- 07/09/1566: Süleyman I, sultan van die Osmaanse Ryk, sterf
- 13/09/1556: John Knox word predikant van vlugtelinge in Genève
- 13/09/1565: Guillaume Farel sterf in Neuchâtel
Persone en gebeure uit die geskiedenis
Süleyman I, genoem die pragtige en/of die wonderbaarlike, is op 6 November in 1494 in Trabzon, in die huidige Turkye gebore, en regeer die Osmaanse of Ottomaanse Ryk as die tiende sultan tussen 1520 en 1566. Die hartland van die Osmaanse Ryk was die huidige Turkye. Süleyman was ’n wrede, bloeddorstige veroweraar van gebiede in Oos-Europa, die Middellandse See en Noord-Afrika. Hy was persoonlik die bevelvoerder van 13 groot veldslae. In 1529 het hy probeer om Wenen, Oostenryk, in te neem. Daar bestaan ’n teorie dat Luther hierdie Turkse bedreiging in gedagte gehad het toe hy ’n Vaste burg is onse God gekomponeer het. Süleyman was verantwoordelik vir die vrees en afsku wat die Reformatore vir die “Moslems” gehad het. Hy sterf op 7 September 1566 tydens ’n veldslag in Hongarye.
John Knox is vermoedelik in 1513 in Giffordgate, Skotland gebore en sterf op 24 November 1572 in Edinburgh in die waarskynlike ouderdom van 58 jaar. Hy is bekend as die Hervormer van Skotland en die stigter van die Presbiteriaanse Kerk. Hy is vermoedelik aan die Universiteit van St Andrews opgelei. Hy het ’n tyd lank in die Church of England gewerk en onder andere
meegewerk aan die Book of Common Prayer. Toe Mary Tudor die troon bestyg het, het hy na Genève gevlug waar hy vir Johannes Calvyn ontmoet het en predikant van die vlugtelinge geword het. Hy sou later ook predikant van die vlugtelinggemeente in Frankfurt word. Tydens die regeertyd van Mary Queen of Scots kon hy na Skotland terugkeer. John Knox is vir die Skotte véél meer as ’n kerkhervormer – hy is ’n nasionale held.
Guillaume Farel is in 1489 in Gap, Frankryk gebore en sterf op 13 September 1565 in Neuchâtel, Switserland. Hy en Ulrich Zwingli staan bekend as die eerstegenerasie-Hervormers van Switserland. Hy het Johannes Calvyn oortuig om in Genève te leef en te werk. Saam het hulle Genève in ’n “Protestantse Rome” omskep. Hulle was ook saam verantwoordelik vir die opleiding van sendelinge en predikante vir die Protestantse Kerk. Ondanks sy sterk Lutherse invloed, het hy ’n ekstremistiese houding ingeneem oor beelde in die kerk. Dít was in die beginjare van die Reformasie nie ’n goeie strategie nie. Hy was verplig om Genève te verlaat en moes in Neuchâtel gaan woon tot sy dood.