Martin Luther het in 1525 een van sy hoofgeskrifte onder die titel Oor die onvryheid van die wil / De servio arbitrio gepubliseer. Hy het maande lank aan hierdie werk geskryf – onder andere omdat hy in dieselfde jaar in die huwelik getree het en met ’n huishouding moes begin. In hierdie boek het hy aan ’n paar moeilike vraagstukke aandag gegee, soos die sonde, die menslike wil en die Bybelse Godsbegrip. Ons gee hier aandag aan die Christelike verstaan van God. Voordat ons daarby kom, eers ’n paar opmerkings oor die agtergrond van hierdie werk.
Die “diatribe” de libero arbitrio van Erasmus van Rotterdam (1524)
Geert Geerts, algemeen bekend as Erasmus van Rotterdam (1466-1535), was een van die grootste geleerdes van die laat-Middeleeue. Hy is veral bekend as die man wat in 1515 ’n Griekse teks van die Nuwe Testament saamgestel en gepubliseer het. Erasmus was een van die groot Humaniste – dit is mense wat die klassieke geskrifte van die Grieke weer onder die aandag van middel-Europa gebring het deur die geskrifte te vertaal en te publiseer. Alhoewel Erasmus ’n geweldige groot bydrae tot die ontwikkeling van die Reformasie gelewer het, het hy self nooit sy rug op die Roomse Kerk gekeer nie.
In 1524 publiseer Erasmus sy “Ondersoeke” na die vryheid van die wil. In hierdie “ondersoeke” maak hy gebruik van die deliberatiewe retoriek – dit is debatvoerende argumentering. Hierdie tegniek verhoed hom om finale uitsprake oor filosofiese en teologiese sake te maak. Dít pas ook in by sy verstaan van die Christendom, naamlik ’n navolgingsgodsdiens gebaseer op die bergrede, sonder groot, gekompliseerde uitsprake oor leeraangeleenthede. Een konsekwensie van hierdie benadering tot teologie is dat niks gesaghebbend kan wees nie – nie die konsiliebesluite nie, maar ook nie die Skrif nie. ’n Ander konsekwensie is dat die skeptisisme die oorhand kry oor die sekerheid – die sekerheid van God en sy liefde. Dit is hierdie tipe argumente wat Luther na die pen laat gryp het, aangesien dít die standhoudende geloof in God bedreig.
De servo arbitrio (1525)
Luther se antwoord (dat die menslike wil nie vry is nie) op Erasmus se stelling (dat die menslike wil wel vry is), lyk of dit op ’n reusemisverstand berus aangesien die twee nie oor dieselfde sake debat voer nie. Luther het Erasmus egter baie goed verstaan, maar hy, as teoloog, wou iets anders beklemtoon as wat die filosoof Erasmus beklemtoon het. Luther het Erasmus se werk doelbewus verkeerd, as ’n dogmatiese traktaat, gelees, en só het hy die geleentheid gekry om ’n paar belangrike teologiese perspektiewe te belig. Luther het dus nie van Erasmus se filosofiese argument oor die vryheid van die wil verskil nie, maar daarop gewys dat wanneer hierdie filosofie as teologie aangebied word, die saak problematies raak vir die geloof.
Voordat ons by die Godsvraag uitkom, eers twee prinsipiële vertrekpunte wat Luther in hierdie werk uitgelig het, wat van kardinale belang is om reg oor die God van die Bybel te kan praat: a) Sekerheid (assertio) oor ons belydenis en die geloof in Christus is onlosmaaklik verbonde. Volgens Luther het Christene vreugde aan verbindende uitsprake. Hulle hou met ander woorde, sonder enige verleentheid, langdurig vas aan bepaalde uitsprake. Om hierdie rede verwerp Luther Erasmus se skeptisisme. Volgens hom is geloof ’n gawe van die Heilige Gees, en die Heilige Gees is nie ’n skeptikus nie. b) Die sekerheid van die geloof berus op die helderheid (claritas) van die Skrif. Die helderheid bestaan daarin dat die Bybel onmiskenbaar oor Jesus Christus handel. Die weersprekende en onduidelike gedeeltes in die Bybel maak nie daarvan ’n duistere geskrif nie. Ten spyte van problematiese gedeeltes, kan die blye boodskap oor Jesus Christus nie verbloem word nie.
Die God van die Bybel
Die God van die Bybel is ’n verborge God (Deus absconditus). Hy en sy wil kan nie werklik begryp word nie. Tóg kan hierdie verborge God ook geken, verstaan en liefgehê word, aangesien Hy hom volledig in Christus geopenbaar het. Dit is hierdie geopenbaarde God (Deus revelatus) wat ons aangaan. Danksy sy openbaring in Christus, waarvan die Skrif duidelik getuig, kan ons met sekerheid ons vertroue in Hom stel en oor Hom getuig. Luther het hierdie gedagtes in die volgende beroemde woorde saamgevat:
’n Mens moet anders debat voer oor God en die wil van God, wat aan ons verkondig, aan ons geopenbaar, vir ons aangebied en deur ons vereer word, as die God wat nie verkondig, nie aangebied en nie vereer word nie. In soverre as wat God Homself verberg en nie deur ons geken kan word nie, gaan Hy ons nie aan nie. Die volgende woorde geld inderdaad: “Wat bokant ons is, gaan ons nie aan nie”.
Hiermee wil Luther sê dat ’n filosofiese spekulasie oor God nie belangrik is nie. God is vir ons as mense slegs dán van belang wanneer Hy homself bekendmaak en ons Hom kan ken, vertrou en vereer. Anders gestel: Natuurlike kennis van God het geen waarde nie. Dit is slegs die Vader van Jesus Christus wat ons nadenke, gevoel en toewyding verdien. Om hierdie rede het Luther die teologie van die glorieryke God (theologia gloriae) beveg met die teologie van die God van die kruis (theologia crucis).
Hierdie tema van die verborge en geopenbaarde God is nie ’n randaangeleentheid nie. Dit kom regdeur sy teologie voor. Alreeds in sy eerste Psalmvoorlesings (1513) het hy op grond van Psalm 111 opmerkings oor hierdie tema gemaak. Hy wys daarop dat verborgenheid nie onsigbaarheid beteken nie en dat geopenbaardheid nie sigbaarheid beteken nie. Die kruis is vir almal sigbaar, maar dat God in en deur Jesus Christus, dáár aan die kruis, beslissend gehandel het, is slegs vir die geloof sigbaar. Geloof is daarom vir hom kennis van die Verborgene, en hierdie kennis het met die sekere wete te make dat God op ’n onverklaarbare wyse sy liefde en barmhartigheid bekend gemaak het. Ware en regte kennis van die verborge God is moontlik wanneer die ware betekenis van die kruis ontdek word, en hierdie ontdekking kan slegs plaasvind wanneer daar na die kerklike verkondiging geluister word.
Om op hierdie wyse oor God te praat, mag dalk na teoretiese haarklowery klink. Dit is egter vir die praktiese geloofslewe van kardinale belang. Dit kan geïllustreer word aan hand van die teodiseevraag – die vraag hoe God die bose kan toelaat; óf nog erger, of Hy nie dalk deur die bose werk nie? Luther verduidelik in sy geskrif Oor die onvryheid van die wil dat die teodiseeprobleem só problematies is omdat God se verborgenheid nie net te make het met die feit dat onverklaarbare dinge gebeur nie, maar dat God die slegte sowel as die goeie laat gebeur. Hy bewerk die dood, maar ook die lewe; die bose, maar ook die goeie (kyk Jes 45:7 en Am 3:6). God is verborge omdat die goeie wat Hy skenk, met die bose vermeng is; dat niks met ander woorde eenduidig sleg of goed is nie. Luther verwys in hierdie verband na Jakob se gestoei met die engel by die Jabbokdrif in Genesis 32.
Die vraag is: Kan ons hoegenaamd in God glo? Volgens Luther kan ons in God glo, maar dan nie in die verborge God wat ons vanuit die wêreldgebeure wil rekonstrueer nie, maar in die geopenbaarde God wat ons vanuit die kruis van Christus leer ken. Buite Christus om, kan God maklik as die duiwel self gesien word, maar vanuit Christus ken ons God as die liefdevolle, barmhartige Vader. Die “duiwel” is vir Luther die masker van die almagtige God in sy verskriklike verborgenheid. Die grootste aanvegting van die lewe is wanneer daar nie tussen God en die duiwel onderskei kan word nie. Hierdie geloofsworsteling kan net oorkom word wanneer God verstaan word vanuit sy grondlose barmhartigheid wat Hy in Christus aan ons bekend gemaak het. Tot hierdie God kan ons bid; ons kan selfs teenoor Hom kla, met die wete dat Hy ons met sy Vaderlike liefde aanhoor.
© Kopiereg berus by Prof Natie van Wyk.
Die outeur neem volle verantwoordelikheid vir menings en standpunte uitgespreek.