Reformasie gebeure in Oktober (3)

  Datums uit die geskiedenis

  • 12/10/1518: Luther word in Augsburg deur kardinaal Cajetan verhoor
  • 13/10/1605: Theodor Beza sterf in Genève (86)
  • 14/10/1509: Melanchthon begin om as 12-jarige kind aan die Universiteit van Heidelberg te studeer
  • 16/10/1553: Lucas Cranach sr sterf in Weimar
  • 17/10/1552: Andreas Osiander, die Hervormer van Nürnberg, sterf in Königsberg
  • 18/10/1502: Opening van die Universiteit van Wittenberg (Leucoria) in die Kasteelkerk


Persone en gebeure uit die geskiedenis

Op 7 Augustus 1518 ontvang Luther ’n uitnodiging om na Rome te gaan om homself te verweer teen aanklagte van kettery. Luther se politieke hoof, keurvors Frederik die Wyse, die tweede magtigste vors van die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie, weier egter dat hy na Rome reis. Hy het onthou wat met Jan Hus in Konstanz gebeur het. Hy het geweet dat die Roomse maghebbers nie vertrou kan word nie. Danksy Frederik die Wyse word Luther tussen 12 en 14 Oktober 1518 tydens die Ryksdag van Augsburg deur kardinaal Cajetan verhoor. Hy versoek Luther “vaderlik” om sy kritiek teen die Roomse Kerk terug te trek. Luther dwing Cajetan egter in ’n disputasie (’n kritiese debat) oor die afl ate, die pous en die konsilies. Vanaf hierdie datum was Luther ’n voortvlugtige.

Theodor Beza (Théodore de Bèze) is op 24 Julie 1519 in Vézelay / Boergondië gebore en ontvang in Orlèans ’n omvattende humanistiese opleiding. Danksy sy leermeester, Melchior Volmar, kom hy in aanraking met die geskrifte van die Reformatore. Ná afhandeling van sy regstudies gaan hy in 1539 na Parys en lewe daar as digter binne Protestantse kringe. In 1548 reis hy saam met sy vrou na Lausanne en vertoef ’n ruk in Genève.

Uiteindelik word die kort besoekie ’n tydperk van tien jaar, aangesien hy as dosent in Grieks aan die Protestantse Akademie aangestel word. Sedert 1558 woon hy voltyds in Genève en word hy Calvyn se opvolger aan die Akademie. Hy dra baie skuld vir die negatiewe beeld oor die “Calvinisme”. Hy sterf op 13 Oktober 1605.

Nadat koning Maximilian I op 6 Julie 1502 aan Wittenberg die voorreg gegee het om ’n universiteit op te rig, word dit amptelik op 18 Oktober 1502 in die Kasteelkerk gedoen. Die keurvors van Sakse, Frederik die Wyse, was persoonlik verantwoordelik vir die stigting van die “Leucoria” (die wit berg). Juriste, teoloë en dokters sou aan hierdie nuwe instelling opgelei word. Johannes von Staupitz, Luther se biegvader, was die eerste beroemde teoloog. Luther het hom in 1512 opgevolg. In 1518 is Melanchthon as professor in Grieks aangestel. Hy sou die hele Duitse universiteitsisteem mettertyd verander. Sy groot verdienste was die insig dat teologie nie sonder die ander wetenskappe kan gedy nie. Tussen 1530 en 1620 was Wittenberg die grootste universiteit in “Duitsland”. Napoleon het die Universiteit gedwing om te sluit. In 1817 is Wittenberg met die Universiteit van Halle (1694) verenig. Sedert 1933 staan die Universiteit bekend as die Martin Luther Universiteit Halle-Wittenberg. Die ou Wittenbergse kampus is vandag ’n navorsingsinstelling wat reg deur die jaar navorsingskongresse aanbied.