoorsaamheid aan God gedoen het nie.

2. “Nie een enkele ding nie,” genade alleen.

Paulus probeer die gemeente daaraan herinner dat hulle werklik niks kan doen om verlos te word nie: “Nie een enkele ding nie.” Hy herinner hulle daaraan dat nét God se genade vir hulle vryheid bring. Die wet, rituele, gebruike of selfs die besnydenis kan dit nie doen nie.

Dit is juis die leringe van die dwaalleraars wat dit vir hulle moeilik maak om te begryp dat hulle werklik niks hoef te doen om God se genade te ontvang nie. Dit strook ook nie met die manier hoe hulle nog altyd oor die wet en verlossing gedink het nie.

In ons samelewings is daar dikwels ook dwaalleraars (of ons eie gedagtes en oortuigings) wat ons daarvan probeer oortuig dat ons sekere dinge moet doen om verlossing te bewerk of sodat ons selfs net goed genoeg vir God sal wees. Sonder dat ons dit besef, probeer ons ons verlossing verdien. Ons kan dit amper nie help nie. Dit is as’t ware die normale manier waarop ons oor die verlossing dink.

Maar die boodskap wat Paulus beklemtoon, is dat daar nie een enkele ding is wat ons kan doen om God se redding te verdien nie. Dit is genade alleen (sola gratia).

3. God roep ons nie tot vryheid sodat ons skurke kan wees nie.

Die balans tussen vryheid en gehoorsaamheid, was iets waarmee die gemeente in Galasië gesukkel het. Ons sukkel vandag steeds daarmee. Wanneer Christus ons vryspraak van die wet kom gee, maak dit ons onseker. Ons is nou nie seker wat dit dan sou beteken om as gehoorsame mense te leef nie. Hoe maak ons seker ons verval nie in morele anargie nie?

Vers 6 herinner ons aan (nog) een van die reformatoriese sola’s: sola fide (deur geloof alleen). Hierdie geloof gaan deur liefde oor in dade. Vers 13 herinner ons ook om mekaar in liefde te dien. Die balans lê dus daarin dat geloof in die genade van God nie anders kan nie, as om oor te gaan in dade.

Vryheid, leer Paulus ons male sonder tal, is nooit absoluut nie. Dit maak ons eintlik slawe van mekaar. Hierdie slawerny is egter nie die hiërargiese slawerny van die wêreld nie. Dit is ’n slawerny wat radikaal anders is as die wêreld se verstaan daarvan. Ons is op gelyke vlak en in die gemeenskap slawe van mekaar.

Nelson Mandela, wat dikwels oor vryheid gedroom, gedink, gepraat en geskryf het, het ’n reuse rol gespeel om vryheid vir baie in Suid-Afrika ’n werklikheid te maak. Hy het gesê: “For to be free is not merely to cast off one’s chains, but to live in a way that respects and enhances the freedom of others.”

Ons kan nie vry wees as ander nie vry is nie. Ons kan ander nie bevry (of aan die vryheid wat in Christus waar word bekendstel), as ons nie self die bevrydingsliefde van Jesus in ons harte dra en ander in liefde dien nie.

4. God los ons ook nie alleen nie.

Ons word opgeroep om in die vryheid wat Christus vir ons aanbied, Geesvervuld te leef en mekaar in liefde te dien. In Galasiërs 5:22 word ons juis herinner aan wat die vrug van die Gees is waartoe die vryheid wat God in Christus bewerk ons oproep.

Wanneer ons die vrug van die Gees uitleef, word dit moontlik dat ander ook die vryheid wat Christus bring in ons kan raaksien.

5. Gebedstemas:

• Dank God vir die vryheid wat Hy vir ons moontlik maak deur sy Seun Christus.
• Dalk is daar plekke in jou lewe waar jy spesifiek bewus word dat Christus jou vry gespreek het.
• Bid vir mense wat nog nie besef hoe God se vryheid hulle lewens en denke kan verander nie.
• Tree vir hulle in. Vra die Heilige Gees om hulle gedagtes oop te maak.
• Dra ook die kerk van Christus aan God op.
• Ons is deur God geroep om as kerk vir mense te wys hoe om as vrygemaakte mense te leef.
• Ons vryheid in Christus dring ons om in geloof ons liefde te laat oorgaan in dade.
• Mag ons die vryheid wat ons in Christus ontvang het vir alle mense ’n werklikheid maak.


 

Dag 2: Ons hoop in die hemel laat ons vir mekaar bid
Kolossense 1:3-14
Akash Sirpal

1. Ons hoop in die hemel motiveer ons dankbaarheid.

Ons hoop op die hemel maak ons nou gelukkig en veilig sodat ons verdrukking blymoedig kan verduur terwyl ons geregtigheid nastreef. Matteus 5:10 deel hierdie seëning met ons: “Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.” Hierdie hoop op die hemel bemagtig ons nie net om smettelose lewens te leef en vreesloos te wees nie, maar ook om vir ander te bid.

In Paulus se brief aan die Kolossense dank hy God voortdurend in sy gebede. Paulus begin dikwels sy briewe óf met danksegging óf met lofprysing aan God. Dit was daarom natuurlik dat, toe Paulus vir die kerk in Kolosse gebid het, die gebed oorgeloop het van dankbaarheid.

Paulus skryf in vers 3 dat ons God altyd moet dank. Dit kan gesien word as ’n verwysing na sy gebedslewe in die geselskap van ander soos Timoteus saam met wie hy gereeld gebid het. Wonderlike dinge was besig om te gebeur. Tog het hulle hul stemme in danksegging tot die Hemelse Vader verhef, eerder as om hulself geluk te wens vir ’n taak wat knap gedaan was of vir die geloof van die Kolossense.

2. Wat was die rede vir Paulus se dankbaarheid?

Paulus het God eerstens gedank vir die geloof van die Kolossense. Dit verwys na hulle vertroue in die Persoon en werk van Christus. Dit het die grondslag gevorm van dit wat hulle, deur die Heilige Gees, in ’n lewende verhouding met Christus gebring het. Die Kolossense se geloof word omskryf as geloof in Christus. Soms het ons geloof in geloof. Die fokus behoort egter geloof te wees wat in Christus gesetel is; nie slegs die teenwoordigheid van geloof nie.

Tweedens bedank Paulus God vir die liefde van al die Kolossense. Dit was ’n liefde vir al die heiliges. Die fokus was op die uitwerking van ’n aktiewe geloof in Christus. Dit is die vrug en getuienis van gemeenskap met die Here Jesus deur ’n aktiewe geloof in sy godsalige lewe. Die evangelis Johannes skryf: “Julle moet in my liefde bly. As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly” (Johannes 15:1-9). En in 1 Johannes 3:14 lees ons: “Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood.”

Derdens was Paulus dankbaar vir die hoop van die Kolossense gemeente. Die hoop word hier beskryf as dit wat vir ons in die hemel bewaar word. Die stoorplek is die hemel, ’n plek van veiligheid en beskerming, waar die korrupsie en sonde van die huidige wêreld dit nie kan aanraak nie. Dit omvat ons hele verlossing, om in God se teenwoordigheid te wees, tuis by die Here na ons dood, ewige heerlikheid en ’n toekomstige opgestandingsliggaam met ewige belonings.

3. Hoe het die Kolossense geloof, hoop en liefde ontvang?

Hulle het dit uit die woord van waarheid ontvang, wat die evangelie van Jesus Christus is. Die evangelie is vir die hele wêreld bedoel. Dieselfde evangelie wat die Kolossense bereik het, is die evangelie wat oor die wêreld versprei. Dit is die oorsprong van lewe en groei. Dit versprei en dra vrug. Wanneer die evangelie gehoor en geglo word, verander lewens radikaal. Hoor Paulus se boodskap: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo, in die eerste plek die Jood, maar ook die nie-Jood.” (Romeine 1:16)

Paulus het gevoel hy kon die Kolossense prys vir hul geloof, maar dit was nie voldoende nie. Dit is waarom hy van danksegging beweeg na smeking. Indien ons wil aanhou om die Here te behaag, vrug te dra en te groei in Christus, is dit noodsaaklik dat ons vervul word met die kennis van sy wil deur alle geestelike wysheid en insig.

4. Julle moet vervul word met die kennis van sy wil (vers 9).

Paulus het wesenlik gebid vir twee goed wat sy lesers nodig het: volle kennis van die wil van God en, as uitvloeisel hiervan, dat hulle op ’n manier sou leef wat die Here waardig is. Hierdie twee versoeke hang ten nouste saam en vorm die doel van gebed. Dit wys ons op die groot behoefte in elke gelowige se lewe en die wyse waarop aan hierdie behoefte voldoen moet word.

Ons moet vervul word met die kennis van God. Hierdie doel kan nie sommer op enige manier bereik word nie. Dié leemte kan nie deur menslike wysheid gevul word nie. “… sodat hulle God se geheimenis kan ken. Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind” (Kolossense 2:2-3). In sy Romeinebrief (1:18) skryf Paulus: “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.”

5. Leef waardig (vers 10).

In die Christelike lewe gaan kennis en gehoorsaamheid hand aan hand. Daar is geen skeiding tussen leer en leef nie. Die wysheid waarvoor Paulus gebid het, was nie bloot intellektuele kennis van diep geestelike waarhede nie. Ware geestelike kennis moet ons daaglikse lewens beïnvloed. Christus moet ons bron van vernuwing wees. Vandag nog word geestelike verandering of morele optrede gesoek deur ’n soort asketisme, wettiesisme, of goeie werke. Dit wat Paulus in gedagte het, is dat ons só moet wandel dat die eer gaan aan die genade van God in Christus. Dit is die nalatenskap van die Hervorming. “So sal hulle in alles wat hulle doen, die aansien van die leer van God ons Verlosser verhoog.” (Titus 2:10)

6. Behaag Hom in alles (vers 10).

Namate ons probeer om die Christelike lewe deur sy genade te leef, is dit belangrik om in gedagte te hou dat die doel moet wees om God te behaag en aan Hom eer toe te bring. Mense wil dikwels weet hoe om meer geestelik of godvrugtig te wees, maar die onderliggende doel behoort te wees om God beter te leer ken en Hom te behaag. Van die laaste deel van vers 10 af brei die apostel uit oor hierdie kennis van God in ’n reeks verse wat die gedagte van ’n waardige wandel voor die Here uitbrei.

7. Gebedstemas:

• Help ons om in ons gebede oor te loop van dankbaarheid vir mekaar.
• Mag die Lewende Woord altyd voortgaan in die krag van die Heilige Gees.
• Vul ons met kennis van U wil dat ons vrugte mag dra, groei, en versterk word deur U krag.


 

Dag 3: Ons is bevry om Jesus te aanbid wat altyd by ons is
Jesaja 43:1-5 en Matteus 28:16-20
Derik Myburgh

1. ’n Sondige volk.

Die tweede deel van die Jesajaboek, ook Deutero-Jesaja genoem, is geskryf tydens die Babiloniese ballingskap. Die profeet het waarskynlik opgetree tussen 587vC (verwoesting van Jerusalem) en 539vC (val van Babel). Jesaja 1-39 waarsku teen die gevolge van die volk se volharding in die sonde, terwyl Jesaja 40-55 afspeel teen die agtergrond van Israel se ballingskapsverblyf in Babel. Dit het nie met die volk goed gegaan nie. Hulle het alles verloor. Die tempel is verwoes, Jerusalem lê in puin, die ballinge bevind hulle in ’n vreemde land, met ’n hoogs ontwikkelde kultuur waar heidense gode aanbid word. Die volk worstel met die vraag: Waar is God? Bestaan God nog? Het Hy saam met die tempel in puin verval?

Jesaja rig ’n profetiese woord tot ’n platgeslane volk in ballingskap. Dit gaan hoofsaaklik oor die val van Babel, die bevryding, terugkeer en herstel van Israel (Jones). Daar is heelwat verwysings na die Eksodusverhaal, die belangrikste gebeurtenis in die geskiedenis van Israel volgens Deutero-Jesaja.

Die verbasende is dat God die Persiese koning Kores gaan gebruik om die herstel van Israel te bemiddel (Jesaja 44:28; 45:1). God draai voorwaar die wêreld op sy kop. God se uitverkore volk bevind hulle, vanweë hulle sonde, in die grootste krisis sedert die Eksodus. Dan roep God nog ’n heidense koning om hulle terugkeer na Jerusalem moontlik te maak!

2. God van genade.

Jesaja 43 staan in direkte teenstelling tot die voorafgaande gedeelte in Jesaja 42:18-25. Daar word die volk se onwilligheid om na God terug te keer uitgespel en die redes vir die ballingskap gegee. God het sy volk aan straf onderwerp vanweë hulle sonde. Dan kom Jesaja 43 met ’n trooswoord. Ons sien hier die Vaderhart van God. “Die troue Verbondsgod verklaar opnuut sy liefde aan die volk, na die geweldige tydperk van straf en lyding wat hulle in ballingskap deurgemaak het” (Philander).

God stel Homself bekend as Skepper en Formeerder (OAV) van Israel, asook as Verlosser. Die twee groot dade van God word hier met mekaar in verband gebring. As Skepper is Hy die Een wat uit ’n slawevolk vir Hom ’n volk byeenbring by Sinai, nadat Hy hulle uit Egipte bevry het. God het dubbele aanspraak op sy mense. Hulle is sy skepsels én hulle is deur Hom verlos, by die naam geroep, Syne! Juis daarom moet hulle nie bang wees nie. God is by hulle. Water hou geen gevaar in nie. Onthou die Rooi See. Die riviere van Babilon kan God se volk nie keer om na hulle land terug te gaan nie. Vuur hoef niemand af te skrik nie, want Die Heilige van Israel is hulle God. Israel is waardevol vir God. God het sy volk lief. Hy is by hulle. Egipte, Kus en Seba as verteenwoordigers van die heidennasies, is in hulle plek geoffer. Vir die hoeveelste keer verlos God sy volk uit die hande van hulle vyande. Vers 5 sê vir ʼn tweede keer: “Moenie bang wees nie. God sal die volk uit die vier windrigtings bymekaarmaak en laat terugkeer na hulle land.”

Die elemente van angs, troos en hoop help ons om die perikoop te verstaan. Die skrikwekkende gevolge van die sonde het die volk in totale troosteloosheid en angs laat verval. Het God ons nou totaal vergeet? Het Hy ons afgeskryf? Was die beloofde land dan net ’n kortstondige droom?

Nee, nee, nee! God het sy volk lief, ten spyte van al hulle ontrou. Hy is tog die getroue Verbondsgod. Hy het dubbele aanspraak op sy volk. Hy is hulle Skepper én Bevryder. Hy is by hulle. Hulle hoef nie, mag nie, bang wees nie. Dit is die troos wat Deutero-Jesaja verkondig.

3. Hoop uit God se troosboek.

Hoop vloei voort uit hierdie Goddelike troos. Bevryding is op pad. Die pad terug na Jerusalem word reeds voorberei. Daar wag ’n nuwe toekoms op God se volk.

Die belydenis dat God met sy mense is, kom gereeld in die Ou Testament voor. Dink byvoorbeeld aan God se bemoedigingswoord aan Josua: “Moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan” (Josua 1:9). Psalm 23:4 herinner ons dat selfs in donker dieptes God by ons is. Volgens Psalm 121:5 is God so naby soos my eie skaduwee.

Het julle dalk ook as kinders probeer om vir julle skaduwee weg te hardloop? Onmoontlik! God is by ons. Altyd. Oral. Hý reik na óns uit om in verhouding met Hom te wees en te leef.

4. Jesus is God met ons.

In Matteus 28 groet Jesus sy dissipels vir oulaas voor sy hemelvaart. Hulle het Hom aanbid, maar sommige het tog getwyfel. Wat nou? Jesus gaan weg. Wat word nou van sy dissipels? Wat word nou van sy koninkryk? Dan sluit Jesus weer aan by die God met ons-gedagte. Sy Naam is nie verniet Immanuel nie: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld” (vers 20).

Jesus lei sy dissipels uit ’n toestand van angs en twyfel en gee ons die troos van sy blywende teenwoordigheid. Hy koppel sy belofte van ewige teenwoordigheid aan die opdrag om ander tot dissipelskap te lei. Dit is ’n handeling wat op die toekoms gerig is.

Ons leef in die hoop op en verwagting van Jesus se terugkeer. Ons, sy dissipels, word nou medewerkers om sy koninkryk uit te bou. Ons word getuies. Ons word dissipelmakers. Dit hou ons besig. Ons word deel van die nuwe toekoms wat Jesus belowe. En Hy is by ons tot in ewigheid!

In ons verhouding met Jesus, is ons vrygemaak om voortdurend te bid, want God is in Christus elke oomblik van die dag by ons is.

5. Gebedstemas:

• Ons juig en jubel en prys God vir sy teenwoordigheid in Jesus Christus.
• Ons vier opnuut ons posisie as vrygekoopte sondaars voor God.
• Ons bely dat ons nie altyd Jesus se teenwoordigheid by ander gelowiges raaksien nie.
• Ons vra dat God op ’n besondere wyse sy teenwoordigheid sal sigbaar maak by diegene wat in gevaar verkeer, eensaam is en verstote voel.
• Ons bid om getroue volgelinge van Jesus te wees deur die jaar, wat ook al vir ons wag.


 

Dag 4: Bevry om uit God se beloftes te leef
Psalm 50:1-6, 14-15
Henco van der Westhuizen

1. “Waarom sou ek na die kerk gaan”.

Vanaf Januarie 1967 verskyn maandeliks artikels in De Kerkvoogdij, ʼn maandblad van die Vereniging van Kerkvoogdijen in die Nederlandse Hervormde Kerk. Die artikels deur Arnold van Ruler, professor aan die Rijksuniversiteit Utrecht, word later gepubliseer onder die titel Waarom zou ik naar de kerk gaan? (1971).

In hierdie herinneringsjaar is die vraag weer aktueel. Waarom sou ek vandag kerk toe gaan?

2. “Waarom sou hulle na die kerk gaan?”

Dalk is een manier om die vraag vandag te beantwoord om te vra na die betekenis van hierdie “Psalm van Asaf” (vers 1). Wat met die Psalm van Asaf bedoel word, weet ons nie werklik nie. Wat ons wel weet is dat die Psalm in die kultus, of in vandag se terme, die kerk gebruik is. In dié lig wys die Psalm dalk vir ons waarom dit vir húlle so waardevol was om in die kultus byeen te kom, in aanbidding. Waarom húlle kerk toe sou gaan.

Deur die Psalm in die kultus te gebruik is die kerkgangers herinner.

Hulle is herinner aan die feit dat hulle bevry is om die Here aan te roep: “Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp” (vers 15). Híéraan word hulle herinner! In die dag van benoudheid is hulle nie uitgelewer aan hulleself nie, selfs nie aan die heersers oor en van die kultus of kerk nie. Hulle is bevry om sélf die Here aan te roep. Die Here sal hulle uithelp!

Dit is ook deur die Hervormers benadruk: “We are not made of iron, so as not to be shaken by temptations. But this is our consolation, this is our solace – to deposit, or to disburden in God everything that harasses us. Confidence, it is true, brings tranquility to our minds, but it is only in the event of our exercising ourselves in prayers. Whenever, therefore, we are assailed by any temptation, let us betake ourselves forthwith to prayer, as to a sacred asylum” (Johannes Calvyn).

Maar dit is nie al waaraan hulle herinner is nie! Hulle word ook herinner dat hulle deur die Hére bevry is: “Die Here is God, Hy alleen is God” (vers 1). “Ek is God, Ek is jou God!” (vers 7). “Voor Hom uit brand ʼn vuur, rondom Hom woed ʼn storm” (vers 3). Die beelde van ‘n vuur en van ʼn storm word gebruik. Want die Here, van wie ons maar net in beelde kan praat, is soos ʼn brandende vuur, soos ʼn storm wat woed. Hy is werklik Hére! Maar nie net dit nie. Die Here is soos ʼn regter. “Die hemel getuig: Hý is die regter” (vers 6). Maar Hy is ánders as die beelde van regters wat hulle dalk gehad het. Want die hemel getuig: “God is regverdig” (vers 6).

Toe die Belydenis van Belhar op 26 September 1986 in die lig van ’n status confessionis deur die Nederduits Gereformeerde Sendingkerk aanvaar is, is dit juis die Here se regvérdigheid wat beklemtoon is. Hierin word bely dat die Here Homself openbaar het as die Een: “wat geregtigheid wil bring; wat in ’n wêreld vol onreg en vyandskap op ’n besondere wyse die Here van die noodlydende, die arme en die veronregte is; wat aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; wat die gevangenes bevry en blindes laat sien; wat die wat bedruk is, ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weeskinders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper; vir wie dit reine en onbesmette godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek; wat leer om die reg te soek”.

Maar ook dit is nie al waaraan hulle herinner word nie! Hulle word daaraan herinner dat hiérdie Here kom! “Ons God kom” (vers 3). “Uit Sion, stad van volmaakte prag, verskyn God in glans” (vers 2). Die Here is inderdaad nie ’n Here wat bloot verwyder is van wat hier met hulle aan die gebeur is nie. Hy is die Here wat kom, wat deel word van die werklikhede waarvan hulle deel is. Uit Sion, stad van volmaakte prag, verskyn die Here in glans. Hy het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself deur die jare selfs verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan hulle gelyk te word.

Só deurbreek Hy die stilte: “Hy bly nie stil nie” (vers 3). En ook hieraan word hulle herinner! Want die Here is nie apaties en stil oor wat in hulle werklikhede gebeur nie! Hy is alles behalwe stil! “Hy spreek” (vers 3). Hulle word daarom herinner aan die Here wat waarlik praat, wat spreek, wat as’t ware ’n stem het, wat in der waarheid sê wat gesê moet word!

Maar ook dit is nie al waaraan hulle herinner word nie. Want die Here deurbreek nie net die stilte nie. Die Here spreek nie net nie. Die Here róép! “Hy roep die hemel en die aarde op” (vers 4). “Hy roep die hele wêreld op, van waar die son opkom tot waar hy ondergaan” (vers 1). Hy roep húlle! “Maak bymekaar dié wat met ’n offer ʼn belofte met die Here gesluit het” (vers 5) of dalk ook gaan sluit. Hy roep hulle ook op. Hy roep hulle op om te betaal: “Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste” (vers 14). Die Here gee dus vir hulle ’n vocatio, ’n roeping!

En ook hieraan word hulle herinner. Want die Here wil nie met allerlei dinge betaal word nie (verse 8-13 en 16-22). Vir die Hervormers was dit van die allergrootste belang! Hulle het ʼn absolute aversie teenoor bygelowigheid gehad, ’n afguns teenoor allerlei afgodery.

Nee. Hulle word daaraan herinner dat hulle met hulle hele lewe moet betaal. “Lof is die offer wat jy aan God moet bring” (vers 14). “Die mens wat Hom eer, is die een wat lof as ’n offer bring. Hy wat reg lewe” (verse 15 en 23). Die Hervormers het gepraat van ’n lewe coram Deo. Hierdie lewe voor die aangesig van die Here is in der waarheid ’n andersoortige lewenswyse ín die wêreld. Die lewe coram Deo, is ’n lewe coram Deo loquendi, voor die aangesig van die sprekende Here.

3. “Waarom sou ons na die kerk gaan?”

Dalk is dit waaraan die Here ook vir ons in hierdie herinneringsjaar wil herinner. Dat óns deur die Here bevry is. Dat ook óns daarom die Here kan aanroep. Dat die Here ook na óns kom. Dat die Here ook vir óns die stilte deurbreek. Dat die Here spreek. Dat die Here óns roep. Dat Hy ook vir óns oproep tot ’n lewe voor die aangesig van die Here. In die wêreld!

Ja, dit is dalk vandag nog antwoorde op die vraag waarom ons na die kerk sou gaan.

4. Gebedstemas:

• Bid dat die Here ons sal help om herinner te word dat ons bevry is om Hom aan te roep.
• Bid dat die Here ons sal help om herinner te word dat Hý kom, die stilte deurbreek en spreek.
• Bid ook dat die Here ons sal help om opnuut herinner te word dat die Here ons roep en oproep tot ʼn lewe coram Deo.


 

Dag 5: As bevrydes dien ons mekaar met die evangelie
2 Konings 5:1-14
Myrtle Joubert

1. Goeie en slegte tye.

Alle mense, of dan sekerlik die meeste mense, beleef rooskleurige tye én krisistye. Dit is asof mense veral aan die begin van ’n nuwe jaar wanneer almal nuwe voornemens koester, meer intens bewus is van die begeerte om goed te lewe en dan dieper reflekteer oor hoe mens ander wil dien. Gedurende hierdie tyd van die jaar is ons ook meer bewus van gedeelde krisisse: moreel, ekonomies, ekologies, sosiaal, opvoedkundig en geestelik.

Daar is waarskynlik nie ’n enkele mens op aarde wat nog nooit sleg behandel is nie, of wat nie self iewers langs die pad iemand anders gekwets het nie. Wanneer mense en/of situasies ons teleurstel, verloor ons soms moed en beleef allerlei wroeginge. Daar ontwikkel emosies van woede, bitterheid of gegriefdheid. Dikwels tot so ’n mate dat negatiewe gevoelens verterend raak. Die situasies waarin ons verkeer, beïnvloed ons dikwels selfs fisies en geestelik veel dieper as wat ons self besef.

2. Genesing van Naäman.

In ons Skrifdeel word twee kontraste getrek, naamlik: ’n befaamde held met ’n ongeneeslike siekte, teenoor ’n nederige Israelitiese slavin wat uiteindelik die enigste hoop op herstel bied. Ons belig die kontraste van nader om vas te stel wat dit van God openbaar:
• ’n magtige militêre bevelvoerder, maar magteloos om homself te genees;
• ’n slaaf wat nie mag praat nie, maar haar oorheersers inlig oor waar hulp beskikbaar is;
• ’n koning wat radeloos is terwyl ’n geringe slavin die oplossing aanbied;
• ’n generaal wat gerespekteer word met die beste behandeling, maar hier normaal behandel word;
• die raad van konings help niks, maar die raad van werksmense bring hom ’n tweede keer by genesing;
• ’n welwillende kind wat van haar ouers gesteel/geroof/ ontvoer is, en;
• ’n arm slavin wat welwillend en sonder kwaad of wrokkigheid teenoor haar meester optree.

Indien hierdie jong meisie knorrig, stuurs, nors, onaangenaam, ongesellig en haatdraend rondgeloop het, sou Naäman nooit van sy siekte genees geword het nie. As die jong Jodin nie ’n eerlike slavin was nie, sou Naäman ooit op haar woord reageer het? Naäman reageer wel op haar woord, maar sou dit kon bevraagteken het omdat hy kon vra waarom hy hom aan ’n slavin, en dit boonop ’n kind, moet steur. Hy kon ook dink dat die meisie wraak wil neem omdat sy ontvoer is.

3. Sy het waarde toegevoeg.

Indien Naäman sou vermoed sy vertel leuens, sou hy nie al die uitgawes of moeite aangegaan het om die man van God te gaan ontmoet nie. Hy het wel waarde aan haar woorde geheg, nie slegs uit desperaatheid nie, maar moontlik ook oor die integriteit van die kind. Hierdie dogter voeg waarde toe met haar advies, terwyl al die geneeskundiges in Sirië niks vir die militêre leier kon doen nie. Sy was vir Naäman van meer waarde as al sy silwer en goud, of sy sosiale stand.

4. God werk deur enige mens op sy manier.

Die verhaal van Naäman se genesing en die rol wat ’n jong Joodse slavin in die vreemde land gespeel het, maak ons bewus van God se vrye handeling en sy inskakeling van mense in sy verlossingswerk. Hierdie Ou-Testamentiese verhaal het ʼn les vir Christen-gelowiges wat deur die bloed van Christus tot vryheid geroep is om God en die medemens te dien met die gawes wat God skenk.

God kan enige persoon, sy dit ’n jong Christen of die mees gemarginaliseerde mens, gebruik om die waarheid van sy reddende genade aan sondaars oor te dra. Die boodskap van versoening in Jesus Christus is die gawe van God dat almal wat in Jesus glo nie verlore sal gaan nie.

5. Met die oog op die nuwe jaar.

Mag ons as Jesus volgelinge hierdie jaar mense beïnvloed om die kwaad met goed, liefde en welwillendheid te beantwoord. Hierdie verhaal laat ons sien God stel nie slegs belang in mense se geestelike behoeftes nie, maar in elke daaglikse behoefte. God is gemoeid met sowel die geloofsgemeenskap, as met wêreldsake. Hy raak betrokke by enkelinge, uitgeworpenes en randfigure. God slaan ag op leiers van volke, maar ook op die geringes wat tot Hom nader om hulp.

Daarom kan (moet!) die geloofsgemeenskap (Christene) as bevrydes in Christus, die Here se skepping dien. Gee in hierdie jaar aandag aan die geestelike behoeftes van ander, maar ook ondersteuning in die konkrete daaglikse behoeftes. Demonstreer die liefde van God sigbaar, want ons is tot diens bevry deur Christus ons Here.

6. Gebedstemas:

• Bid vir krisissituasies: moreel, ekonomies, ekologies, sosiaal, opvoedkundig en geestelik.
• Bid dat Christen geloofsgemeenskappe mense sal beïnvloed om die kwaad met goed, liefde en welwillendheid te beantwoord.
• Bid vir alle mense se gewone daaglikse behoeftes.

7. Gebed (Deur prof. Nico Koopman)

Here, voorsien asseblief vir ons in ons talryke krisisse: moreel ekonomies, polities, opvoedkundig, maatskaplik, ekologies en geestelik.

Ons is midde in ʼn politieke krisis, liewe Heer. Ons land is ʼn demokrasie. Ons lyk goed op papier. Ons het een van die beste grondwette ter wêreld. Ons het min of meer goeie beleide en wette en prosesse wat daarop gerig is om die visie en die regte van die grondwet te implementeer.

Here, na twintig jaar van demokrasie gaan dit nie goed nie. Here, ons lyk nie goed op die speelveld nie. Here, ons het menseregte, maar ons samelewing kort ook die regte mense. Ons bely ons diefstal en leuens, ons korrupsie en bedrog, ons hebsug en gulsigheid, ons honger na mag en misbruik van mag en outoriteit, ons selfsug en verwaarlosing van dié wat in ons midde worstel om te oorleef, ons dobbel met die toekoms van ons kinders.

Here, gee ons leiers wat die welsyn en shalom van almal op die hart dra. Amen


 

Dag 6: As bevryde mense dien ons God aan wie alles behoort
Psalm 24 en Kolossense 1:15-20
Nthozakhe Cezula

1. God die Skepper.

Dit is eerstens belangrik om die genre van hierdie teks te identifiseer. Dit is ’n gedig. Poësie was ’n natuurlike medium waardeur die diepsinnigste menslike gevoelens en insigte verwoord is. Gebed, lofprysing, liturgie, wysheid en weeklag word oorgedra in die woorde van die digkuns. Psalm 24 is ’n liturgiese gedig. Die eerste vers sluit twee parallelle sinne in. Die eerste sin verklaar God se soewereiniteit oor die hele aarde. Die tweede sin bevestig God se soewereiniteit deur te spesifiseer al die bewoners van die aarde behoort aan die Skepper.

Die tweede vers voer die gesprek na ’n volgende vlak. Dit gee ’n rede waarom die aarde aan God behoort. Dit is omdat God dit op die seë gegrond en op die strome vasgestel het. Daar is meer aan hierdie stelling as bloot water. Die seë en strome simboliseer iets groters as slegs water. Die seë en strome simboliseer die chaos wat God met orde vervang het.

Die outeur gebruik skeppingstaal. Genesis 1:1-2 maak bekend dat God die hemel en die aarde geskep het. In die begin was die aarde vormloos en leeg. Daar was duisternis oor die wêreldvloed. Daar was chaos voordat God orde op aarde geskep het. Die oorwinning oor chaos het, in die woorde van Richard Clifford, die groot hindernis tot ’n ordelike heelal verwyder. James Luther Mays merk op dat chaos altyd daar is, vyandig jeens die ordelike wêreld. Maar die wêreld bestaan omdat die Here soewerein is en bly.

Volgens Walter Brueggemann het geen ander afgod of mag hierdie magte van chaos oorwin nie, behalwe God. Dit is die klem van hierdie opening met lofprysing. Dit is God – en nie chaos of Baäl nie – wat soewerein is oor die skepping. Hy het die chaos getem en orde na die wêreld gebring. Daarmee stem ek saam; ons is vry van chaos omdat God dit moontlik gemaak het. “Vryheid” is deesdae ’n gewilde woord in ons samelewing. Wanneer mense na vryheid verwys, bedoel hulle die meeste van die tyd dat ’n mens kan optree soos, en sê of dink wat jy wil. Vanuit ’n geestelike oogpunt gee die woord egter gestalte aan fundamentele religieuse beginsels. In hierdie geval, die religieuse beginsel van skepping.

2. God se heilige plek.

Soos die psalm vorder, skakel hierdie Skrifdeel die skepping aan die Skepper se heilige ruimte. Die outeur vra wie kan op die Here se berg klim en in sy heilige plek staan. Die antwoord is, slegs dié met rein hande en suiwer harte. Die hand verteenwoordig dade en die hart gedagtes. Sulke mense verhef nie hul siele na valsheid nie, of sweer vals nie. Daarom ontvang hulle seëninge van die Here en geregtigheid van die God van hul redding. So is die geslag van dié wat Hom soek, wat die gesig van die God van Jakob soek. Om sin te maak van hierdie scenario, beeld Brueggemann die tempel van Jerusalem uit as simbool van die skepping en die orde wat die Here gebring het. Daarom het dié wat in die Here se heilige plek aanbid ’n verantwoordelikheid tot suiwer dade en rein gedagtes. Diie klem op aanbidding is hier nie op ritueel nie, maar eerder op etiese handeling. Die verbintenis tussen aanbidding en etiek raak belangrik. Die vryheid wat deur die skepping aan die mensdom geskenk is, het die skepping as grondslag. Daarom is daar ’n verwagting dat aanbidders eties sal optree.

3. Die Erekoning.

God die Skepper is die aangewese Erekoning. Brueggeman beskryf Hom as die “magtige en triomfantelike koning wat in staat is om te verlos”. Hy kom om sy heilige plek in te gaan. Die hekke en deure is verhef sodat die Erekoning kan binnegaan. Hy word beskryf as God wat sterk en magtig is. Hy is God wat geweldig is in die stryd.

Volgens Clinton MacCann skakel die uitbeelding van God as ’n kryger vers 1-2 aan vers 7-10. Skepping is dikwels in die Antieke Nabye Ooste as ’n stryd beskou. God het teen chaos gewen en daardeur soewereiniteit gedemonstreer. Volgens MacCann kan die woord “leërskare” beide na ’n weermag én die byeenkoms van die hemelse wesens verwys. Die uitdrukking “Here van die leërskare”, kan dus God se soewereiniteit in die hemel sowel as op die aarde uitbeeld. McCann beskryf vers 7-10 as die dramatiese weergawe van die belydenis van vers 1-2. Ek weet dus intuïtief dat, deur die aanbiddende gemeenskap in die middel te plaas, die outeur vir ons wys hoe beskermend God teenoor hulle is.

4. As vry mense dien ons ’n God aan wie alle dinge behoort.

Nadat ons gehoor het wat Psalm 24 vir ons sê, behoort ons as Christene in hierdie tydvak van die geskiedenis, herinner te wees aan die bron van ons vryheid as vrygekoopte mense. Ons word ook herinner aan die implikasies van ons vryheid vir ons lewens. Ernst Conradie merk op dat vryheid en baie soortgelyke woorde in die sekulêre konteks, in geestelike taalgebruik opgeneem is, maar met gesekulariseerde konnotasies.

Volgens hom moet ons dus die evangeliese wortels van ons begrip van vryheid herwin, aangesien ons in ’n nuwe verbond in die bediening van Jesus van Nasaret, staan. Volgens Peter T. O’Brien se uitleg van die Kolossensebrief, behoort ons dade en denke op Jesus gefokus te wees omdat ons met Hom verenig is in sy dood en opstanding. Hy is dieselfde persoon wat geprys word as die verheerlikte Here van die skepping en versoening, in die grootse lofsang van Kolossense 1:15-20.

Ten slotte is Jesus die Here van skepping en vryheid. Daarom behoort ons as vrygekooptes Jesus en alles wat aan Hom behoort te dien.

5. Gebedstemas:

• Dank God dat Hy die aarde van chaos gered het.
• Bid dat God ons jongelinge insig in sy reddende dade sal gee.
• Bid dat God ons nasionale leiers sal red en hulle wysheid sal gee, sodat hulle geregtigheid en lewe sal bevorder.