Een van die belangrikste intellektuele bewegings van die 1500’s, wat die reformasie moontlik gemaak het, was die Renaissance.
En een van die belangrikste denkers van hierdie was Desiderius Erasmus. Hy was ’n professor in Grieks en Hebreeus by die Universiteit van Oxford en sy gunsteling tydverdryf was om deur Europa te reis op soek na oorspronklike Griekse manuskripte van die Nuwe Testament.
In daardie tyd was teoloë afhanklik van die Vulgaat – die Latynse teks van die Bybel. Daar was eenvoudig geen ander teks beskikbaar nie. Daar was ook nie ’n volledige Griekse teks van die Nuwe Testament nie. Hierdie manuskripte het verspreid gelê in kloosters regoor Europa en die Mediterreense streke – die vrug van die arbeid van priesters wat die tekste met die hand gekopieer het.
Erasmus, wat ’n baie welvarende man was, het hierdie teks opgekoop en bymekaargemaak en in 1516 die Novum Testamentum Omne gepubliseer. Vir die eerste keer in ’n hele paar eeue hoef teologiese navorsers nie op ’n vertaalde teks van die Bybel staat te maak nie, maar kon hulle teruggaan na die oorspronklike teks!
Dit was natuurlik in lyn met een van die sentrale waardes van die Renaissance: Ad Fontes – terug na die bron van die fontein. Vir die reformasie het dit beteken dat daar verby die tradisie gekyk moes word, na die oorspronklike betekenis van die Woord.
As daar nie ’n Erasmus en sy Griekse teks was nie, was daar dalk nooit ’n Luther en ’n Sola Scriptura nie!