Datums uit die geskiedenis
- 27/10/1553: Michael Servet word in Genève verbrand weens kettery
- 28/10/1466: Erasmus van Rotterdam word gebore
- 28/10/1540: Godsdiensgesprekke begin in Worms
- 29/10/1525: Die Duitse Mis word in die Kasteelkerk bedien
- 31/10/1517: Martin Luther maak sy 95 stellings teen die afl aatpraktyk bekend
Persone en gebeure uit die geskiedenis
In 1541 maak Luther se assistent, Georg Rörer (1492-1557), in Latyn ’n nota op die laaste bladsy van sy Lutherbybel (1540). Hy skryf: In die jaar 1517, op die vooraand van die fees van die allerheiliges, is die stellings oor die afl aat van doktor Martin Luther, aan die deure van die kerke in Wittenberg, voorgestel. In die latere oorlewering van die gebeure van 1517 word op die bekendmaking van die stellings aan die kerkdeur van die Kasteelkerk gekonsentreer. Die Kasteelkerk is in 1507 opgeknap om as Universiteitskerk gebruik te word. Die oudste afbeelding dateer uit 1509 van die handewerk van Lucas Cranach sr. Die Kasteelkerk is die afgelope jare buite en binne opgeknap vir die jubileum van 1517. Wat hiér 500 jaar gelede gebeur het, sou die wêreld verander.
In 1617 (tydens die eerste Reformasiejubileum) is daar in Leipzig ’n vlugblad gedruk met ’n pragtige legende. Volgens die verhaal sou keurvors Frederik die Wyse in die nag van 30 Oktober ’n droom gehad het oor Luther se bekendmaking van sy stellings oor die afl aatstelsel. Luther, in die gestalte van Paulus, sou die stellings teen die kerkdeur van die Kasteelkerk met ’n reuseveerpen neerskryf. Die veer was so groot dat die punt die pous in Rome se hoed afgestamp het. Op die beeld deurboor die veer die kop van ’n leeu (pous Leo X). Die gans, regs voor, is ’n heenwysing na die Tsjeggiese Hervormer Jan Hus wat op die brandstapel tydens die Konsilie van Konstanz (1415)
gesterf het weens sy kritiek teen die afl aatstelsel.
Die Spaanse humanis, geneeskundige en teoloog Michel Servet (waarskynlik gebore in 1509) probeer in 1530 om die steun van die Reformatore te wen vir sy kritiek teen die Triniteitsleer. In 1536 ontmoet hy Calvyn in Parys. Dié twee begin met ’n uitgebreide korrespondensie oor hierdie leerstuk. Weens sy standpunte word hy deur die Roomse Inkwisisie in hegtenis geneem. Hy vlug egter na Genève. Deur Calvyn en Farel se samewerking word hy uiteindelik weer gevang, verhoor en lewend verbrand op 27 Oktober 1553. Die humanis (’n persoon wat die klassieke tekste
vir gebruik bestudeer en ontsluit het) Erasmus van Rotterdam was die buite-egtelike kind van ’n priester.
Hy is op 28 Oktober 1466 (?) in Rotterdam gebore. Nadat hy in 1492 tot priester gewy is, was hy in diens van die biskop van Cambrai en studeer hy tussen 1495 en 1499 teologie in Parys. Vanaf 1509 tot en met 1514 leef hy in die huis van sy vriend, Thomas Morus, in Londen. Sy kritiek op die geestelikes vergelyk goed met die kritiek van Martin Luther. Hy kritiseer Luther egter vanweë sy weiering om die boereopstande te ondersteun. Hulle verskil ook radikaal oor die vryheid van die wil. Deur sy talle geskrifte het hy die Europese kultuur diepgaande beïnvloed.