Die lyding van Jesus Christus

Luther het gedurende die Lydenstyd van 1519 ’n “preek” (Sermon) oor die lyding van Christus gepubliseer. Hierdie “preek” is egter veel meer as ’n preek soos wat ons dit vandag ken. Die inhoud is wel aanvanklik gebruik vir ’n gewone preek binne gemeenteverband, maar dit is uitgebrei en omskep tot ’n kort artikel van agt bladsye. 2 000 van Luther se preke het behoue gebly, maar hy het dit nie self neergeskryf nie. Die diaken Georg Rörer het Luther se preke na afloop van eredienste uitgeskryf met gebruikmaking van Luther se notas. Talle korter geskriffies word wel “preke” genoem, om aan te dui dat die inhoud van die “boekies” of “traktate” vanuit preke ontwikkel het. Die inhoud van hierdie “preek” kon dus wel deur ander predikante gebruik word vir ’n gemeentelike preek, maar dit sou vrugbaarder gebruik kon word vir ’n Bybelstudie of ’n “gemeenteblad”. Vanselfsprekend is die inhoud van hierdie “preke” deur studente in die teologie en kerklike vergaderings bespreek, aangesien dit eerder teologiese literatuur was.

Luther se verstaan van Christus se lyding

Die “preek” onder bespreking dra die titel ’n Preek oor die verstaan van die heilige lyding van Christus / Ein Sermon van der Betrachtung des heiligen Leidens Christi. Hierdie geskriffie het 24 drukke beleef gedurende Luther se leeftyd. In die teks behandel Luther ’n tipiese vroomheidstema van sy tyd, naamlik die verinnerliking van die lyding van Christus. Sy bedoeling was om hierdie vraagstuk, as een van die sleutelvraagstukke van sy tyd, met ’n nuwe benadering te verhelder. Luther se kritiek op die Middeleeuse benadering was gerig teen die veruiterliking van die vroomheidspraktyk. Die blote nakoming van vroomheidrituele soos vas en gebed maak ’n mens nog glad nie welgevallig vir God nie. Die regte innerlike toe-eiening van Christus se lyding is belangrik. Christus se lyding kan alleenlik dán reg toegeëien word, wanneer ons ons eie sonde en verlorenheid erken. Slegs vanuit die perspektief van ons verlorenheid kan ons die diepte van God se liefde in Christus se lyding ontdek. Hierdie liefde moet as gawe (sacramentum) aanvaar word, en nadat dít gedoen is, kan die lewe van Christus ook as voorbeeld (exemplum) aangeneem word. Die voorbeeld wat Christus gestel het, was om in geduld en gelatenheid die lydensweg te stap aangesien Hy seker was van die liefde van God. Dit is hierdie sekerheid van die geloof wat Luther teenoor die Roomse vroomheidspraktyke gestel het.

Die inhoud van hierdie besinning

Luther het 15 stellings opgestel wat oor die lyding van Christus handel. Hy begin met menings wat kenmerkend was van daardie tyd. Hy verwerp die gedagte dat ons vir die Jode kwaad moet wees oor Jesus se lyding. Hy kritiseer die gedagte wat op Albertus Magnus teruggaan dat ’n mens net op Goeie Vrydag, vlugtig, aan Jesus se lyding aandag moet gee, aangesien dít nie die hart van die evangelie is nie. Hy het ook moeite met diegene wat medelyde met Jesus het, aangesien Hy as ’n onskuldige slagoffer beskou moet word. In die vierde stelling verdedig hy die standpunt van diegene wat daarop wys dat ons met vrees vir God se toorn vervul moet word aangesien Christus se lyding en dood die radikaliteit en omvang van ons sondigheid ontbloot. In die lig hiervan stel hy dat wanneer ons die doringkroon sien, ons moet besef dat ons dit daar geplaas het. Wanneer ons die spies sien, moet ons besef dat dit ons is wat dit in sy liggaam indruk. Hy sluit daarom aan by Bernard von Clairvaux wat geleer het dat ons nie soseer oor Jesus moet ween nie, maar oor onsself – ons wat eerder die dood verdien het.

Vanaf stelling agt redeneer hy dat die nut van die herdenking van Jesus se lyding en dood met menslike selfkennis te make het. Op Goeie Vrydag behoort dit dus ten diepste oor hermeneutiese selfontdekking te gaan. Ons moet ontdek wie en wat ons ten diepste is, naamlik mense wat afsydig is teenoor God en ons medemens. Ons in-ons-self-gekeerdheid is lewensverwoestend – nie net van ons eie lewens nie, maar uiteindelik ook dié van Jesus. In die negende stelling kom hy dan terug op die gedagte van verskrikking en vrees. Christus se lyding is nie die verskrikking nie, maar ons sonde – en daarom boesem die kruisiging vrees by ons in vir God se oordeel. Hierdie angs en vrees vir God se toorn kan nie ongedaan gemaak word deur vroom kerklike rituele nie, maar slegs dán wanneer ons deur geloof begryp word en aanvaar dat Christus se kruis ten diepste genade is. Wie een enkele dag só oor God se lyding nadink, doen beter as om ’n hele jaar lank deur rituele en doenighede genade van God te probeer afdwing. Wat Luther benadruk, is dat genade en barmhartigheid ontvang moet word, en dat ons dit nie moet probeer bewerkstellig nie. Vroom doenighede is nie genoeg om die verwoesting van ons sonde ongedaan te maak nie. God self wil dit doen – en ons moet dit só aanvaar.

In die twaalfde stelling neem Luther die argument ’n stappie verder. Goeie Vrydag en die besinning oor Christus se lyding is belangrik, maar die nadenke oor die evangelie kan nie daar stop nie. Ons moet aanbeweeg na Paassondag en die opwekking van Christus. Die worsteling van die gewete oor sonde en skuld is één aspek van die evangelie. Die ander aspekte het met vryheid en die vooruitsig op nuwe lewe te make. Aanhoudende gewetenswroegings oor ons mislukte menswees getuig nie van geloof nie. Geloof aanvaar die genade van Christus en beweeg aan om in vryheid en hoop verder te lewe. Luther herinner ons aan Paulus se argument dat Christus ter wille van ons sonde gesterf het, maar opgewek is ter wille van ons geregtigheid. Vergewing is dus één aspek van die evangelie; die ander aspek het met ons regverdigverklaring te make. Dit is hierdie aspek wat Luther in sy lewenswerk wou beklemtoon, wat maar moeilik omarm word – ook in ons eie Kerk.

In die veertiende stelling konsentreer hy op die vraag van geloof (onthou – ons moet glo wat Christus vir ons bewerk het!). Hy erken die feit dat sommige mense dit moeilik het om die evangelie te glo. Sy argument is dat ons ’n goeie rede het om die evangelie wel te glo. In Christus se lyding sien ons sy liefde vir ons. Hy was bereid om vir ons te ly – en dít is tog ’n bewys van liefde. Luther argumenteer dat ons nie net na Christus se hart moet kyk nie; ons moet ook na sy Vader se hart kyk. God die Vader se hart is ook pure liefde, aangesien Hy sy eie Seun aan die dood afgestaan het – alles ter wille van ons redding en saligheid. Hoekom is dit dan so moeilik vir sekere mense om in God te glo? In die laaste stelling betoog Luther dat iemand wat Christus uit liefde en nie op grond van vrees nie omarm, Christus ook as voorbeeld vir die lewe kan aanvaar. Wanneer jy deur siekte geteister word, dink aan die verskrikking van sy doringkroon. Wanneer jy deur hoogmoedigheid bedreig word, dink aan sy nederigheid as gevangene. Wanneer die lis en onkuisheid jou verlei, dink aan die verskeuring van sy vlees. Wanneer jy deur nyd en haat gedryf word, dink aan sy vergewensgesindheid. Die vrugte van sy lyding het te make met ons navolging van sy voorbeeld. Regte Christene laat ander iets van Christus in hul lewens raaksien. Mag ons die geloof en genade ontvang om iets hiervan in ons eie lewens te laat realiseer.

 


© Kopiereg berus by Prof Natie van Wyk.

Die outeur neem volle verantwoordelikheid vir menings en standpunte uitgespreek.