Die teenswoordige betekenis van die opwekking van Jesus Christus

Wanneer daar vandag oor die opstanding van Christus geskryf word, word in die meeste gevalle gekonsentreer op die vraag of dit ’n werklike historiese gebeurtenis was. Tydens die leeftyd van Martin Luther was die opstanding van Christus en die verwagting van die opstanding van die ontslapenes aan die einde van die tye nie vrae wat krities gedebatteer is nie. Gedurende die laat-Middeleeue is die historisiteit van hierdie gebeure en verwagting nie bevraagteken nie. Kritiese vrae oor die historisiteit van die opstanding word eers sedert die Verligting (ongeveer 1650-1800) gevra. Luther het as kinderlike gelowige geglo dat die opwekking van Jesus ’n historiese feit is en dat die wederkoms en eindoordeel histories verwag moet word.

Luther het ook bitter min oor die opwekking van Christus as ’n aparte tema geskryf. Hy het meestal na die opstanding en die ewige lewe in samehang met die lyding en kruisiging van Christus verwys. Ons kom sy opmerkings oor die opstanding teë in sy uitleg van die geloofbelydenis, eksegetiese studies, briewe en dan veral sy preke. Die klompie opmerkings wat hy wel oor hierdie temas gemaak het, getuig van diepe eksegetiese begrip en sistematiese samehang. Ons kyk na enkele opmerkings wat hy gemaak het.

Sistematiese besinning

In Februarie 1528 publiseer Luther een van sy groot strydgeskrifte onder die titel Oor die Nagmaal van Christus. ’n Belydenis / Vom abendmal Christi. Bekendnis. Die inhoud het te make met die binne-Protestantse geskil oor die Nagmaal, en was Luther se laaste woord oor hierdie meningsverskil. Die laaste deel van hierdie geskif, is in die vorm van ʼn persoonlike belydenis. Hierdie gedeelte is ook dikwels as ʼn aparte geskriffie gepubliseer. Ons konsentreer hier op hierdie aparte deel wat met ons belydenis te make het. Aan die einde van hierdie besinning oor die Nagmaal en die belydenis, maak hy ’n insiggewende opmerking oor die opstanding aan die einde van die tyd. Hy sê:

Ten slotte glo ek aan die opstanding van alle dooies op die jongste dag, van sowel die vromes as die boosdoeners, met die bedoeling dat elke mens dan aan sy eie lyf sal ervaar wat hy verdien; die vromes sal in ewigheid met Christus lewe en die boosdoeners sal vir ewig saam met die duiwel en sy engele sterf. Verder is ek dit nie met diegene eens nie wat leer dat die duiwel uiteindelik ook die saligheid sal beërwe.

Luther raak, met goeie rede, twee temas aan wat eksegeties en sistematies met Jesus se opstanding verband hou. Hy raak die eindoordeel aan, aangesien die eindoordeel in die Nuwe Testament in verband staan met die opwekking van Christus. Handelinge 17: 31 is ’n goeie voorbeeld. Daar staan: …want Hy het ’n dag bepaal waarop Hy regverdig oor die wêreld gaan oordeel deur ’n Man wat Hy uitgekies het. As bewys daarvan vir almal, het Hy Hom uit die dood laat opstaan. Luther verdedig die “dubbele uitgang” by die eindoordeel – met ander woorde, hy verdedig die standpunt dat ongelowiges en mense wat onmenslik optree, met die oordeel en straf van God rekening moet hou. ’n Lewe ewig saam met Christus is slegs bedoel vir die gelowiges en wel die gelowiges wat soos Christene leef. Hy verwerp daarom die gedagte van “alversoening” – die gedagte dat God se genade só groot is dat elke boosdoener eventueel by God genade sal vind. Hy dryf hierdie teorie op die spits deur te argumenteer dat die duiwel self tog nie saam met die gelowiges gered kan word nie.

Luther se standpunt kom daarop neer dat hy nie kan insien dat die moordenaar dieselfde genade as die slagoffer kan ontvang nie. Indien dit wel die geval sou wees, sal “God se geregtigheid” ’n uiters problematiese idee wees. Aangesien die oordelende God vandag deur talle mense as ’n “bose God” gesien word, word daar gepoog om met begrippe soos “regskeppende geregtigheid” en “herstellende geregtigheid” te werk, met die bedoeling om die primaat van God se genade en barmhartigheid te beklemtoon.

Luther het in sy uitleg van die Credo (die Apostoliese Geloofbelydenis) aan die opwekking van Christus aandag gegee. In sy Klein Kategismus vir die gemeentepredikant en prediker / Der kleine Katechismus für die gemeine Pfarherr und Prediger (1529) het hy ’n kort uitleg van die Apostolicum aangebied. In hierdie uitleg het hy samevattend oor die betekenis van Jesus Christus se geboorte, dood en opstanding geskryf. Hy skryf:

Ek glo dat Jesus Christus … my Here is, wat my … verlos het, bevry het van alle sonde, die dood en die mag van die duiwel … sodat ek sy eiendom kan wees en in sy Ryk onder Hom kan lewe en Hom kan dien in ewige geregtigheid, onskuld en saligheid, net soos Hy wat uit die dood opgestaan het leef en regeer tot in ewigheid. Dit is gewis waar.

Luther spits sy uitleg toe op wat die tweede artikel van die geloof vir Christene beteken. Abstrakte leerstellige uitsprake is vir hom nie van primêre belang nie. Wat belangrik is, is wat Christus se geboorte, dood en opstanding vir gelowiges beteken. In die eerste instansie onderstreep hy die feit dat hierdie Christus van die belydenis, my Here is. Wat Hy vermag het, gaan my aan. My lewe word geraak. Christus se opstanding (wat nie los van sy menswording en dood bedink kan word nie) bevry my van sonde, dood en die bose (en hierdie drie sake word altyd saam genoem). Wat tweedens onderstreep moet word, is sy argumentering vanuit die “gerealiseerde eskatologie”. Met ander woorde, Luther sien bevryding van sonde, dood en boosheid nie net as ’n belofte nie, maar as iets wat nou alreeds ’n werklikheid is. So seker as wat Christus die dood oorwin het en nou alreeds oor alles Heer is, so seker is dit dat ek nou alreeds in die vrugte van sy bevryding deel, en daarom in ooreenstemming daarmee moet lewe. Dít alles leerstellig; maar hoe het hy hierdie oortuigings in die prediking hanteer?

Prediking oor die opstanding

Op Paassondag, 31 Maart 1532, preek hy laatmiddag oor die woorde van die Kategismus wat verband hou met die opstanding van Christus (opgeteken in WA 36,159-164. WA staan vir Weimarer Ausgabe; sy versamelde werke van uiteindelik 125 volumes). Insiggewend is dat hy die opeenvolgende gedagtes “neergedaal het na die hel, en op die derde dag opgestaan het uit die dood” as ’n eenheid behandel. Die rede: Hierdie twee aspekte van ons verlossing hang onlosmaaklik saam. Die opstanding van Christus kan dus volgens Luther nie as ’n geïsoleerde tema behandel word nie.

Hier is nie ruimte om volledig aan Jesus se “hellevaart” aandag te gee nie en ons konsentreer daarom slegs op die tweede saak. Één opmerking is egter belangrik. Sy “neerdaling na die hel” het die doel gehad om die dood en die bose (of die duiwel) finaal te oorwin – en sy opstanding is die bewys dat God deur sy sterwe en graflegging die sonde, dood en bose oorwin het. Die opstandingsboodskap is daarom vir Luther die hart van die Christelike geloof. Hieroor moet daar altyd blymoedig gejubel word. In sy preek beklemtoon hy dan weer die gedagte dat die opstanding van Christus as geïsoleerde tema nie ’n belangrike saak is nie. Dit is belangrik omdat ons met die verwagting kan lewe dat ons nou alreeds seker weet dat God ons ook uit die kloue van die sonde, bose en dood gaan red. Met Christus het ons opstanding alreeds begin.

Om dit weer te sê, die opstanding is vir Luther nie net ’n belofte nie, maar ’n teenswoordige werklikheid wat deur die doop bevestig word. Hierdie perspektief skep ’n totaal ander benadering tot die graf. As Luther na die graf kyk, sien hy blomme en vrolike mense in Christus se teenwoordigheid. By die graf moet ons vir mekaar sê, die nuwe lewe saam met Christus het reeds begin. Volgens Luther is die hoof en hart van ’n gelowige reeds in die hemel, al is die voete nog in die graf. Dít was sy manier om te sê: Ons deel nou alreeds in die nuwe lewe saam met Christus, al gaan die lewe op aarde nog voort. Luther beklemtoon dit dat God Christus uit die dood opgewek het en dat Hy nou in God se teenwoordigheid is. Christene glo dat dieselfde God hulle ook sal opwek – en dit is nie net ’n belofte nie, maar ook ’n sekere wete. Met sekerheid leef en sterf ons!

hr

© Kopiereg berus by Prof Natie van Wyk.

Die outeur neem volle verantwoordelikheid vir menings en standpunte uitgespreek.