Fokusmoment: 8 Oktober 2017

In sy boek The Reformation:  How a monk and a mallet changed the world skryf die bekende kerkhistorikus Stephen J. Nichols dat om die Bybel te lees geweldig bevrydend kan wees.  Vir Luther, Calvyn en Zwingli het die lees van die Bybel die boeie van eeueoue kerktradisies wat gemeentes verlam het, laat afgooi.

Regoor Europa het hierdie kerklike tradisies beperkings op mense se lewens gestel.  In Switserland het Zwingli gevind dat die Bybel geen beperkings plaas daarop wat jy mag en nie mag eet nie en het hy die kerk se gesag hieroor uitgedaag.

In 1522, vyf jaar na Luther die reformasie in Duitsland begin het, het Zwingli ’n petisie opgestel met die handtekeninge van 11 invloedryke kerkleiers van Switserland.  Soos gewoonlik was die petisie – getiteld ’n Petisie om priesters toe te laat om in die huwelik te tree of om ten minste in die rigting van ’n huwelik te knipoog – geskryf met die gewone humoristiese aanslag van Zwingli.  Die RKK wou natuurlik nie eens die priesters toelaat om te knipoog in die rigting van huwelike nie, maar Zwingli het in die huwelik getree met Anna Reinhart en hulle het vier kinders saam gehad.

Zwingli het, net soos Luther, aanvanklik gehoop om die Rooms-Katolieke kerk te verander.  Hulle wou nie die kerk skeur nie.  Daarom het hy twee keer tot ’n publieke debat met die RKK ingestem – dit word die Eerste en Tweede Disputasie genoem – en hiervoor het Zwingli sy 67 Artikels geskryf.

Na aanleiding van hierdie gesprekke het die leiers van Zürich besluit om bande met die RKK te verbreek.  Ander groot stede soos Berne en Basel het gevolg.  Dit sou uiteindelik in Switserland tot ’n burgeroorlog lei.

Alhoewel baie die Reformasie daarvan sou beskuldig dat dit hoofsaaklik polities gedrewe was, was alles nie polities gedrewe nie.  Dit was in die eerste plek ’n teologies gedrewe beweging wat uitgebuit sou word deur politieke leiers vir hul eie politieke gewin.