Reformasie gebeure in Oktober (1)

Datums uit die geskiedenis

  • 27/09/1529: Godsdiensgesprekke tussen die Protestantse godsdiensleiers in Marburg tot en met 4 Oktober 1529
  • 29/09/1502: Luther behaal Baccalaureus in die Vrye Kunste
  • 29/09/1521: Philipp Melanchthon vier die eerste Protestantse Nagmaal
  • 29/09/1560: Koning Gustav Wasa van Swede sterf in Stockholm
  • 04/10/1515: Lucas Cranach jr word in Wittenberg gebore

Persone en gebeure uit die geskiedenis

Gustav Wasa is vermoedelik as Gustav Eriksson in Mei 1496 as ’n Sweedse adellike gebore. In 1520 neem hy die leiding in die Sweedse weerstand teen Christian II van Denemarke. Op 6 Junie 1523 word hy tot Sweedse koning verkies. Onder sy leiding word Swede ’n Lutherse land wat volgens Protestantse beginsels regeer word. In 1527 word hy egter die hoof van die Sweedse Kerk. Op die Ryksdag van Västeras (1544) kry hy dit reg om die koningskap ’n oorerfl ike aangeleentheid te maak. Hy sterf op 29 September 1560 in Stockholm. Die feit dat die Sweedse bevolking nie uit keuse en vrye wil Luther-volgelinge geword het nie, is dalk ’n verklaring vir die gebrek aan belangstelling in godsdiens onder die Sweedse bevolking.

Landgraaf Philipp van Hessen het in 1529 probeer om die saak van die Reformasie te versterk deur die godsdiensleiers van die Reformasie in sy kasteel in Marburg byeen te bring vir ’n reeks godsdiensgesprekke.  Hierdie gesprekke het tussen 27 September en 4 Oktober plaasgevind. Die volgende leiers het aan hierdie gesprekke deelgeneem: Martin Luther, Philipp Melanchthon, Huldrych Zwingli en Johannes Oekolampadius. Die volgende was toehoorders: Martin Bucer, Jakob Sturm, Caspar Hedio, Justus Jonas, Andreas Osiander, Johannes Brenz en Stephan Agricola. Hierdie gesprekke is bekend vir die onenigheid tussen Luther en Zwingli oor die Nagmaal.


Daar was 14 punte op die agenda van die godsdiensgesprekke van Marburg. Één debatspunt het in die historiese geheue vasgesteek, naamlik die vraag of Christus werklik liggaamlik teenwoordig is by die Nagmaal. Luther het volhard dat daar geskryf staan dit is my liggaam. Zwingli het geargumenteer dat daar slegs van ’n simboliese teenwoordigheid sprake kan wees.