- 18/08/1533: Luther en Melanchthon doen visitasie in Bitterfeld tussen 18 en 23 Augustus 1533
- 22/08/1524: Luther en Andreas Bodenstein von Karlstadt ontmoet in Jena oor die beeldekwessie
- 23/08/1572: Slagting van Bartolomeusnag in Parys
Persone en gebeure uit die geskiedenis
Die Evangeliese Kerk (soos die Protestantse Kerk in die 16de eeu genoem is) moes in die beginjare van die Reformasie klaarkom met predikante wat priesters was in die Roomse Kerk. Die meeste van hulle het ’n karige opleiding gehad. Verder was daar ’n klomp opportuniste wat met min werk groot salarisse wou verdien. Martin Luther en Philipp Melanchthon het gou besef dat hulle elke
gemeentepredikant persoonlik moes besoek vir indringende gesprekvoering. Hierdie besoeke staan bekend as “visitasie”. Hierdie visitasies het positiewe resultate opgelewer. Gemeentes is gehelp om hul sake op ’n kerkordelike wyse te reël, predikante is gemotiveer om hul kennis op te skerp, en Luther se Klein en Groot Kategismusse het ontstaan uit hierdie besoeke en gesprekke. Daar is gou besef dat visitasie op ’n gereelde basis moet plaasvind.
Melanchthon het in 1527 ’n beroemde handleiding vir die visitatore geskryf met die titel Onderrig van die visitatore aan die predikante in die vorstedom Sakse. Luther het ʼn lesenswaardige voorwoord vir hierdie handleiding geskryf. ’n Reformatoriese kerk wat nie met visitasie erns maak nie, laat toe dat die kennisvlakke van die predikante verlaag, dat wanorde in die gemeentes heers en dat onaanvaarbare neigings in die liturgie die oorhand kry. Andreas Bodenstein uit Karlstadt was een van Luther se eerste bondgenote. Hy is in 1486 gebore en het in Erfurt Keulen en Wittenberg studeer. Hy was vóór Melanchthon dekaan van die Fakulteit Teologie in Wittenberg. Tydens Luther se verblyf op die Wartburg 1521/22 was hy ’n leiersfi guur van die opstande in Sakse. Hulle het nie net die beelde uit die kerke verwyder nie, maar ook die kunswerke. Luther het die beeldestorm geduld, maar was ontevrede oor die kunsvyandigheid van hierdie radikaliste. Hy en Bodenstein se weë het geskei. Op 22 Augustus 1524 het hulle ’n laaste keer in Jena probeer om tot ’n vergelyk te kom.
Die samesprekings het misluk en Bodenstein is uiteindelik uit Sakse verjaag. Hy het later sonder sukses probeer om in die noorde van Duitsland volgelinge te mobiliseer vir sy “radikale Reformasie”. Die Duitsers se waardering vir die beeldende kuns was net té groot vir hierdie misplaaste radikalisme. 23 Augustus 1572 is ’n belangrike datum in die geskiedenis van die Gereformeerde Protestantisme. Op hierdie dag is duisende Franse Protestante in Parys deur hul Roomse opponente vermoor. Hierdie gebeure het veroorsaak dat talle Franse Hugenote na Suid-Afrika gevlug het. Die talle Franse vanne van Afrikaanssprekendes is ’n permanente herinnering aan hierdie afskuwelike gebeure. Dit is baie jammer dat die meeste gemeentes nie meer weet dat ons wortels teruggaan na die “gemeentes onder die kruis” in Frankryk nie.