Fokusmoment: 22 Oktober 2017

Een van die belangrikste teologiese paradigmaskuiwe wat die Hervormers wou maak, is die van die Kerk se fokus na binne (versinnebeeld deur monnike, nonne en kloosters) na die fokus op die roeping (vocation) wat op elke gelowige rus.

Calvyn sou letterlik die kerk se deure na die diens op ’n Sondag sluit.  Hy wou daardeur sy lidmate leer dat hulle ’n roeping het om as Kerk in die wêreld te gaan leef. Jou beroep moes jou roeping wees!  Jou werk is jou vocation!

Hulle het wegbeweeg van die idee dat die wêreld net sleg is en vermy moes word, na die idee dat die wêreld beter gemaak moes word én geniet moes word.

Onder sy leierskap het Genève van die eerste stede geword wat wette ontwerp het om die familie te beskerm.  Onder sy invloed is die mishandeling van vroue onwettig verklaar en is die status van die huwelik verhoog.   Hy het selfs skoon strate bevorder en wette teen openbare onsedelikheid en dronkenskap ingevoer.

Dit was Calvyn wat die Kerk daartoe gebring het om hospitale en skole te bou.  Die opvoeding van kinders, het Calvyn geglo, was die sleutel tot die verbetering van die hele samelewing.

Calvyn het geglo in die ‘totale bedorwenheid van die mens’, maar het weer en weer beklemtoon dat ons geskep is na die beeld van God.