Die lees van die Bybel en teologiebeoefening

Danksy Martin Luther het die Bybel weer die sentrale fokuspunt in kerk en teologie geword. Die feit dat die Afrikaanse kerke daarop roem dat hulle, getrou aan die Reformasie, baie aandag aan die Bybel gee, beteken nie dat hulle werklik besig is met die inhoud van die Bybel nie. Wanneer “die wandel in die Woord” by die opening van vergaderings baie duidelik met manipulasietegnieke verband hou, weet jy dat mense nie met die Woord gekonfronteer wil word nie, maar dat die Woord bloot ingespan word vir eie agendas. Wanneer teoloë met temas besig is wat nie regtig in die Bybel voorkom nie, soos sin en die soeke na sin, weet jy dat die inhoud van die Bybel vir hulle nie van groot belang is nie. Om hierdie rede is dit belangrik om terug te keer na die primêre geskrifte van Luther om opnuut, en dalk vir die eerste keer, te hoor wat van die Bybel ’n buitengewone boek maak, hoe ons daarmee moet omgaan, en wat ons daaruit kan kry. Uit sy geskrifte kan ons opnuut leer waarmee die Bybel ons wil konfronteer en waarvan ons gespaar kan bly deur die Bybel reg uit te lê.

Twee belangrike voorwoorde

Luther het twee belangrike voorwoorde geskryf waarvan elke predikant en lidmaat kennis moet neem. In 1539 [WA 50,657-661] skryf hy sy Voorwoord tot die eerste band van die Wittenbergse uitgawe van die Duitse geskrifte / Vorrede zum ersten Band der Wittenberger Ausgabe der Deutschen Schriften, en in 1545 [WA 54,179-187] skryf hy ’n Voorwoord tot die eerste band van die Wittenbergse uitgawe van die Latynse geskrifte / Vorrede zum ersten Band der Wittenberger Ausgabe der Lateinischen Schriften. Ons gee eers aandag aan die voorwoord tot die Latynse geskrifte, aangesien die Latynse geskrifte in die meeste van die gevalle ouer is as die Duitse geskrifte.

Luther begin deur verskoning te maak vir die feit dat sy geskrifte nie sistematies en georden is nie. Hy vra dat mense wat op soek is na ’n sistematiese oorsig oor die Reformatoriese leer, eerder Melanchthon se Loci Communes moet raadpleeg. Hy kyk dan terug op sy vroeë werke en gee ’n verduideliking oor hoekom hy oor sekere dinge moes skryf. Interessant is dat hy 28 jaar ná die opstel van die 95 Stellings verduidelik dat hy op die aflaatprediking móés reageer aangesien dit ten diepste oor geldelike gewin (welvaartsgodsdiens!) gegaan het. Deur voor te gee dat geld ingesamel word vir barmhartigheidsprojekte, maar die geld dan aan te wend vir luukshede in Rome, was vir hom totaal onaanvaarbaar. Sou Luther vandag gelewe het, en hy die welvaartsteologie moes aanhoor, sou hy seker hartversaking gekry het. Ná 500 jaar, ten spyte van vrye toegang tot die Bybel, sukkel ons dus steeds met dieselfde saak, naamlik om geld te maak uit godsdiens.

Aan die einde van hierdie voorwoord noem Luther ’n ander saak wat steeds van uiterste belang is. Hy vertel hoe hy tot die kern van die Nuwe-Testamentiese boodskap deurgedring het. Deur oor en oor met die Psalms, Romeine, Galasiërs en Hebreërs besig te wees, het hy uiteindelik ontdek dat hy (en die kerk van sy tyd) die gedagte van “God se geregtigheid” totaal verkeerd verstaan het. Hy het hierdie begrip filosofies verstaan, terwyl dit ’n teologiese begrip is wat slegs verstaanbaar word wanneer dit teologies verstaan en uitgelê word. Die filosofiese argument is dat God regverdig is omdat Hy die sondaar en die onreg straf. Die teologiese argument is dat God regverdig is omdat Hy die sondaar genadig is. In sy eie woorde:

Totdat ek, deur God se erbarming … op die verbinding van hierdie woorde begin let het, naamlik “dat die geregtigheid van God daardeur geopenbaar word, soos geskryf staan, dat die regverdige uit die geloof lewe”; [eers van toe af] het ek die geregtigheid van God begin verstaan as die gawe waardeur die geregverdigde lewe. Dít kom op die volgende neer: Deur die evangelie word die geregtigheid van God geopenbaar, en wel as passiewe geregtigheid; dit is die [geregtigheid] waardeur die barmhartige God ons regverdig maak, en wel deur die geloof, soos geskryf staan: “die geregverdigde leef uit die geloof”. Eers toe het ek gevoel soos ’n hergebore mens wat deur die geopende hekke van die paradys kon loop.

Hierdie, moeilik vertaalbare woorde, sou die hart van die Reformatoriese teologie word. Die hart van die Nuwe-Testamentiese boodskap! Om dít vandag vir ’n “sinsoekery” te verruil, is nie net verraad teenoor die Reformasie nie, maar ook verraad teenoor die Nuwe Testament.

Die voorwoord tot die Duitse geskrifte is in 1540 ook as ’n aparte boekie gepubliseer. Hierin gee hy raad hoe “teologie op die regte manier en wyse bestudeer moet word”. Die hoofargument is dat geskrifte van die kerkvaders en die konsilies interessante leesstof mag wees, maar dat dít nie die stof is wat bestudeer moet word nie. Hy sê dan in dieselfde asem dat ook sy eie geskrifte nie té ernstig opgeneem moet word nie. Die enigste waarde wat dit moontlik sou kon hê, is dat dit iemand nader aan die Bybel sou kon bring. Dan volg die raad oor hoe die Bybel benader moet word; óf anders gestel, hoe teologie beoefen moet word. Volgens Luther word regte teologie uit drie stappe gebore, naamlik gebed (oratio), meditasie (meditatio) en aanvegting (tentatio).

Gebed

Die Bybel is ’n boek wat alle ander boeke na gekheid laat lyk, aangesien dit die enigste boek is wat oor die ewige lewe handel. Vir die menslike rede is juis dít totale gekheid, en daarom moet die Bybel deur gebed benader word. Daar moet gebid word om opheldering deur die Heilige Gees, aangesien die menslike verstand alleen jou nie gaan help om die Bybel te verstaan nie. Die dinge wat die verstand te bowe gaan, benodig ’n benaderingswyse waaraan die verstand nie gewoond is nie, en dít is gebed en die leiding van die Heilige Gees.

Meditasie

Die Bybel moet weer en weer gelees word. In stilte moet daaroor nagedink word. Dit moet bepeins word. Meditasie is egter nie net ’n innerlike aangeleentheid nie. Dit is ook ’n uiterlike saak. Hiermee bedoel Luther dat daar voortdurend oor die Bybel gepraat moet word; die tekste moet gereeld gepreek word; en daar moet reëlmatig oor die inhoud gesing word. Sonder hierdie aanhoudende herhaling, sal die belang van die Bybel nooit ontdek of besef word nie.

Aanvegting

Onder “aanvegting” verstaan Luther kritiese nadenke, worsteling en selfs betwyfeling. Aanvegting is die proefsteen vir werklike begrip en verstaan van die Bybel. Dit is egter ook die waarborg dat ’n mens die troosvolheid van die inhoud sal beleef en tot die besef sal kom dat hierdie wysheid alle ander wyshede oortref. Hierdie benadering lê ten grondslag van ons Kerk se oortuiging dat teologie, kritiese teologie moet wees. Die waarheid van die Woord kan nie vir eens en vir altyd in boeke en dokumente geformuleer word nie. Dit moet altyd weer van nuuts af ontdek word deur bestudering van die Bybel, gebed en die leiding van die Heilige Gees. Kritiese teologie beteken ook om die kerklike praktyke krities te beoordeel. Die vraag wat dink ons doen ons? moet aanhoudend gestel word – en niks en niemand moet gespaar word nie.

Luther sluit hierdie voorwoord af met die bede om een belangrike saak, naamlik nederigheid – nederigheid in ons pogings tot nadenke oor die inhoud van die Bybel. In sy eie woorde:

Laat ons eer soek en hoogmoedig wees waar ons toegelaat word. In hierdie Boek behoort die eer aan God alleen. Daar staan ook: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Aan Hom kom die eer toe tot in ewigheid. Amen.

 


© Kopiereg berus by Prof Natie van Wyk.

Die outeur neem volle verantwoordelikheid vir menings en standpunte uitgespreek.