Vryheid is naas regverdiging een van die sentrale begrippe waarmee Martin Luther gewerk het. In die hedendaagse Luther-navorsing word Reformatoriese teologie dikwels getipeer as vryheidsteologie. Indien ’n mens dus wil weet wat Luther ten diepste geleer het, moet ’n mens gaan kyk wat hy oor vryheid geleer het. Met behulp van die begrip vryheid het hy verduidelik waaroor die Nuwe-Testamentiese boodskap handel.
Die vryheidsgeskrif van 1520
In 1520 het Luther op 37-jarige ouderdom, in Duits vir die kerkvolk, een van sy invloedrykste werke onder die titel Oor die vryheid van ’n Christenmens / Von der freyheyt einiß Christenmenschen geskryf. Hy het hierdie werk blykbaar dadelik in Latyn vertaal (die amptelike taal van kerk en universiteit in daardie tyd) en dit met ’n begeleidende brief aan die pous gestuur. Die besending is bekend onder die titel Brief van Luther aan Pous Leo X. ’n Verhandeling oor die Christelike vryheid / Epistola Lutheriana ad Leonem Decimum summum pontificem. Tractatus de libertate christiana (opgeneem in WA 7, 42-73). Aangesien hier nie ruimte is om aan die hele geskrif aandag te gee nie, konsentreer ons onder andere op die tema wat ook in vorige artikels aandag geniet het, naamlik die verhouding tussen geloof en werke.
Vryheid, geloof en liefde
Luther begin hierdie traktaat of verhandeling met die vraag wat ’n Christenmens is en hoe dit met die vryheid gesteld is waaroor Paulus skryf. Hy antwoord hierdie vraag soos volg (hier volgens die Latynse weergawe):
’n Christen is geheel en al ’n vrye heer oor alles en niemand se onderdaan nie.
’n Christen is geheel en al almal se dienende kneg en aan almal onderdanig.
Hierdie stelling verwoord kortliks die inhoud van Romeine 13, 1 Korintiërs 9 en Galasiërs 4 en 5. Om hierdie weersprekende stelling oor vryheid en diensbaarheid te verstaan, moet ’n mens begryp dat die mens twee nature het. Hy is ’n geestelike en ’n liggaamlike wese tegelyk. Innerlik, geestelik, na sy “siel”, kan die mens ’n nuwe en vrye wese word, maar uiterlik, liggaamlik, as aardse wese, kan hy niks doen wat van hom ’n vrye wese kan maak nie. Niks wat hy doen (soos werke van barmhartigheid), en niks wat hy aantrek (soos ’n nonnekleed), kan hom in sy diepste wese verander nie. Trouens, booswillige mense kan ook goed doen en heilig aantrek. Al wat mense in hul diepste wese verander, is wanneer hulle luister na die gepredikte Woord en dít in die geloof aanneem. Die belangrikste werk wat dus van Christene verwag word, is om in Christus te glo, hierdie geloof te bestendig en dit te verdiep. Deur die geloof in Christus word alle ander gebooie indirek gehoorsaam, en is niks verder nodig om geregverdig te word nie. Ons word deur geloof geregverdig sonder die werke van die wet!
Van Christene word verwag om die wet (soos uitgespel in die tien gebooie en saamgevat deur Jesus in die dubbele liefdesgebod) te gehoorsaam. Ons weet egter dat ons dit om verskeie redes nie doen nie. Om hierdie rede herinner die wetsverkondiging ons aan ons skuld, ons gebrekkige gehoorsaamheid aan Christus se opdragte. Christelike vryheid bestaan in die wete dat ons slegs deur geloof in Christus ’n reg op bestaan voor God het. Die werke van die wet, soos die doen van barmhartigheid, lewer hiertoe geen bydrae nie. Indien mense voel dat hulle tóg iets moet dóén, moet hulle die eerste gebod gehoorsaam. Gehoorsaamheid aan die eerste gebod is nie net die grootste eer wat God aangedoen kan word nie, maar maak dit moontlik om na menslike vermoë aan ander verwagtinge te voldoen.
Een verwagting waaraan Christene moet en kan voldoen, is om soos priesters vir ander in gebed in te tree. Volgens Luther kry ons deur ons geloof in Christus deel aan sy priesterskap – en priesterskap beteken ten diepste om vir ander voorbidding te doen. Dít kan en moet alle Christene doen. Om kos en klere te gee, is baie belangrik, maar terselfdertyd moet ons vir diegene in nood bid. Wanneer albei gedoen word, kan daar sprake wees van ware navolging van Christus. Om vir ander te kan bid, is vryheid teenoor jou eie bestaansnood nodig – en hierdie vryheid is vrug van die geloof in die belofte van God se vryspraak.
Hierdie geskrif is een van die eerste waar Luther die gedagte van die “algemene priesterskap van die gelowiges” geleer het. Dit was in 1520 ’n revolusionêre gedagte aangesien die Roomse priesters ’n klein, eksklusiewe groepie mense was. Hy het dus hierdie groep se mag, status en bevoorregting bevraagteken. Aangesien Luther geweet het dat mense sou vra hoekom daar hoegenaamd predikante moet wees as alle lidmate priesters gemaak word, het hy die volgende gesê ter begronding van die amp van predikant: Almal kan voorbidding doen en oor Christus getuig, maar almal kan nie preek nie. Prediking is iets anders as om bloot die historiese verhaal van Jesus te vertel. Prediking is Christus-prediking.
Maar daar moet só oor Christus gepreek word dat geloof vir my en vir jou daaruit sal ontstaan, groei en behou word. Geloof word gewek en bewaar wanneer daar verduidelik word waarom Christus gekom het, hoe ’n mens jou deur Hom laat bedien, hoe Hy nuttig gemaak kan word, en wat Hy vir my gebring en gegee het. Dít gebeur wanneer ’n mens die Christelike vryheid, wat ons van Hom ontvang het, reg uitlê, naamlik dat ons almal konings en priesters is, heer is oor alle dinge, en alles wat ons doen vir God se oë aangenaam sal wees … Wanneer ’n hart Christus só aanhoor, sal dit opvrolik op grond van die troos wat ons ontvang, en Christus met blydskap liefhê.
Oor die tweede deel van sy dialektiese stelling het Luther die volgende te sê: ’n Christenmens is ’n diensbare kneg en alle mense onderdanig. Dít beteken: In soverre dit sy vryheid aangaan, hoef ’n mens niks te doen nie. In soverre hy kneg is, moet hy allerlei dinge doen. Wat is dit dan wat ’n gelowige moet doen? Gelowiges kan en moet baie goeie dinge doen uit vrye liefde en tot God se behaaglikheid. Wat hierdie goeie dinge is, weet elke Christen op grond van Matteus 25 – naamlik liefde wat uitmond in die werke van barmhartigheid. Ons hoef dit nie vir mekaar uit te spel nie. Luther worstel eerder verder met ’n ander vraag, en dit is: Hoekom word die goeie nie gedoen nie? Waarom lewer die kerkmense nie die vrugte van die Gees op nie? Hy antwoord hierdie vrae met die volgende beroemd geworde woorde:
Goeie werke maak nooit van iemand ’n goeie, regverdige mens nie, maar ’n goeie, regverdige mens doen goeie, regverdige werke. Slegte werke maak nooit van iemand ’n slegte mens nie, maar ’n slegte mens doen slegte werke. Om hierdie rede moet die persoon uit die staanspoor goed en geregverdig wees sodat goeie en regte werke vanuit hierdie geregverdigde persoon kan voortvloei. Dit is soos wat Christus sê: ’n Slegte boom dra nie goeie vrugte nie. ’n Goeie boom dra nie slegte vrugte nie.
Luther se argument is dat slegs mense wat deur die geloof geregverdig is, of dan goeie mense gemaak is, voortdurend goeie en regte dade (werke van barmhartigheid) sal voortbring. Ongelowiges kan ook goeie dinge doen, maar sal dit nie aanhoudend kan doen nie, aangesien hul selfsug en eersug hulle daarvan sal weerhou. “Slegte mense”, mense wat permanent ’n stryd het om hul eie bestaan te regverdig, kan nie standhoudend goed doen nie. Die “goeie mens” wat egter deur die geloof van aanhoudende pogings tot selfregverdiging bevry is, kan in vryheid sy naaste dien deur aanhoudend goed te doen.