Almal weet dat die wêreld oor die laaste 500 jaar dramaties verander het. Ten spyte van al die uiterlike veranderinge, is daar tog sekere dinge wat dieselfde bly. 500 jaar gelede moes Luther die kerk opnuut oortuig dat jou regverdiging of saligheid nie afhang van baie godsdienstige pligpleginge nie. Hy het die kerk opnuut bewus gemaak van Paulus se stelling dat ’n mens deur die geloof alleen gered word (Rom 1:17). Vandag word ons al meer en meer aan die ou dwaling waarteen Luther gewaarsku het, blootgestel. Verlede jaar sê ’n predikant op ’n ringsvergadering dat die enigste kans wat die Kerk op oorlewing het, is om baie spoedig baie goeie werke te doen. Indien die Kerk nie vinnig met ’n klomp diakonale en gemeenskapsprojekte besig raak nie, sal die Kerk gewoon verdwyn – sê hy. Ons word dus vandag vertel: Doen, doen, doen; dan red ons onsself, die kerk en die wêreld! Só is ons terug by die stryd van 500 jaar gelede (net in ’n ander gestalte).
Die herdenking van die Reformasie bied aan ons die geleentheid om Luther se argumente met mekaar te deel. Deur sy argumente weer tot lewe te bring, kan ons opnuut ontdek wat Reformatoriese vryheid is. Vryheid is belangrik, aangesien ons weer slawe word van die baie dinge wat ons moet doen om onsself en ons kerkwees te regverdig.
Die primaat van die geloof
In 1519 stel Luther 16 stellings op onder die titel Stellings oor wet en geloof / Sententiae de lege et fide, wat hy in die openbaar verduidelik het. Hierdie stellings het ten doel gehad om gelowiges te help om die regte onderskeidings te maak – want dít maak van iemand ’n ware teoloog, sê Luther. Luther begin sy betoog deur te stel dat Christene (soos die Jode) veronderstel is om vreugde te vind in die wet van die Here. Aan die wet van die dade kan ’n mens egter nie vreugde vind nie, indien dit nie onderhewig is aan die wet van die geloof nie. Volgens Luther kom die geheim van Christenskap neer op die onderskeiding van die wet van die dade van die wet van die geloof. Wie Christenskap op die wet wil bou, eindig uiteindelik in ’n gewelddadige mens (wat wraak neem en vergeld). Die Goddelike wet verwag egter om dubbel terug te gee aan hom wat van jou vat. Dít kan en wil ons nie doen nie, en daarom is ons almal skuldig voor God. Deur aanhoudend menslike werke te doen, help ons nie in ons saak voor God nie. Slegs die geloof in die kruis en die sterwe aan onsself, plaas ons in ’n onskuldige posisie voor God.
Om dieselfde saak te verduidelik, het Luther ook ’n ander reeks stellings opgestel waarna ons kan kyk. In 1520 stel hy ’n reeks van 20 stellings op, bekend onder die titel Die vraag, of die werke iets tot die regverdiging bydra / Quaestrio, utrum opera faciant ad iustificationem. In hierdie reeks stellings maak hy die volgende duidelik: Die geloof alleen, sonder werke, regverdig voor God. Nogtans, sê hy, is dit onmoontlik dat die geloof sonder permanente, baie en groot werke kan wees. Hierdie werke, egter, kan iemand nie regverdig of skuldig maak nie. Die werke wat gedoen moet word, beteken in die oë van God niks nie.
Die rede hoekom Luther op hierdie gedagte hamer, het met die volgende te make. In stelling 12 sê hy: Fundamenteel vernietig die geloof die vertroue in die goeie werke, asook die vertwyfeling oor die bose. Geloof in Christus het dus volgens Luther niks te make met wêreldvertroue nie, aangesien dit die vertroue toespits op God alleen. Hy sluit af deur te stel: Geloof en geregtigheid kom nie uit die werke na vore nie, maar die werke kom uit die geloof en geregtigheid. Sy punt is: Die werke is nie die wesenlike van die godsdiens nie, en werke word slegs dán aanhoudend gedoen wanneer daar geloof is en daar uit die geregtigheid van God gelewe word. Luther het dus nie geleer dat Christene nie goeie werke moet doen nie, maar dat werke nie ons menswees allesoorheersend moet bepaal nie. Verder het hy geleer dat goeie werke in elk geval nie buite die geloof om moontlik is nie.
Goeie werke wat uit die geloof voortspruit
In 1520 het Luther vier lang traktate geskryf, wat onder sy hoofgeskrifte gereken word. Een van hierdie traktate dra die titel Oor die goeie werke / Von den guten werkenn [WA 6, 202-276]. Hierdie traktaat is die eerste “Protestantse etiek”, en wel in die vorm van ’n uitleg van die Tien Gebooie. In hierdie traktaat het hy die belangrikheid van goeie werke belig en beskryf wat goeie werke is. Interessant is dat hierdie werk oorspronklik in Duits geskryf is. Hy het dit eers in 1521 in Latyn vertaal. Teen 1525 het die Duitse uitgawe 13 drukke en die Latynse weergawe drie drukke beleef.
Luther het elke gebod met behulp van ’n reeks stellings verduidelik. Die eerste gebod is versien met 17 stellings. Ek meen dat hierdie 17 stellings ’n uitstekende verduideliking is van die aard en wese van goeie werke. Hy begin sy uitleg deur te beweer dat daar nie goeie werke buite die gebooie van God om bestaan nie. Goeie werke kan niks anders as gehoorsaamheid aan die gebooie wees nie. Tweedens beweer hy dat die edelste van alle goeie werke, geloof in Christus is. Sonder geloof in Christus, kom ’n mens nie by die diepste bedoeling van die eerste gebod uit nie. Geloof bring liefde, vreugde en hoop in die mens na vore – en hierdie is die dinge wat mense motiveer om goeie dinge te doen. Die goeie dinge wat gedoen moet word, is volgens Luther die normale daaglikse pligpleginge.
Hy verduidelik sy punt met die volgende argument: Mense dink dat hul daaglikse werk nie goeie werke is nie. Hulle dink goeie werke is groot goed wat hulle vir die kerk moet doen. Hierdie mense is verkeerd, aangesien die daaglikse doen en late van gelowiges vir die Here goed genoeg is. Die Here verwag nie van ons reuse-offergawes, baie gebede en skenkings vir armes nie, maar eerder ’n eerlike dag se arbeid, waarby almal uiteindelik baat vind. Gelowiges het nie ’n leermeester nodig insake goeie werke nie. Die Gees, wat aan gelowiges geskenk word, lei ons om dag vir dag te doen wat op ons pad kom. Mense wat twyfel oor die aantal en grootte van hul werke, twyfel eintlik oor hul geloof. Hulle twyfel oor die geloof aangesien hulle nie besef dat ons God nie met ons werke kan en moet beïndruk nie.
Luther verduidelik die samehang tussen geloof en die noodsaaklikheid om goed te doen aan hand van die problematiek van lyding. Wanneer mense siek en arm is, of ’n gebrek aan aansien geniet, twyfel hulle oor God se liefde vir hulle, en is dan traag om goed te doen aan ander. Ten opsigte van lyding moet ’n mens iets van God se verborgenheid begryp. Hy sê in die sewende stelling: Agter die lyding, wat ons soos ’n muur van Hom wil skei, staan Hy verborge en kyk na my sonder om my [ooit] te verlaat. Wie op hierdie verborge God vertrou in nood en lyding, sal die gelatenheid ontwikkel om daagliks goed te doen aan ander – en hierdie ander begin by die mense in jou huis.
Om voortdurend goed te kan doen, moet ’n mens vanuit die eerste gebod lewe. Luther lê hierdie gebod soos volg in die negende stelling uit:
Om ’n God te hê [of om in God te glo], impliseer nie dat jy Hom uiterlik met jou mond God noem nie, óf Hom op jou knieë met allerlei gebare aanbid nie, maar dat jy Hom van harte vertrou en alle goeie, genade en welbehae van Hom verwag … in lyding, lewe en sterwe.
Hierdie vertroue stel ’n mens in staat om goed te doen aan ander, aangesien jy nie meer oor jouself begaan is nie, maar kan konsentreer op die ander wat jou hulp nodig het.
© Kopiereg berus by Prof Natie van Wyk.
Die outeur neem volle verantwoordelikheid vir menings en standpunte uitgespreek.