- 24/06/1485: Johannes Bugenhagen, die eerste voltydse predikant van die Reformasie, word in Wollin gebore
- 25/06/1530: Philipp Melanchthon oorhandig die Confessio Augustana aan die keiser
- 27/06/1519: Luther disputeer met Johannes Eck in Leipzig tussen 27 Junie en 15 Julie 1519
- 27/06/1525: Die amptelike huwelikseremonie van Luther vind plaas
Persone en gebeure uit die geskiedenis
Die Reformasie was nie slegs ’n kerklike stryd nie, maar ook ’n akademiese stryd. Die stryd het gehandel oor regte en verkeerde teologie. Die geleenthede waar Protestante en Rooms-Katolieke krities debat gevoer het oor teologiese sake staan bekend as disputasies.
Die disputasie van Leipzig (27 Junie – 15 Julie 1519) was een van die beslissende momente in die breuk tussen die Reformatore en die pouslike verteenwoordigers. Die wortels van die disputasie gaan terug op die debatvoering van Johann Eck (’n prominente Dominikaanse teoloog uit Ingolstadt) en Andreas Bodenstein von Karlstadt (kollega van Martin Luther) oor die vrye wil van die mens en die genade. Luther se geskrifte het gou die fokus van debat geword. Groot afvaardigings van albei kante het voor vors Georg van Sakse in die Leissenberg-kasteel in Leipzig debat gevoer. Luther oortuig die Roomse afvaardiging om ook oor die vaevuur, die afl ate, die wyses van bekering en die legitimiteit van die pouslike gesag te debatteer. Vir die eerste keer gebruik Luther die argument van die Skrif alleen. Hy wys daarop dat daar in die Bybel nie sprake is van ’n pous of die vaevuur nie, en daarom kan dit nie in die kerk geleer word nie. Hierdie debat was ’n belangrike rede hoekom pous Leo X Luther van kettery laat aankla het.
Die resultaat van die disputasie is aan die teologiese fakulteite van Erfurt en Parys voorgelê vir beoordeling. Parys konsentreer nie op die notule van die disputasie nie, maar veroordeel al Luther se geskrifte. Erfurt (waar Luther student en dosent was) het nie kans gesien om kant te kies nie, en onttrek uit die proses. Die feit dat Erfurt nie bereid was om vir die pous op te kom nie, was ’n belangrike oorwinning vir die Reformatoriese beweging. Die Ryksdag van Augsburg (1530) en die oorhandiging van die Augsburgse Geloofbelydenis aan keiser Karel V is een van die belangrike momente in die geskiedenis van die Reformasie. Kortliks die voorgeskiedenis: Die keiser kon weens oorloë teen die Franse en Turke nie teen die Reformatoriese beweging optree nie.
In 1526 vind daar ’n Ryksdag in Speyer plaas waar besluit word dat elke vors volgens sy gewete moet besluit of hy by die Reformasie gaan aansluit of nie. In 1529, toe dit blyk dat die Reformasie buitengewone vordering maak, vind daar weer ’n Ryksdag in Speyer plaas onder voorsitterskap van aartshertog Ferdinand van Oostenryk. Hy is nie soos sy broer tot kompromis bereid nie, en verbied die vorste om by die Reformasie aan te sluit. Die Protestantse vorste “protesteer” teen hierdie besluit en dring aan op ’n Ryksdag onder die keiser self. Melanchthon oorreed die aanwesiges dat ’n geloofbelydenis tydens die 1530 geleentheid voorgelê sal word om aan te dui dat die Reformasie nie ’n ketterse beweging is nie.
Luther kon as veroordeelde ketter nie waag om self na Augsburg te reis nie. Melanchthon tree namens die Protestante tussen 2 Mei en 23 September 1530 op tydens die Ryksdag. In konsultasie met die Protestantse teoloë en vorste, skryf hy die teks van die Confessio Augustana. Hierin dui hy aan dat die Protestantisme in ooreenstemming is met die algemene kerk van alle eeue; dat hulle die belangrike leerbeslissings oor die Drie-eenheid en die twee nature van Christus aanvaar en slegs verwerp wat nie met die Bybel in ooreenstemming is nie. Op 25 Junie 1530, om 15:00, het hy die Duitse weergawe aan die aanwesiges voorgelees.