Reformasie gebeure in September (1)

  Datums uit die geskiedenis

  • 01/09/1552: Keurvors Johann Friedrich I word vrygelaat uit gevangenskap
  • 02/09/1584: Hans Lufft sterf

Persone en gebeure uit die geskiedenis

Ná Luther se dood het die Smalkaldiese Oorlog (1546-1547) tussen keiser Karel V van die Heilige Romeinse Ryk en die Smalkaldiese Bond (gestig op 27 Februarie 1531) uitgebreek. Die Keiser het die oorlog gewen en keurvors Johann Friedrich I en landgraaf Philipp van Hessen in hegtenis geneem.

Op grond van ’n verdrag van 1 September 1552 is albei vrygelaat. Johann Friedrich het hom in die vesting Coburg (die plek waar Luther tydens die Ryksdag van Augsburg in 1530 geskuil het) gaan vestig. Sowel Johann Friedrich as Philipp het deurslaggewende bydraes tot die heropbou van die Reformatoriese gebiede gelewer.

Die Bybeldrukker Hans Lufft is in 1495 in Amberg, Duitsland gebore. Hy het die boekdrukkuns in Leipzig geleer. In 1524 neem hy die drukkery van Melchior Lotter in Wittenberg oor en begin hy om Bybels en vlugskrifte van die Kerkhervormers te druk. Hy het onder andere talle oplae van die volledige Luther-Bybel (1534) gedruk. Lufft word in 1526 ’n ereburger van Wittenberg en vanaf 1542 dien hy in die stadsraad. Hy was meermale burgemeester. Hy sterf op 2 September 1584 in Wittenberg.

Die boekdrukkuns het ’n belangrike bydrae tot die sukses van die Reformasie gelewer. Die Reformatoriese beweging het spoedig besef dat die “nuwe media” gebruik kan word om die nuwe insigte in die Christelike godsdiens te versprei. Bybels, teologiese boeke, vlugskrifte en gesangeboeke is in tientalle oplaes gedruk en versprei. Die ontdekker van die verskuifbare drukpers, Johannes Gutenberg († 1468 in Mainz), is groot dank verskuldig.