Reformasie gebeure in Julie (1)

Datums uit die geskiedenis

  • 06/07/1415: Jan Hus tereggestel tydens die Konsilie van Konstanz
  • 06/07/1535: Thomas More in Engeland tereggestel
  • 10/07/1509: Johannes Calvyn gebore in Noyon, Frankryk
  • 11/07/1603: James VI van Skotland gekroon as koning van Engeland

Persone en gebeure uit die geskiedenis

Jan Hus (1369 – 6 Julie 1415) word saam met John Wycliff as wegbereider van die Reformasie beskou. Hy is tydens die Konsilie van Konstanz (1414-1418) as ketter op die brandstapel verbrand. Wie was hierdie Tsjeggiese teoloog en volksheld en wat het hy geleer?

Hus ontvang ’n Magister Artium in 1396 aan die Universiteit van Praag (die oudste universiteit in Europa). Sedert 1398 bestudeer hy die Oxford-geleerde, John Wycliff, se geskrifte. In 1400 word hy tot priester gewy. In 1402 word hy professor in teologie en fi losofi e, en tussen 1409 en 1410 ageer hy as rektor. Sedert 1402 preek hy in die Bethlehemskerk in Praag in Tsjeggies. Hy begin in 1413 werk aan ’n Tsjeggiese Bybelvertaling en in 1414 publiseer hy die eerste grammatika vir hierdie taal.

Onder invloed van Wycliff kritiseer hy die groot wêreldlike besit van die kerk en die hebsug van die priesters. Hy bevorder die gedagte van gewetensvryheid en is oortuig daarvan dat die Bybel alleen die maatstaf vir teologiese uitsprake is. Hy is daarvan oortuig dat die uitverkiesingsleer sentraal moet staan wanneer daar oor die kerk nagedink word. In 1413 publiseer hy sy belangrikste geskrif, De Ecclesia (Oor die kerk). Hy betoog dat die ware kerk die gemeenskap van uitverkorenes is, dat daar in die sigbare kerk ook ongelowiges is, en dat die kerk ’n hiërargievrye gemeenskap moet wees. Hy het vóór Luther die afl aatstelsel as fi nansieringsmodel vir die kruistogte van die pouse gekritiseer.

Hus is al in 1411 deur een van die pouse uit die kerk verban (in sy leeftyd was daar in ’n stadium drie pouse). Op 14 Julie 1412 is drie jong mans wat hulle teen die afl aathandel uitgespreek het, in Praag verbrand. Hus vlug uit Praag, en die volgende twee jaar skryf hy talle werke in sy moedertaal. Hus word genooi om sy leerstellings voor die Konsilie van Konstanz te verdedig, met die belofte dat hy nie in hegtenis geneem sal word nie. Op 3 November 1414 kom hy in hierdie Duitse stad aan en op 4 November word hy al skuldig verklaar. Op 28 November word hy na Münster geneem waar hulle hom begin martel. Op 4 Mei 1415 gee die Konsilie opdrag dat die beendere van Wycliff en sy geskrifte verbrand moet word. Dit is egter eers in 1428 gedoen.

Op 5 Junie 1415 word Hus weer verhoor. Op 6 Julie besluit die Konsilie dat hy as ketter verbrand moet word. Die hoofaanklag was uiteindelik sy leer dat die ware kerk uit die uitverkorenes bestaan (met ander woorde, onsigbaar is vir die menslike oog) en dat die Rooms-Katolieke Kerk, met sy regsbevoegdhede, nie as sodanig die één kerk van Christus verteenwoordig nie. Talle standbeelde (ook buite Praag) is tot sy eer en nagedagtenis opgerig. In Tsjeggië word ’n godsdienstige vakansiedag aan sy sterfdatum gekoppel.