Wanneer daar vandag oor die opstanding van Christus geskryf word, word in die meeste gevalle gekonsentreer op die vraag of dit ’n werklike historiese gebeurtenis was. Tydens die leeftyd van Martin Luther was die opstanding van Christus en die verwagting van die opstanding van die ontslapenes aan die einde van die tye nie vrae wat krities gedebatteer is nie. Gedurende die laat-Middeleeue is die historisiteit van hierdie gebeure en verwagting nie bevraagteken nie. Kritiese vrae oor die historisiteit van die opstanding word eers sedert die Verligting (ongeveer 1650-1800) gevra. Luther het as kinderlike gelowige geglo dat die opwekking van Jesus ’n historiese feit is en dat die wederkoms en eindoordeel histories verwag moet word. Read more >>
Die doen van groot en baie werke
Almal weet dat die wêreld oor die laaste 500 jaar dramaties verander het. Ten spyte van al die uiterlike veranderinge, is daar tog sekere dinge wat dieselfde bly. 500 jaar gelede moes Luther die kerk opnuut oortuig dat jou regverdiging of saligheid nie afhang van baie godsdienstige pligpleginge nie. Hy het die kerk opnuut bewus gemaak van Paulus se stelling dat ’n mens deur die geloof alleen gered word (Rom 1:17). Vandag word ons al meer en meer aan die ou dwaling waarteen Luther gewaarsku het, blootgestel. Verlede jaar sê ’n predikant op ’n ringsvergadering dat die enigste kans wat die Kerk op oorlewing het, is om baie spoedig baie goeie werke te doen. Read more >>
Feit en fiksie oor die kerkdeur(e) van Wittenberg
In die vorige artikel is gesuggereer dat die “vasspyker van die 95 stellings teen die kerkdeur van die kasteelkerk in Wittenberg” moontlik fiksie kan wees. Sou hierdie vermoede bevestig kon word, het dit groot implikasies vir die feesvieringe van 2017. Die Duitse kerkhistorici wat toegang het tot die argiewe in plekke soos Wittenberg, Mainz en Halle, het vanselfsprekend gedurende die laaste twee jaar weer intensiewe navorsing gedoen oor hierdie “verleentheid”. Ek deel graag die bevindings van twee leidinggewende navorsers, te wete Volker Leppin (Tübingen) en Armin Kohnle (Leipzig). Eers iets oor die herkoms van die debat.
Rooms-Katolieke navorsing
Vir meer as 400 jaar is 31 Oktober 1517 as die geboortedag van die Reformasie beskou. Read more >>
Die verborge en die geopenbaarde God
Martin Luther het in 1525 een van sy hoofgeskrifte onder die titel Oor die onvryheid van die wil / De servio arbitrio gepubliseer. Hy het maande lank aan hierdie werk geskryf – onder andere omdat hy in dieselfde jaar in die huwelik getree het en met ’n huishouding moes begin. In hierdie boek het hy aan ’n paar moeilike vraagstukke aandag gegee, soos die sonde, die menslike wil en die Bybelse Godsbegrip. Ons gee hier aandag aan die Christelike verstaan van God. Voordat ons daarby kom, eers ’n paar opmerkings oor die agtergrond van hierdie werk.
Die “diatribe” de libero arbitrio van Erasmus van Rotterdam (1524)
Geert Geerts, algemeen bekend as Erasmus van Rotterdam (1466-1535), was een van die grootste geleerdes van die laat-Middeleeue. Read more >>
Die lees van die Bybel en teologiebeoefening
Danksy Martin Luther het die Bybel weer die sentrale fokuspunt in kerk en teologie geword. Die feit dat die Afrikaanse kerke daarop roem dat hulle, getrou aan die Reformasie, baie aandag aan die Bybel gee, beteken nie dat hulle werklik besig is met die inhoud van die Bybel nie. Wanneer “die wandel in die Woord” by die opening van vergaderings baie duidelik met manipulasietegnieke verband hou, weet jy dat mense nie met die Woord gekonfronteer wil word nie, maar dat die Woord bloot ingespan word vir eie agendas. Wanneer teoloë met temas besig is wat nie regtig in die Bybel voorkom nie, soos sin en die soeke na sin, weet jy dat die inhoud van die Bybel vir hulle nie van groot belang is nie. Read more >>
Die 95 stellings oor die aflaat
Daar word gereeld in kerklike literatuur verwys na die “die 95 stellings oor die aflaat” wat Martin Luther op 31 Oktober 1517 teen die deur van die “kasteelkerk” in Wittenberg sou vasspyker. Die oorspronklike geskrif in Luther se handskrif is verlore. Wat ons wel het, is ’n Latynse teks wat in 1517 deur Hieronymus Höltzel in Nürnberg gepubliseer is – wat ons vermoed ná aan die oorspronklike moet wees. Die volledige titel lui: Disputasie ter opheldering van die krag van die aflate / Disputatio pro declaratione virtutis indulgentiarum. Om feit van fiksie te onderskei, moet geweet word wat in die aanhef van hierdie 95 stellings staan. Read more >>
Oor die vryheid van ’n Christenmens
Vryheid is naas regverdiging een van die sentrale begrippe waarmee Martin Luther gewerk het. In die hedendaagse Luther-navorsing word Reformatoriese teologie dikwels getipeer as vryheidsteologie. Indien ’n mens dus wil weet wat Luther ten diepste geleer het, moet ’n mens gaan kyk wat hy oor vryheid geleer het. Met behulp van die begrip vryheid het hy verduidelik waaroor die Nuwe-Testamentiese boodskap handel.
Die vryheidsgeskrif van 1520
In 1520 het Luther op 37-jarige ouderdom, in Duits vir die kerkvolk, een van sy invloedrykste werke onder die titel Oor die vryheid van ’n Christenmens / Von der freyheyt einiß Christenmenschen geskryf. Hy het hierdie werk blykbaar dadelik in Latyn vertaal (die amptelike taal van kerk en universiteit in daardie tyd) en dit met ’n begeleidende brief aan die pous gestuur. Read more >>
Die lyding van Jesus Christus
Luther het gedurende die Lydenstyd van 1519 ’n “preek” (Sermon) oor die lyding van Christus gepubliseer. Hierdie “preek” is egter veel meer as ’n preek soos wat ons dit vandag ken. Die inhoud is wel aanvanklik gebruik vir ’n gewone preek binne gemeenteverband, maar dit is uitgebrei en omskep tot ’n kort artikel van agt bladsye. 2 000 van Luther se preke het behoue gebly, maar hy het dit nie self neergeskryf nie. Die diaken Georg Rörer het Luther se preke na afloop van eredienste uitgeskryf met gebruikmaking van Luther se notas. Talle korter geskriffies word wel “preke” genoem, om aan te dui dat die inhoud van die “boekies” of “traktate” vanuit preke ontwikkel het. Read more >>
Martin Luther en die derde artikel van die heiliging
Die predikante van ons ring het my versoek om op ʼn pastorale wyse, vanuit Luther se teologie, met hulle te praat oor die nood wat hulle as predikante ervaar. Hierdie nood word geskep deur die spanning waarbinne hulle vasgevang is tussen voortgaande pligpleginge en toekomsangs. Aan die een kant moet hulle voortgaan om hulle gemeentelike verantwoordelikhede na te kom, en aan die ander kant word hulle gekonfronteer met die aanhoudende stroom inligting oor die agteruitgang van gemeentes. Hulle vraag is eenvoudig: Moet ons in die bediening bly en voortgaan om met hoop en vreugde die Woord te bedien, of is dit tyd om ʼn ander beroep te betree? Read more >>
Redaksioneel
500 jaar Reformasie! Die Tydskrif vir Hervormde Teologie neem met graagte deel aan die feesvieringe. Al die uitgawes van 2017 word aan die herdenking van die Reformasie gewy.
Hierdie eerste uitgawe bestaan uit artikels wat Natie van Wyk gedurende 2016 vir die gesinstydskrif Konteks geskryf het. Read more >>