In die vorige artikel is gesuggereer dat die “vasspyker van die 95 stellings teen die kerkdeur van die kasteelkerk in Wittenberg” moontlik fiksie kan wees. Sou hierdie vermoede bevestig kon word, het dit groot implikasies vir die feesvieringe van 2017. Die Duitse kerkhistorici wat toegang het tot die argiewe in plekke soos Wittenberg, Mainz en Halle, het vanselfsprekend gedurende die laaste twee jaar weer intensiewe navorsing gedoen oor hierdie “verleentheid”. Ek deel graag die bevindings van twee leidinggewende navorsers, te wete Volker Leppin (Tübingen) en Armin Kohnle (Leipzig). Eers iets oor die herkoms van die debat.
Rooms-Katolieke navorsing
Vir meer as 400 jaar is 31 Oktober 1517 as die geboortedag van die Reformasie beskou. Hierdie datum is deel van die liturgiese kalender van elke Protestantse kerk, en elke katkisant en belangstellende in die geskiedenis aanvaar die kanonisiteit van hierdie datum. Luther self het sedert 1527, en die Lutherdom sedert 1617, hierdie datum as die geboortedatum van die Reformasie beskou. Die belangrike bron waarop gesteun word, is Philipp Melanchthon se biografie van Martin Luther. In hierdie biografie staan die volgende beroemde woorde:
Luther, brandend van vroom ywer, het die stellings oor die aflaat uitgegee, wat in die eerste band van sy werke gevind kan word. En hierdie [stellings] het hy openlik aan die kerk, aangrensend aan die Wittenberg-kasteel, op die dag vóór die fees van die heiliges 1517, vasgenael.
In 1961 bars ʼn bom toe die Rooms-Katolieke teoloog Erwin Iserloh in ʼn voordrag in Mainz beweer het dat die gebeure van 31 Oktober 1517 nie ʼn histories-bewysbare feit is nie. Die voordrag word in 1962 gepubliseer onder die titel Luther se aanbring van die stellings: Feit of legende? Sy argumente kan in die volgende punte saamgevat word:
- Hy wys daarop dat Luther self, in briefwisseling, daarop gewys het dat hy hierdie stellings eers aan sy kerklike opsighouer (die biskop van Magdeburg en Mainz, kardinaal Albrecht von Brandenburg) gestuur het met die versoek dat daaroor openlik debat gevoer (gedisputeer) moet word. Dit is dus onwaarskynlik dat hy, voordat die opsighouer (die biskop) daarop kon reageer, die stellings openbaar sou maak.
- Hy argumenteer dat Melanchthon se berig eers ná Luther se dood geskryf is, en daarom op die legende moes steun. Melanchthon self was nie ʼn ooggetuie nie, aangesien hy eers in 1518 na Wittenberg gekom het.
Nuwe Protestantse navorsing
Nog nooit is ʼn kerklik-teologiese aangeleentheid só driftig in akademiese, kerklike en sekulêre kringe bespreek nie. Uiteindelik het die media iets gehad wat hulle tot en met 1970 besig gehou het. Weens gebrekkige bronnavorsing kon die saak nie in daardie tyd besleg word nie. Die 500-jarige herdenking het navorsers egter gedwing om deegliker in argiewe te gaan rondkrap, op soek na histories-betroubare inligting.
In 2006 word toe ʼn nota (waarskynlik uit die jaar 1542) in die Universiteitsbiblioteek van Jena ontdek wat die debat ʼn entjie verder kon neem. Hierdie nota is van die diaken Georg Rörer (1492-1557), wat Luther se preke op skrif gestel het. Die nota was versteek in ʼn Luther-Bybel wat in 1540 in Wittenberg gedruk is. Die nota lees:
Die aand vóór die fees van die heiliges, in die jaar van ons Heer 1517, het doktor Martin Luther die stellings oor die aflaat teen die deure van die kerke in Wittenberg vasgespyker.
Rörer bevestig so die datum en die feit van die vasspyker van die stellings – en wel onafhanklik van Melanchthon. Wat nuut is, is sy verwysing na al die kerke van Wittenberg. Dít blyk ook nader aan die waarheid te wees. Op grond van nuwe argiefnavorsing weet ons ook vandag dat die Statute van die Universiteit van Wittenberg bepaal het dat die faktotum (ook genoem die huismeester of Pedell) die opdrag gehad het om inligting oor feesdae, disputasies en promosies aan die kerkdeure en die universiteitsgebou vas te spyker, sodat die hele dorp daarvan kennis kon neem. Hy het dus gereeld kennisgewings aan die deure vasgespyker. Die implikasie is dat daar ʼn klein oplaag van die oorspronklike teks gedruk moes wees, wat die faktotum oraloor kon vasspyker. ʼn Afskrif van hierdie oerteks is tot op hede nog nie gevind nie.
Wat egter onthou moet word, is dat hierdie uitnodiging van Luther nie met ʼn normale disputasie te make gehad het nie. Ons het hier te make met ʼn buitengewone disputasie – ʼn disputasie wat die Rooms-Katolieke skolastiek en die kerklike leerbeslissings krities uitgedaag het.
Leppin was in sy Luther-biografie (2010) nog heel skepties oor die historiese betroubaarheid van hierdie legende. In sy jongste boek (2016) gee hy toe dat die legende tog ʼn historiese basis het, en dat alles nie as fiksie afgemaak kan word nie. Sy blywende skeptisisme het te make met Luther se eie woorde in Mei 1518. In ʼn brief aan Johannes Staupitz skryf hy die volgende oor die 95 stellings van 1517:
Ek, egter, het gebrand om ywer vir Christus se onthalwe, só het dit geblyk, óf as ʼn mens dan wil, op grond van jeugdige voortvarendheid. Ek was egter van mening dat dit nie my opdrag was om in hierdie dinge bevindinge te maak of iets te doen nie. Nogtans het ek privaat enkele kerkvorste vermaan … Uiteindelik, toe ek niks bereik het nie, het die aangewese ding geblyk om hulle [die verteenwoordigers van die aflaat] heel sag te weerspreek, dit beteken om hulle leer in twyfel te trek en met hulle te disputeer. Om hierdie rede het ek disputasie-uitnodigings uitgedeel, en wel slegs geleerdes uitgenooi om met my te kom debatteer.
Op grond van hierdie woorde lyk ʼn openbare vertoning nie na ʼn waarskynlikheid nie. Wat seker is, is dat Luther vanaf 31 Oktober 1517 in ʼn oorlog gewikkel was teen die aflaatstelsel. Maar hierdie oorlog het uit akademiese debatvoering bestaan (aanvanklik slegs met diegene uit sy eie bekende vriendekring). Leppin wys dan tog nog daarop dat die teks met die 92 stellings baie vinnig regdeur Duitsland versprei is. Hy verwys na die uitspraak van Adolf von Anhalt, die biskop van Mersenburg, wat in ʼn brief daarop wys dat teen einde November 1517, hierdie stellings in tientalle stede en dorpe teen kerkdeure vasgespyker is. Waarom sou 31 Oktober 1517 dan blote fiksie wees?
Volgens Kohnle is dit om’t ewe of Luther of die faktotum die 95 stellings teen die deure vasgespyker het. Dit blyk dat dit wel sou gebeur het. Die feit dat Luther Kardinaal Albrecht ingelig en uitgenooi het, beteken nie dat hy die publiek nie ook sou kon uitnooi nie. Luther het geweet dat die disputasie van 1517 enorme konsekwensies sou hê, en daarom sou hy soveel lidmate van die kerk moontlik by hierdie debat wou betrek. Die kanse is dus skraal dat ons hier met blote fiksie te make het. Die feite is egter ʼn bietjie meer gekompliseerd as wat die legende te kenne wil gee.
Ons kan dus aanvaar, alhoewel nie met absolute historiese sekerheid nie, dat Luther en/of die faktotum van die Universiteit die 95 stellings op 31 Oktober 1517 teen die kerkdeure van Wittenberg vasgespyker het.
© Kopiereg berus by Prof Natie van Wyk.
Die outeur neem volle verantwoordelikheid vir menings en standpunte uitgespreek.