Die laaste Sondag van die kerklike jaar (26 November in 2017) staan bekend as Ewigheidsondag. Op hierdie Sondag gee die kerk aandag aan die rousmart van lidmate wat geliefdes deur die loop van die jaar aan die dood afgestaan het. Dit is ook ’n geleentheid waar lidmate hulself kan voorberei op hul eie naderende dood. Martin Luther het in 1519 ’n verhandeling van 13 bladsye (te vinde in WA 2, 685-697) geskryf waarin hy advies gee oor hoe Christene hulle op die dood moet voorberei. Ten spyte van die feit dat Luther in daardie stadium van sy lewe nog vasgevang was binne die Roomse liturgiese praktyke, het hy alreeds tekens getoon van tipiese Reformatoriese denke. Hierdie verhandeling (of preek of traktaat) is een van Luther se diepsinnigste werke en verdien ons aandag. Al is ons 497 jaar van die ontstaan van hierdie teks verwyder, is die meeste van die teologiese argumente vir ons steeds van waarde.
’n Preek oor die voorbereiding op die sterwe
Eyn Sermon von der Bereytung zum Sterben
Op versoek van Markus Schart (’n amptenaar van ’n streeksregering) skryf Martin Luther in Oktober 1519 ’n “preek” oor die voorbereiding op die dood. Hierdie “preek” (sermone) val as literatuursoort binne die raamwerk van “traktate” of “verhandelings”. Dit is, met ander woorde, ’n kort teologiese besinning oor ’n bepaalde vraagstelling. Literatuur oor die kuns om te sterwe (ars moriendi) was algemeen beskikbaar. Luther se bydrae tot hierdie lewensuitdaging is daarom nie uniek nie, en staan binne ’n lang Middeleeuse tradisie. Die feit dat daar 21 herdrukke van hierdie 20 uitgebreide stellings tydens Luther se leeftyd geproduseer is, dui op die groot waardering wat predikante en lidmate vir Luther se insigte gehad het.
Luther begin sy advies aan lidmate om hul aardse besittings vroegtydig te verdeel, sodat daar nie ná die persoon se dood onderling getwis sal word nie. Verder vermaan hy hulle om betyds geestelik afskeid te neem. Dit beteken dat ander wat hulle beledig en te na gekom het, vriendelik en opreg vergewe moet word, as ’n laaste daad van Christelike liefde. Nadat daar van die mense rondom jou afskeid geneem is, moet daar geheel en al op God en sy dinge gekonsentreer word.
Volgens Luther behoort ’n gelowige uit te sien na die lewe ná die dood. Hy vergelyk dié lewe met ’n nuwe geboorte. Hy sien die aardse lewe as ’n nou poort, en die lewe saam met Christus as ’n groot ruimte gevul met vreugde. As voorbereiding op die nuwe lewe, behoort ’n Christen ware berou te betoon oor skuld en sonde, en te bid om vergewing. Om verseker te word van skuldvergewing, moet die gelowige Nagmaal ontvang. Die ontvangs van Nagmaal sal mense weerhou van ’n aanhoudende geworstel met hul skuldgevoelens en hulle verseker dat die drie groot krisisse van die lewe, naamlik sonde, dood en hel, nie meer in hul pad staan nie.
Volgens Luther leer ’n mens die krag van die sakramente ken wanneer jy die teenkragte ken waarteen die sakramente opgewasse is. Die eerste teenkrag is die verskriklike beeld van die dood, die tweede is die menigvuldige beelde van die sonde, en die derde is die ondraaglike beeld van die hel of die verwerping. Binne ons verbeeldingsvlugte is hierdie drie voorstellings van die werklikheid iets geweldig en daarom vrees ons die dood, aangesien ons by die dood met hierdie werklikhede in hul brutale verskrikking te make kry. Beskou vanuit die sakrament van die Nagmaal, is die dood, sonde en hel eintlik niks nie, aangesien dit reeds deur Christus van hul kamstige krag ontneem is. ’n Sterwende behoort glad nie met hierdie verskrikkings te worstel nie.
Die kuns [om te sterf] is om dit [naamlik die geworstel met die dood] geheel en al te laat en om jou glad nie daarmee te bemoei nie. Maar hoe is dit moontlik? Jy moet die dood vanuit [die perspektief van] die lewe, die sonde vanuit die [perspektief van die] genade en die hel vanuit die [perspektief van die] hemel beskou, en nie toelaat dat jy van hierdie perspektiewe weggedryf word nie.
Luther verduidelik vir sy lesers dat daar geen rede bestaan om in angs en benoudheid te sterf nie, aangesien die genade en barmhartigheid van die Here veel sterker is as enige voorstelling van pyn, straf of verwerping wat op die sterfbed in die verbeelding mag opkom. Die beeld van die Nagmaal moet in die verbeelding van die sterwende opkom, aangesien hy of sy dan angsloos en rustig sal kan sterwe. Sterwendes behoort nie op hul eie sterwe te konsentreer nie, maar eerder op die sterwe van Christus, aangesien Christus se sterwe ons van angs en vrees bevry.
Luther raai die gelowiges aan om ook nie té veel met hul sonde op die sterfbed te stoei nie. Dink eerder aan die kruis, aangesien die kruis die heenwysing is na die genade en barmhartigheid van die Here! Dink eerder aan die genade as aan die sonde van jou bestaan! Oor die hel, óf die ewigheid van lyding óf die verwerping deur God, moet ’n sterwende ook nie begaan wees nie. Gelowiges moet beslis nie op die sterfbed bekommerd wees oor diegene wat nie uitverkies is nie; ook nie oor die moontlikheid dat hulle self dalk nie uitverkies is nie.
Jy moet God God laat wees, en Hom toelaat om méér van jouself te weet as wat jy ooit van jouself kan weet. Aanskou daarom die hemelse beeld van Christus; Hy wat ter wille van jou na die hel neergedaal het en dáár van God verlate was … Sien in hierdie beeld jou eie hel as oorwonne en die onsekerheid oor jou eie uitverkiesing as uit die weg geruim … Soek jouself slegs in Christus, en nie in jou eie nadenke nie, aangesien jy dan jou ewig in Hom sal vind … Wanneer jy Christus en al die heiliges aanskou (wat uitverkies is), en vreugde in die genade van God vind, sal jy weet dat ook jy uitverkies is.
Luther vat die belangrikheid van die Nagmaal vir sterwendes op die volgende wyse saam. Volgens hom word daar in hierdie sakrament vir ons die teken gegee
dat Christus my dood in sy dood oorwin het, sy gehoorsaamheid my sonde in sy lyding verdelg het, sy liefde my hel in sy verlatenheid vernietig het … Wie die sakrament met oorgawe ontvang, is seker dat hulle uitverkies is.
Luther sluit sy betoog oor die Nagmaal af met ’n interessante dog ongewone stuk vertroosting. Hy wys daarop dat gelowiges nie in alleenheid sterf nie. As deelnemers aan die Nagmaal is die oë van God, Christus, die engele, die heiliges en ander gelowiges op hulle gerig. Aan die Nagmaaltafel kyk ons mekaar in die oë, en ons oë bly op mekaar gerig, selfs deur die dood heen. Hierdie onophoudelike, nieverbale kommunikasie is ’n troosvolle element van die Nagmaal. As Nagmaalganger sterf jy nie alleen nie. Die Tafelgenote hou die oog op jou tot daar aangesit word aan die hemelse feesmaal.
Ten slotte beveel Luther aan dat ’n sterwende moet bid voordat die laaste asem uitgeblaas word. Die Christelike gebed staan in die lig van die amen – die sekere wete dat God jou gebed aanhoor. Wat deur God gehoor moet word, is jou vreugde oor sy genade en barmhartigheid in Christus, wat ook aan jou geskenk word. Die vreugde van die geloof, wat in die gebed tot uiting kom, verdryf die vrees vir die dood. Sonder die vrees vir die dood, kan ons met ons laaste woorde en gebare die Here loof vir sy genade. Sou ons kon, kan ons ook nog ons liefde vir die barmhartige Heer laat blyk. ’n Mens wat met lof en liefde op die lippe sterwe, het die evangelie gehoor en geglo!
© Kopiereg berus by Prof Natie van Wyk.
Die outeur neem volle verantwoordelikheid vir menings en standpunte uitgespreek.