- 05/10/1544: Inwyding van die Kasteelkerk in Torgau as eerste Protestantse kerkgebou
- 06/10/1536: William Tyndale sterf ’n marteldood
- 09/10/1524: Luther preek vir die eerste keer sonder sy priesterskleed. Hy tree uit die Augustynse Orde
- 11/10/1531: Ulrich Zwingli sterf op die slagveld (47)
Persone en gebeure uit die geskiedenis
Die kasteelkapel in Torgau, opgerig deur Nickel Grohmann in 1543-44, is die eerste Protestantse kerkgebou. Die Protestante het tot en met hierdie datum gewoon die kerke uit die Middeleeue oorgeneem en benut. Met die inwyding van die kerk op 5 Oktober 1544 het Luther gesê dat hierdie kapel meer geskik moet wees as ander [reeds bestaande kerke] om die Woord van God te preek. Die eerste kantor van die Protestantisme, Johann Walter, het Psalm 119 musikaal verwerk vir hierdie geleentheid. Die sangers van die kapel het die lied gesing. Hieruit sou die beroemde Sänger der Torgauer Hofkapelle ontwikkel – een van Duitsland se beroemdste kore.
William Tyndale is in ongeveer 1491 gebore. Tydens sy studies aan die Universiteit van Cambridge kom hy in 1520 in aanraking met die Protestants-humanistiese geskrifte. Tydens sy tyd as predikant besef hy dat die Bybel in Engels vertaal moet word. Ná werkperiodes in Londen (1523), Wittenberg (1524/25) en Keulen word sy Engelse vertaling in Worms gedruk. Sedert 1528 leef hy in Antwerpen, waar hy in rus en vrede kon werk. Weens die verraad van een van sy medewerkers, word hy in 1535 in hegtenis geneem en maande lank gemartel. Uiteindelik word hy op 6 Oktober
1536 in Brussel verwurg en verbrand.
Die Kerkhervorming in Switserland het veroorsaak dat die land verdeel is in twee militêre magsblokke. Sedert 1529 was Switserland op die punt van ʼn burgeroorlog. Verskeie kleiner skermutselinge het deurgaans plaasgevind. Op 11 Oktober 1531 vind ’n veldslag by Kappel plaas waarin Ulrich Zwingli sterf, en die Protestantse stede ’n groot militêre nederlaag ly.