Luther het nie baie tyd vir pretensie gehad nie. Hy het graag met homself en met ander teoloë gespot. Hy het een keer gesê: “God het teoloë en prinse maar dom gemaak – net om almal daaraan te herinner dat net Hy wys en almagtig is.”
Dit was sy bewustheid van sy eie gebrokenheid wat hom nog stywer laat vashou het aan die genade van God.
Hy het God se hand orals gesien. “Die Here het die beste gawes die mees alledaagse gemaak. Een van die belangrikste gawes van lewende wesens is hulle oë. Voëls het die kleinste oë, maar kan ’n vlieg oor die lengte van ’n vertrek sien. Ons herken nie hierdie gawes nie. Ons is maar dom.”
Eendag, terwyl met een van sy kinders gespeel het, het hy opgemerk: “Dit is die beste van al God se gawes.”
Nooit het Luther na homself gewys nie – altyd weg van homself en na Jesus en die kruis. Hy het dit reggekry om deur die geraas van die wêreld mense weer bewus te maak van die krag van die evangelie.