Fokusmoment: 15 Oktober 2017

In ’n lesing wat Zwingli aangebied het by die klooster van Oetenbach (getiteld  “Oor die duidelikheid en sekerheid van die Woord van God’)  gee Zwingli uiting aan een van die reformasies se belangrikste waardes:  Sola Scriptura.

Hy dui hier drie belangrike kenmerke van die Skrif aan:  die Skrif het krag, sekerheid en duidelikheid.  Volgens Stephen J. Nichols, die kerkhistorikus, was die Reformasie suksesvol juis omdat dit op die Skrif gebaseer was.

Dit was Zwingli – saam met die ander leiers van die reformasie – wat ’n nuwe waarde geheg het aan die korrekte eksegese en gesag van die Skrif.

Volgens Zwingli het net die Bybel regtig die krag om mense se lewens te verander.  Politieke druk en godsdienstige formalisme het nog altyd en sal altyd vêr te kort skiet.

Volgens Zwingli het die Bybel die vermoë om jou te verpletter en te vernietig óf om jou op te tel en te vertroos.  Dit kan jou met vreugde óf met hartseer vul.

Die Bybel is egter ook seker.  Vanaf Genesis 1 lees ons dat as God dit sê, dit so is.

Oor die duidelikheid van die Skrif, sê Zwingli, moet jy theodidacti wees  – dit is, jy moet toelaat dat God jou leer.  Ons het God se Woord en ons het die Heilige Gees, die gewer van Sy Woord.  Die resultaat hiervan is dat daar geen ander Woord is wat ons so kan vervul nie.  Dit is hierdie Woord wat die ewige lewe gee.

Hy sluit hierdie lesing af met die gebed:  “Mag God die krag van Sy Woord in ons laat toeneem en mag ons nooit daarvan afvallig raak nie.”

Dit is die Skrif, volgens Zwingli, wat die verskil gemaak het tussen ‘Die Ware en die Valse Godsdiens’ – die titel van een van Zwingli se geskrifte.  Zwingli het nie geskroom om die foute in die Rooms-Katolieke kerk uit te wys nie.  Op grond van die Skrif sou hy die sakramente van sewe na twee verminder, die leer van die vagevuur verwerp en ook die gesag van die pous bevraagteken.

Net soos Luther, sou Zwingli ook die pous gelykstel aan die Antichris.

(geneem en aangepas uit Stephen J. Nichols se boek ”The Reformation:  How a Monk and a Mallet Changed the World).