Die 95 stellings oor die aflaat

Daar word gereeld in kerklike literatuur verwys na die “die 95 stellings oor die aflaat” wat Martin Luther op 31 Oktober 1517 teen die deur van die “kasteelkerk” in Wittenberg sou vasspyker. Die oorspronklike geskrif in Luther se handskrif is verlore. Wat ons wel het, is ’n Latynse teks wat in 1517 deur Hieronymus Höltzel in Nürnberg gepubliseer is – wat ons vermoed ná aan die oorspronklike moet wees. Die volledige titel lui: Disputasie ter opheldering van die krag van die aflate / Disputatio pro declaratione virtutis indulgentiarum. Om feit van fiksie te onderskei, moet geweet word wat in die aanhef van hierdie 95 stellings staan. Daar staan geskryf:

Uit liefde tot die waarheid en in verlange om dít te verhelder, moet die volgende stellings in Wittenberg krities gedebatteer word onder die voorsitterskap van die eerwaarde Vader Martin Luther, Magister in die Vrye Kunste en die Heilige Teologie, dáár ook volle professor in die teologie. Om hierdie rede versoek hy diegene wat nie teenwoordig kan wees nie om met ons mondelings debat te voer nie, om dit skriftelik te doen. In die Naam van onse Heer Jesus Christus. Amen.

Die oorspronklike bedoeling was dus om ’n kritiese openbare debat oor die aflate te voer onder voorsitterskap van die professor in teologie. Die gedagte was dus nie om met ʼn magsvertoning ’n verklaring uit te reik waarin die gesagsfigure aangekla en veroordeel word nie. Luther was in 1517 nie ’n kerklike gesagsfiguur nie (hy was enkele jare tevore wel iets soos ’n “ringsvoorsitter”). Hy was vanaf 1508 ’n dosent in moraalfilosofie en sedert 1512 professor in teologie wat krities na die kerklike praktyk gekyk het, en die publiek uitgenooi het om saam moet hom dinge wat duidelik verkeerd was, te debatteer.

Om hierdie teks histories te begryp, moet onthou word dat dit oorspronklik op 31 Oktober 1517 ’n aanhangsel was tot ’n brief aan die Biskop van Magdeburg en Mainz, wat ook die administrateur van die bisdom Halberstadt was, Kardinaal Albrecht von Brandenburg, wie se tuiste sedert 1514 tot en met 1541 in Halle was – nie te ver van Wittenberg af nie. In die brief kla hy teenoor sy kerklike opsighouer oor die verkeerdheid van die aflate en veral die verkeerde geloof wat daarmee gepaard gaan. Wat van groot historiese belang is, is dat hierdie “beswaarskrif” as “Martin Luther” onderteken is. Die vraag is, hoekom? Omdat hy op 10 November 1483 as Martin Luder gebore is. Hy het self besluit om vanaf 31 Oktober 1517 as “Vader Martinus Eleutherius Luther” bekend te staan. Naas die Latynse spelling van sy van, het hy sy naam met Eleutherius (vryheid) uitgebrei. Met hierdie naam wou hy aan almal sê dat hy ’n nuwe mens is – ’n mens met ’n nuutgevonde evangeliese vryheid. Van hierdie datum af wou hy (wat nog steeds ’n priester was) bekendstaan as ’n “verteenwoordiger van die vryheid van die evangelie”. Hy het danksy sy nuwe insigte in die evangelie besef dat hy nie meer ’n gevangene is van die dwang om goeie werke te doen nie. Hierdie goeie werke het onder andere die koop van aflate (tasbare bewyse van sondevergewing) ingesluit. Die geld wat op hierdie wyse ingesamel is, was bestem vir die bou van die Vatikaan in Rome (soos dit vandag bekendstaan). Met ander woorde: Luther het tot die insig gekom dat Christene nie afgepers kan word om finansieel by te dra tot die bou van ’n reuse kerklike kompleks, met die onsinnige belofte dat hierdie bydrae vir hulle vergewing van sondes kon koop nie. Om hierdie rede het hy homself as ’n bevryde mens beskou.

Die boodskap van hierdie stellings het die Duitse bevolking egter nie bereik vanweë die Latynse teks en die uitleg daarvan vroeg in 1518 (bekend as die brief aan sy biegvader Johannes von Staupitz, Verduidelikings van die stellings oor die krag van die aflate / Resolutiones de indulgentiarum virtute) nie. Hulle het die inhoud geleer danksy die Duitse Preek oor die aflaat en genade / Sermon von Ablass und Gnade. Van hierdie “preek” (ʼn traktaat in die vorm van ’n klein boekie) het daar 15 uitgawes in 1518 verskyn. Hierdie boekie het Luther as skrywer bekend en beroemd gemaak, en nie die stellings self nie. Daar word vandag in die navorsing getwyfel of die 95 stellings op 31 Oktober 1517 wel, en alleen, teen die kerkdeur van die “kasteelkerk” vasgespyker is? Hieroor handel die volgende artikel.

Die inhoud van die 95 stellings

Die volgende seleksie uit die 95 stellings kan vir ons steeds vandag van waarde wees:

  1. As die heer en meester Jesus Christus sê Bekeer julle (doen boete), aangesien die koninkryk naby gekom het, wil Hy dat die mens hom in sy geheel bekeer.
  2. Hierdie woord moet nie tot die sakrament van bekering (boetedoening) beperk word nie – met ander woorde, tot die bekering wat met bieg en vergewing (genoegdoening) te make het, en wat deur die amp en diens van die priester voltrek word nie.
  1. Die pous wil en kan nie mense van straf vryspreek, buiten dié wat volgens sy eie of kerklike oordeel opgelê moet word vir oortredings van kerklike wette nie.
  2. Die pous kan nie bepaalde skulde vergewe nie; hy kan slegs verklaar en bevestig dat dit deur God gedoen sal word…
  1. Dom en booswillig is die priesters wat sterwende mense op grond van hul kerkregtelike tugbevoegdhede met die vaevuur dreig.
  1. Die aflaatpredikers dwaal wanneer hulle beweer dat mense deur die aflate van die pous van straf verlos en gered kan word.
  2. Die pous sal goed doen deur nie op grond van sy [aardse] tugbevoegdheid oor gestorwenes te wil beskik nie, maar om eerder net vir hulle voorbidding te wil doen.
  3. Diegene wat preek dat die siele uit die vaevuur bevry word sodra die munte klinkend in die koffer val, lieg en bedrieg.
  4. Elke ware Christen, lewend of gestorwe, het op grond van God se geskenk deel aan die weldade van Christus en die kerk, sonder ’n aflaatbrief.
  5. Hieroor moet Christene onderrig word: Om vir ’n arm mens te gee en aan ’n behoeftige te leen, is beter as om ’n aflaat te koop.
  6. Hieroor moet Christene onderrig word: Wie van ’n behoeftige wegkyk en aflate koop, kom nie binne die werkingsveld van die pouslike aflaat nie, maar kom te staan voor God se toorn.
  7. Hieroor moet Christene onderrig word: Wie nou nie juis in oorvloed lewe nie, is juis verplig om na sy huisgesin om te sien. Niemand mag sy [gesinslewe] vernietig ter wille van aflate nie.

Met sy 95 stellings wou Martin Luther minstens die volgende duidelik maak:

  • ’n Mens kan jou verlossing nie koop nie. Jy kan dit nie koop deur groot bedrae geld vir die kerk te gee nie. Verlossing kom deur God se genade, en dít moet geglo word.
  • Beskikbare geld moet aangewend word om goed te doen aan minderbevoorregtes.
  • Geld moet oordeelkundig aangewend word. Veral diegene wat dit nie breed het nie, moet nie ondeurdag geld uitdeel nie.

 


© Kopiereg berus by Prof Natie van Wyk.

Die outeur neem volle verantwoordelikheid vir menings en standpunte uitgespreek.