Die regverdiging deur die geloof alleen

Luther-navorsers beweer dat die regverdiging deur die geloof alleen die middelpunt en grens van Luther se teologie is. Luther se pogings om die Nuwe Testament te verstaan en reg uit te lê, het daarom in ’n groot mate gedraai om die uitleg van tekste soos Romeine 3:21-31. Talle gelowiges het vandag net nie meer ’n aanvoeling vir die belangrikheid van hierdie tema nie. Daar word gemeen dat die Christelike godsdiens eerder neerkom op iets soos die ervaring van “sin en betekenis” of die ervaring van “geborgenheid”. Honderde teoloë het al pogings aangewend om vir moderne mense te verduidelik hoekom hierdie tema nie verswyg of verduister kan word nie. Sekerlik is hierdie pogings baie waardevol. In hierdie reeks stel ons egter vir Luther self aan die woord. Ek is oortuig dat wanneer ’n mens sy eie woorde lees, daar tog nuwe begrip ontstaan oor ’n saak wat dikwels vir mense duister mag wees.

Disputasies oor die regverdigingsleer

Luther het as professor twee groot verantwoordelikhede gehad, naamlik die aanbieding van lesings en die disputering van teologiese onderwerpe. Disputasies was kritiese gesprekke na aanleiding van ’n klomp stellings wat hy opgestel het. Hierdie kritiese gesprekke het aan hom die geleentheid gegee om sy menings in die openbaar voor te dra en te verdedig. Hy kon ook aan hand van hierdie kritiese gesprekke vasstel of iemand genoegsame kennis en insig gehad het om byvoorbeeld ’n doktorsgraad te verwerf. Ons gee aandag aan enkele disputasies in sy latere lewe.

Tussen 1535 en 1537 het hy meermale oor Romeine 3:28 gedisputeer. Sy stellings is beskikbaar onder die titel Stellings vir vyf disputasies oor Romeine 3:28 / Thesen für fünf Disputationen über Römer 3:28 (WA 39, I, 40, 44-204). In die eerste disputasie grens hy hom af teen die Roomse teologie wat beweer dat geloof nie regverdig maak alvorens dit deur die liefde gestalte kry nie. Luther, daarenteen, beweer dat geloof in Christus ons volledig bevry van die sonde, bose en die dood. Geloof hoef nie deur die liefde aangevul te word nie. Wat Christus gedoen het, het Hy vir ons gedoen – en dít moet geglo word. Die liefde vloei voort uit die persoon wat glo. Die liefde help die persoon nie om tot geloof te kom nie.

Luther onderskei daarom twee tipes geloof: a) geloof wat ingegiet word deur die verkondiging van die evangelie en die werk van die Heilige Gees, en b) geloof wat verwerf word deur die loop van jare se liefdesdiens. Volgens Luther is daar ’n groot verskil tussen hierdie twee tipes geloof. Die Reformatoriese verstaan van geloof sê: Christus het gesterf – en dít is vir my. Die Skolastiese verstaan van geloof sê: Christus het gesterf – en dit is belangrike historiese inligting wat deur my liefdesywer ’n werklikheid gemaak moet word. Luther stel dat die geloof wat glo dat Christus alles vir my gedoen het, die geloof is wat ons alleen regverdig, sonder die werke van die wet, deur God se barmhartigheid, wat aan ons deur die Christus-verkondiging meegedeel word.

Wanneer Luther sy gedagtes saamvat in stellings 62-64, word dit duidelik dat regverdiging ten diepste oor die geloof in God se erbarming handel. Hy sê:

Dat ons geregverdig is, het met God wat Hom erbarm te make, en nie met die mens wat daarna trag (om goed te doen nie). Wie werke volbring, mag heilig wees, wys wees, geregtigheid uitstraal, mag wees wat hy wil – wanneer die geloof egter ontbreek, bly hy onder die toorn van God en word verwerp. Hierdie uitspraak geld: Hy erbarm Hom nie net oor enkele nie, maar oor alle mense: Alleen God se barmhartigheid is ons geregtigheid, en nie ons eie werke nie.

Hierdie uitspraak van Luther verhelder die verborgenhede van die regverdigingsleer. Dit is alles heel eenvoudig: God is ons barmhartige Vader wat Hom oor ons ontferm. Hy het dit in Christus finaal en onteenseglik bewys. Ons moet net glo dat ons by hierdie belofte ingesluit is. Ons hoef Hom nie te probeer oortuig dat ons by sy barmhartigheid ingesluit behoort te word nie.

Luther het drie jaar voor sy dood weer ’n reeks stellings oor die regverdiging opgestel wat beskikbaar is (WA 39, II, 235-239) onder die titel Oor die regverdigende geloof / De fide iustificante (1543). Hierdie stellings was opgestel vir die doktorale disputasies van die diaken Friedrich Bachofen en die student Hieronymus Nopp in Leipzig op 24 April. Die stellings handel ten diepste oor die verhouding tussen regverdiging en goeie werke – ’n tema wat net nie finaal en bevredigend uitgepluis kan word nie. In die eerste instansie verduidelik Luther dat geloof nie sonder die werke van die liefde kan wees nie. Om egter standhoudend liefdesdiens te verrig, is dit noodwendig dat die persoon deur die regverdiging vernuwe sal word. In die tweede instansie verduidelik Luther wat met geloof bedoel word. Hy stel dat daar ’n verskil is tussen geloof wat verwerf is en geloof wat toereken.

Al is die liefde, soos ons dit in 1 Korintiërs 13 vind, wesenlik belangrik, kan dit nie op dieselfde vlak met die geloof gestel word nie. Die geloof in Christus bring die vergewing en die terminering van die sonde deur die Heilige Gees na vore, wat die ou mens met sy begeerlikhede kruisig en tot die ewebeeld van God vernuwe. Die geloof kan egter nooit sonder die liefde wees nie – nie as iets wat die geloof moet voltooi nie, maar as iets wat as vrug uit die geloof voortspruit. Om die verhouding tussen geloof en werke reg te verstaan, moet begryp word dat die regverdiging deur die geloof die voorwaarde vir ware liefde is. Ware liefde is onselfsugtige diens aan die naaste en nie ’n poging om guns by God en roem voor mense te verwerf nie. Liefde is trouens ’n baie moeilike saak aangesien mense deur haat en hoogmoed beheers word. Hierdie bose emosies en drange kan alleenlik oorkom word wanneer die persoon vernuwe word. Mense word vernuwe deur sondevergewing en bekleding deur die dinge van die toekomstige eeu – en dít is onder andere waarop regverdiging neerkom.

Volgens Luther word ons deur geloof in die kruisiging en opwekking van Christus geregverdig. Die implikasie is dat regverdigingspogings deur die wet (of regsontwikkeling) tevergeefs is. Dít beteken: Menslike voortreflikheid, hoe belangrik dit ook al mag wees, dra niks by tot aansien voor God nie. Geregtigheid word toegereken en nie verwerf nie. Geregtigheid is dus ’n geskenk wat ontvang moet word, en nie iets wat deur morele prestasie verdien word nie. Luther verduidelik in stellings 21 en 22 wat die sosiaal-etiese implikasies van die twee benaderings is. Mense wat deur morele voortreflikhede ’n reg op lewe wil verdien, gee voor dat toekomstige ongeregtighede deur wetsontwikkeling verhinder kan word. In die morele ywer vir hierdie ideaal, word die ongeregtighede van die verlede en dié van die hede onbevredigend hanteer. Volgens Luther, daarenteen, kan dié persoon wat sy reg op lewe ontvang (óf sy geregtigheid toegesê ontvang), afreken met die ongeregtighede van die verlede, hede en toekoms. Daar word daarmee afgereken deur vergewing, leiding van die Gees en die beloftes van die toekomstige bedeling.

Volgens Luther verhinder die Nuwe-Testamentiese regverdigingsleer die neiging om teologie tot sosiale etiek te verlaag. Dat onreg so ver moontlik verwyder en verhinder moet word, is ’n saak van dringendheid. Die morele ywer om in die toekoms reg en geregtigheid te laat geskied, is prysenswaardig, maar dis nog nie geloof nie. Geloof ken die vergewing van die skuld van die verlede, die ywer om vandag verantwoordelik te lewe, en die vaste vertroue dat die volmaakte sonder ons toedoen gaan aanbreek. Geloof in die God wat regverdig verklaar, skep gelatenheid teenoor die booshede van hierdie wêreld, aangesien die onreg nooit die mag van God se barmhartigheid sal oorwoeker nie.


© Kopiereg berus by Prof Natie van Wyk.

Die outeur neem volle verantwoordelikheid vir menings en standpunte uitgespreek.